Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Morkel wil skouer wees om op te huil

Vir ’n vlugflou Morné Morkel was dit Dinsdagoggend so half onwerklik toe hy ná ’n vlug van 14 ure lank uit Sydney met sy krieketsak by SuperSportpark in Centurion opgedaag het vir ’n netoefening.

Morné Morkel soos die Tshwane Spartans hom sal wil sien. Foto: Getty Images

“So goed soos dit was om weer terug te wees, het dit ook so half vreemd en onwerklik gevoel. Ek voel ek het onvoltooide sake om hier af te handel. Ek wou verlede jaar hier vir die Titans kom speel, maar as Kolpak-speler was dit nie moontlik nie.

“Toe ek vanoggend hier instap, het daar soveel goeie herinneringe teruggekom,” het dié gewese snelbouler van die Suid-Afrikaanse span gesê.

Hy gaan as Kolpak-speler vir die Tshwane Spartans in vanjaar se tweede reeks van die Mzansi-superliga (MSL) speel.

“Ek is baie bly ek gaan tyd saam met jong boulers soos Wiaan Mulder, Lungi Ngisi en Lutho Sipamla deurbring om hulle van raad te bedien.

“Ek wil soos ’n skouer vir hierdie spelers wees om op te huil en om met hulle oor die spel te praat en raad te gee. Dit gaan nie nodig wees om hulle met ’n lepel te voer nie.

“Hulle moet weet dit is goed om foute te maak en dat jy nie altyd perfek kan wees nie. Jy moet leer daaruit wanneer dinge skeefloop.

“Hier by die Spartans is daar soveel van my oud-Titans-maats dat dit eintlik net een braai en een rondte gholf saam gaan neem om ons weer in ’n hegte eenheid saam te snoer,” sê Morkel.

Volgens hom is daar nou heelwat onervarenheid in die Suid-Afrikaanse boulaanval, maar dat daar gewerk moet word aan die regte kombinasies en om die boulers hul voete te laat vind.

As iemand wat vir Surrey in die Engelse graafskapsliga speel, is hy goed vertroud met krieket in albei lande.

Wat die komende reeks tussen die Proteas en Engeland betref, sê hy Engeland se krieket is op ’n baie hoë vlak.

“In internasionale krieket is daar nêrens om weg te kruip nie. Ek glo dat selfs al het Suid-Afrika met die sterk span van ’n paar jaar gelede Indië toe gegaan, sou hulle nie sommer daar gewen het nie.

“Engeland het ’n baie goeie boulaanval en hoewel sommige sal sê hul top-kolforde kan broos wees, dink ek nie sommer so nie. Ek speel saam met Rory Burns (die aanvangskolwer) by Surrey en was bietjie skrikkerig oor sy kans teen die Aussies, maar hy het goed vertoon en werk baie hard aan sy spel.

“Daar is ook twee goeie jong spelers in Don Sibley en Zack Crawley wat in die top-orde gebruik kan word en as hulle vir Joe Root op drie laat kolf en Ollie Pope op vier, sal hulle stewig wees,” glo hy.

Morkel vertel ook hoe selfs ’n graafskapswedstryd op Scarborough voor 6 000 toeskouers soos ’n toets kan voel. “Die atmosfeer daar is ongelooflik. Soms speel jy graafskapskrieket voor soveel as 9 000 toeskouers.”

Ek het heelwat opmerkings daaroor gekry met my Bok-trui, maar in die geheel was die meeste van die Aussies daar Bok-ondersteuners.

Het hy Saterdag die Wêreldbeker-eindstryd gekyk?

“Ja, ek het my Springboktrui aangetrek en in ’n kroegie in Sydney gaan kyk. Ek het heelwat opmerkings daaroor gekry met my Bok-trui, maar in die geheel was die meeste van die Aussies daar Bok-ondersteuners,” vertel hy.

Meer oor:  Mslt20  |  Mzansi-Superliga  |  Msl  |  Morné Morkel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.