Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Moroe-saak ‘kan nog lank sloer’
Thabang Moroe is volgens Krieket Suid-Afrika se raad steeds geskors, hangende die uitslag van ’n forensiese ondersoek na beweerde wanbestuur.Foto: Gallo Images

Hoewel Krieket Suid-Afrika (KSA) in ’n middernagtelike verklaring beloof het dat daar vandeesmaand meer duidelikheid en sekerheid sal wees oor die toekoms van Thabang Moroe, die beheerliggaam se geskorste uitvoerende hoof, kan dié sage nog ’n hele ruk duur.

Andrew Breetzke, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Spelersvereniging (Saca), het sy bedenkinge of dinge gou op die spits gedryf gaan word. Hy is bekommerd omdat dié aangeleentheid nie vroeër – ná al die dramas in Suid-Afrikaanse krieket – voorkeur geniet het nie en dat daar nou opnuut onsekerheid heers.

Moroe is reeds aan die begin van Desember voorlopig met sy volle salaris geskors hangende ’n ondersoek na beweerde wanbestuur.

Hy het Donderdagoggend rimpelings veroorsaak toe hy by sy kantoor opgedaag het, nadat sy skorsing volgens hom en sy regspan verstryk het.

KSA het intussen in ’n verklaring benadruk sy skorsing is steeds van krag.

Moroe het na verneem word nie Vrydag weer gaan werk nie.

Die feit dat hy die vorige dag by die werk opgedaag het, was volgens sommiges dalk netjies georkestreer. Dit het tot ’n dringende direksievergadering gelei, waarna KSA kort ná middernag ’n mediaverklaring uitgereik het.

“Die raad wil dit duidelik stel dat die uitvoerende hoof in Desember 2019 geskors is hangende die uitslag van ’n onafhanklike forensiese ondersoek na bestuurspraktyke by KSA. Die brief aan die uitvoerende hoof het dit uitdruklik gestel dat hy geskors is totdat die ondersoek afgehandel is.”

KSA sê dié ondersoek is nog nie voltooi nie en dat Moroe daarom steeds geskors is.

Enige bewering dat sy skorsing vir ’n voorafbepaalde tydperk was, is sonder grondslag.
Andrew Breetzke

“Enige bewering dat sy skorsing vir ’n voorafbepaalde tydperk was, is sonder grondslag.

“Die forensiese ondersoekers het aangedui dat hul verslag op hande is.”

Breetzke is egter nie so seker hieroor nie. “Ons het in KSA se verklaring opgemerk hulle noem dat die verslag daaroor aan die kom is.

“Dinge is daarom dalk nog ver van klaar. As ’n klag nou ingedien word, sal dit ook nog ’n geruime tyd neem om af te handel, soos gesien is met die sake van ander werknemers van KSA.”

Andrew Breetzke

Breetzke verwys hier na die tugsake wat daar teen Corrie van Zyl, Clive Eksteen en Naasei Appiah was. Hulle is geskors oor beweerde pligsversuim oor beeldreg-vergoeding vir spelers in die Mzansi-liga. Van Zyl se saak is afgehandel. Hy is terug by die werk, maar daar is nog nie finaliteit oor Appiah-hulle nie.

Chris Nenzani, president van KSA, kan hom intussen ook vet smeer nadat ’n aanlyn gesprek met die media vir Dinsdag bevestig is.

Hy sal moet verduidelik wat alles in die laaste ses maande onder sy leiding gedoen is en hoekom sake dan so gesloer het.

KSA het in sy verklaring daaraan geraak en ook teruggekap oor van die beweringe wat Moroe se prokureur in die media gemaak het.

KSA sê die raad sal die Moroe-verslag met ontvangs nagaan en sal vinnig optree as daar dissiplinêre aksie teen Moroe geneem moet word, sodat die aangeleentheid so gou moontlik afgehandel kan word.

KSA sê die kwessie bly ’n saak van die grootste belang vir die raad.

Die raad wil alle belanghebbendes en die publiek verseker dat die aangeleentheid al die aandag kry wat dit verdien.

“Die raad wil alle belanghebbendes en die publiek verseker dat die aangeleentheid al die aandag kry wat dit verdien.”

Die direksie behartig dit met sorg om te verseker dat die regte proses te alle tye gevolg word.

“Die raad is vol vertroue dat die ondersoek tot ’n punt kom en dat daar voor die einde van Junie meer duidelikheid en sekerheid verskaf sal word.”

Meer oor:  Andrew Breetzke  |  Thabang Moroe  |  Johannesburg  |  Ondersoek  |  Geskors  |  Krieket  |  Saca  |  Ksa  |  Uitvoerende Hoof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.