Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Thabang Moroe pluk ’n haas uit hoed

Ná ’n gesloer van nege maande moet Thabang Moroe Donderdag oplaas voor Krieket Suid-Afrika (KSA) se raad verskyn om te verduidelik waarom hy nie as uitvoerende hoof afgedank moet word nie . . . maar hy is nie van plan om dít te doen nie.

Moroe se regspan, onder leiding van Michael Motsoeneng, sê hulle het Vrydagoggend ’n brief aan KSA gestuur waarin hulle die beheerliggaam in kennis gestel het dat hul kliënt aandring op ’n tugverhoor onder leiding van ’n onafhanklike voorsitter. Moroe is in Desember geskors vir beweerde pligsversuim hangende die uitslag van ’n forensiese ondersoek na KSA-bestuurspraktyke.

Thabang Moroe moet antwoord op agt klagte teen hom, maar weier om voor KSA se raad te verskyn, omdat hy nie die indiensnemingskontrak waarin dit vereis word onderteken het nie. Foto: Gallo

Hy en sy regspan glo hy is volgens die brief wat hom op 24 Januarie amptelik van sy skorsing ingelig het, geregtig op ’n onafhanklike tugverhoor.

As KSA nie teen Dinsdagoggend 10:00 gehoor gee nie, sal Moroe “alle regsopsies tot sy beskikking” uitvoer om te verseker hy kry die kans om voor ’n onafhanklike tugkomitee te verskyn, “soos wat KSA onderneem het,” sê Sharlyn Geza, ’n lid van sy regspan van Motsoeneng Bill Attorneys.

KSA het ook Vrydag aan Rapport bevestig dat Moroe vandeesweek voor die raad moet verskyn. Agt klagte is ná aanleiding van Fundudzi Forensic Auditors se forensiese verslag teen Moroe gemaak. KSA wou nie sê wat die klagte is nie en kan nie “kommentaar lewer oor prosesse en prosedures” nie.

Geza sê KSA het op 22 Julie vir Moroe ’n kennisgewing gestuur dat daar gronde vir sy afdanking is, waarin die agt klagte vervat is.

Sy regspan skop egter vas teen die kennisgewing met die gronde vir afdanking en sê KSA volg nou ’n roete wat in ’n klousule van sy indiensnemingskontrak vervat is, maar dat Moroe inderwaarheid nooit die kontrak onderteken het nie. Moroe is in Julie 2018 as die uitvoerende hoof aangestel.

“Volgens dié klousule kan die raad vir hom kennisgewing gee dat daar gronde vir afdanking is, en hom dan ontbied om voor die raad te verskyn om sy kant te stel,” sê Geza.

Hy glo hy kan die klagte teen hom verdedig, mits hy voor ’n onafhanklike voorsitter van ’n tugkomitee verskyn.

Maar, sê Geza, omdat sy kontrak nie onderteken is nie, kan die klousule nie van krag gemaak word nie.

Wat Moroe se regspan dus eis, is dat KSA die proses moet volg wat die beheerliggaam op 24 Januarie uitgestippel het – naamlik dat Moroe aan ’n tugverhoor onderwerp sal word nadat die forensiese ondersoek afgehandel is.

Die forensiese ondersoek is reeds aan die einde van Junie afgehandel en aan KSA se lederaad oorhandig, maar is nie aan die publiek beskikbaar gestel nie.

Geza sê daar sou ’n botsing van belange wees indien die raad, en nie ’n onafhanklike tugkomitee nie, oor Moroe se lot moet besluit. Daar is ’n moontlikheid dat die raad ook in die forensiese ondersoek geïmpliseer is.

“As hulle wil voortgaan met hul plan om hom op die 13de Augustus te sien, sal ons die nodige aksie neem om seker te maak ons kliënt verskyn nie voor ’n raad met botsende belange nie.”

Moroe se doelwit is glo om terug te keer werk toe en sy regspan glo hulle het ’n sterk genoeg saak om dit te kan afdwing.

“Hy glo hy kan die klagte teen hom verdedig, mits hy voor ’n onafhanklike voorsitter van ’n tugkomitee verskyn.”

Geza sê selfs al het Moroe volgens hul verweer nooit sy kontrak onderteken nie, is hy steeds ’n werknemer van KSA en is hy steeds geregtig op sy vergoeding. Moroe is met sy volle salaris – wat na bewering R350 000 per maand beloop – geskors.

Jacques Faul

KSA wou nie gister reageer op ’n navraag oor of Moroe destyds wel sy kontrak geteken het nie. “Jy kan nie voortgaan en ons al hoe meer en meer vrae vra nie,” het ’n woordvoerder geantwoord nadat hy vroeër ander navrae beantwoord het.

Toe hy daarop gewys is dat Rapport KSA graag ’n kans wil gee om op die spesifieke vraag oor die kontrak te reageer, het hy geantwoord: “Daar is geen waarborg dat dit nie gaan lei tot nog ’n vraag van jou nie.”

Tog sal KSA hoop om die saak vinnig op te los, want die waarnemende uitvoerende hoof, Jacques Faul, gaan nie langer as 15 September aanbly nie.

KSA het Vrydag aan Rapport gesê die kwessie oor Faul se termyn sal die komende naweek op die raadsvergadering bespreek word.

“Die plan (rondom die pos van uitvoerende hoof) sal daarna aangekondig word.”

Een opsie is glo dat die regshoof en sekretaris, Welsh Gwaza, waarneem totdat daar uitsluitsel oor Moroe se saak is.

Belanghebbendes in krieketkringe is bekommerd oor wat die onsekerheid van Faul se vertrek aan die spel kan doen.

KSA is boonop reeds deur een gegriefde werknemer, die geskorste bedryfshoof, Naasei Appiah, arbeidshof toe gesleep.

Clive Eksteen

Nog ’n oudwerknemer, Clive Eksteen, is besig met ’n saak teen KSA by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie.

Net voor Moroe se skorsing verlede jaar het borge onttrek oor sy beweerde wanbestuur. Moroe het ’n swak verhouding met die spelersvereniging (Saca) gehad, wat KSA wou hof toe vat oor die beplande herstrukturering van plaaslike krieket.

Faul het die verhouding met Saca herstel en die vereniging het sy hofsaak laat vaar. Faul het ook nuwe borge, soos Betway, aan boord gekry. Die vrees is dat die goeie werk wat hy gedoen het, ongedaan gemaak kan word, sou die onsekerheid voortsleep.

Meer oor:  Ksa  |  Thabang Moroe  |  Skorsing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.