Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Morris koes vir vrae oor SA toekoms
Chris Morris stuur vandeesweek ’n kartets vir die Titans af in ’n T20-stryd teen die Lions in Durban. Foto: Gallo Images

Sy laaste gesprek met iemand van die Proteas se keurpaneel was tydens 2019 se Wêreldbeker-toernooi.

Niemand het hom intussen weer genader sedert hy tóé die roete van ’n internasionale T20-huursoldaat gekies het nie.

So sê Chris Morris, wat Donderdag moes bontstaan vir vrae of hy nog gewillig is om weer vir die Proteas te speel.

Morris (33) het verlede week op die veiling vir vanjaar se Indiese Premierliga (IPL) die grootste bod in die geskiedenis van dié toernooi gekry. Die Rajasthan Royals het ’n yslike R32,5 miljoen vir sy dienste vanjaar opgedok.

Die multimiljoenrand-man het die media Donderdag te woord gestaan nadat hy sedert die aankondiging oorval is vir kommentaar.

Hy was egter ontwykend in sy antwoorde oor ’n moontlike terugkeer vir die Proteas, veral in die lig van die T20-Wêreldbeker-toernooi (T20-WB) wat later vanjaar voorlê.

Morris het telkens geantwoord die Titans, vir wie hy tans in die plaaslike T20-reeks in Durban speel, is sy prioriteit.

“Dis ’n moeilike vraag, ek dink ek sal die gesprek voer wanneer dit opkom,” was Morris se antwoord toe hy gevra is of sy deur nog oopstaan vir nasionale diens.

Ek dink nie eens daaraan nie, dis ’n probleem vir die toekoms, dis nie op die oomblik my probleem nie. My probleem nou is om die Titans oor die lyn te kry.
Chris Morris

“Ek dink nie eens daaraan nie, dis ’n probleem vir die toekoms, dis nie op die oomblik my probleem nie. My probleem nou is om die Titans oor die lyn te kry.”

Morris was in 2019 aanvanklik nie in die Wêreldbeker-span nie en is slegs betrek toe Anrich Nortjé hom met ’n duimbesering aan die Proteas se groep moes onttrek.

Ottis Gibson, voormalige Protea-breier, het ’n nuwe heenkome in Bangladesj gevind. Foto: Gallo Images

Hy sê hy was oor die jare in heelwat gesprekke , maar die laaste was net voor die WB-toernooi, met Ottis Gibson, destydse breier van die Proteas.

“Dis waar die besluit vir my gemaak is om in ligas wêreldwyd te gaan speel en te doen wat ek voel die beste vir my as krieketspeler en die beste vir my in my loopbaan is.

“Die gesprek toe was dat ek sou aanbeweeg (met sy loopbaan) en dit was die einde daarvan. Dit was ’n rukkie gelede, dis die laaste keer dat ek in so ’n gesprek was.”

Morris sê die enorme bod verlede week was vir hom ’n groot verrassing.

Hy noem dat hy kort voor dit nog met Allan Donald, afrigter van die Knights, staan en gesels het by ’n Titans-oefening en gesê het dit maak nie saak wat gebeur nie, hy wil net weer inkom en in die IPL speel.

Morris hoop intussen om volgende seisoen met die nuwe struktuur vir plaaslike krieket vir Noordelikes te speel. Sy pa, Willie, het destyds vir dié provinsie, toe dit nog as Noord-Transvaal bekend was, gespeel.

Meer oor:  Chris Morris  |  Suid-Afrika  |  Indie  |  Pretoria  |  Ipl  |  Krieket  |  Ksa  |  Proteas  |  Titans  |  Kontrak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.