Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Morris: ‘Ek wil nog vir Proteas speel’

Chris Morris het homself beskikbaar gestel vir die Proteas en glo hy kan nog ’n bydrae tot die T20-span lewer, veral wat sy boulwerk in die doodsnikbeurte betref.

Dié veelsydige speler is nie deur Krieket Suid-Afrika (KSA) of die Titans gekontrakteer nie, maar het Woensdag sy begeerte uitgespreek om vir Suid-Afrika te speel. Hy het boonop sy visier gerig op ’n plek in die groep vir die T20-Wêreldbekertoernooi (T20-WB) in Oktober en November in Australië.

Chris Morris was Suid-Afrika se beste bouler by die Wêreldbeker-toernooi verlede jaar in Engeland. Foto: Getty Images

“Daar is geen rede waarom ek nie meer vir Suid-Afrika sal wil speel nie,” het Morris (32) aan Netwerk24 gesê.

“Hopelik gebeur dit ná die Indiese Premierliga (IPL, van 29 Maart tot 24 Mei), maar ek het nog nooit daarop aangedring dat ek gekies word nie.

“Dit hang seker af van watter formaat ek sal speel en op die oomblik glo ek dit sal T20-krieket wees.

“Die laaste keer dat ek vir Suid-Afrika gespeel het, was by die WB-toernooi (verlede jaar in Engeland). Die laaste keer dat ek T20’s vir Suid-Afrika gespeel het, was verlede jaar teen Sri Lanka en Pakistan en ek het goed gevaar.”

Netwerk24 het vroeër berig Morris, AB de Villiers en Imran Tahir, almal spelers wat nie deur KSA gekontrakteer is nie, kan ná die IPL hul terugkeer tot die Protea-span maak. Mark Boucher, die Protea-afrigter, het dit Dinsdag by ’n geleentheid in Bloemfontein bevestig.

“Ons het besluit om die ‘vrye agente’ in die IPL te laat speel en gevra dat hulle hulself daarna beskikbaar sal stel,” het Boucher volgens cricket.com.au gesê.

“Van 1 Junie af, wat tydens die toer na Sri Lanka sal wees (wat nog bevestig moet word), moet daardie ouens hulself beskikbaar stel. Of hulle gekies gaan word, is ’n ander storie.

“Maar hulle moet hulself beskikbaar stel as hulle in aanmerking wil kom vir ’n WB-plek.”

De Villiers het reeds sy begeerte uitgespreek om ’n terugkeer vir die skouspel te maak, so die kans is skraal dat hy homself nie beskikbaar sal stel nie. Ditto Tahir. Morris se beskikbaarheid is nou ’n uitgemaakte saak.

“Ek het reeds met Bouch gepraat en ons het dít bespreek wat hy Dinsdag (in Bloemfontein) gesê het – dat ek myself beskikbaar gaan stel ná die IPL.

As hulle my nodig het, sal ek speel. Maar daar is ander ouens wat gekontrakteer is, wat voorrang kry.
Chris Morris

“As ek gekies word, sal ek uiteraard speel. Dis egter nie ’n gegewe dat ek gekies gaan word nie en daar is baie ouens wat onlangs goed vertoon het. Ek gaan nie net in die span instap nie.”

Morris se veelsydigheid en doodsnikboulwerk kan van groot waarde wees. Laasgenoemde is ’n gebied waarin Suid-Afrika onlangs wisselvallig was.

“Dit is een van my groot sterkpunte en ek glo ek kan daarmee ’n bydrae lewer. Ek hou daarvan om streepballe te boul,” sê Morris.

Hy het onlangs in die Australiese Big Bash-liga geskitter en die reeks as die tweede voorste paaltjievraat afgesluit, met 22 slagoffers in 15 wedstryde.

By die WB-toernooi in Engeland was hy die Protea wat die meeste paaltjies (13) platgetrek het. Hy het dit teen ’n gemiddeld van 26.23 gedoen en 5.35 lopies per beurt afgestaan.

Hy was puik in sy laaste twee T20-reekse vir Suid-Afrika. Verlede jaar teen Sri Lanka het hy 3/32 in die eerste wedstryd ingeoes. In die reeks teen Pakistan het hy syfers van 2/39, 2/36 en 2/27 behaal en ’n beurt van 55* in die laaste wedstryd gespeel.

Ná vanjaar se Big Bash-liga het hy ’n blaaskans van twee weke geniet en nou oefen hy weer saam met die Titans, maar verwag nie om daar speelkans te kry nie.

“As hulle my nodig het, sal ek speel. Maar daar is ander ouens wat gekontrakteer is, wat voorrang kry. Spankeuses is ook moeilik met die teikens en die feit dat daar net plek vir vyf wit spelers is.”

Meer oor:  Chris Morris  |  Proteas  |  T20-Wêreldbeker  |  Titans  |  Krieket  |  Ksa  |  T20
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.