Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Morris nie na T20-WB, vrae oor Faf bly draai
Faf du Plessis se deelname aan die T20-Wêreldbeker-toernooi hang aan ’n draadjie. Foto: Gallo Images

Chris Morris gaan hom nie beskikbaar stel om later vanjaar vir die Proteas in die T20-Wêreldbeker-toernooi (T20-WB) te speel nie.

Die insluiting van Faf du Plessis in die span vir die T20-WB, wat in Oktober in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) en Oman begin, hang ook aan ’n draadjie.

Victor Mpitsang, die Proteas se hoofkeurder, het by navraag oor Morris se beskikbaarheid bloot gesê: “Hy’s nie oorweeg vir die reeks teen die Wes-Indiese Eilande nie.”

Toe Mpitsang gevra is of Morris nog beskikbaar is om vir die T20-WB gekies te word, het hy geantwoord: “Ek dink hy is.”

Netwerk24 verneem egter Morris het reeds besluit hy wil nie verkiesbaar wees nie, maar hy wil dit nie in die openbaar bekend maak nie. Morris het nie op boodskappe gereageer nie.

Chris Morris wil hom glo nie beskikbaar stel om vir die Proteas gekies te word nie. Foto: Gallo Images

Morris word gesien as ’n sogenaamde vrye agent – ’n speler wat nie ’n kontrak met Krieket Suid-Afrika (KSA) het nie en in T20-glansligas oor die wêreld heen speel, soos in die Indiese Premierliga (IPL).

Nes Morris is Du Plessis ’n vrye agent. Netwerk24 verneem Du Plessis sal nie in die Proteas se volgende reeks – wat uit drie T20-wedstryde in Sri Lanka in September bestaan – speel nie.

Du Plessis en KSA probeer mekaar nog heeljaar vind oor ’n moontlike manier hoe die voormalige Protea-kaptein by die T20-span betrokke kan wees.

Hy is aanvanklik weggelaat uit die groep vir die vyf T20-wedstryde teen die Windies omdat daar nog onderhandelinge tussen hom en KSA oor ’n vergoedingspakket was. Dit het daaruit gespruit dat Du Plessis nie meer ’n nasionale kontrak het nie.

As hy dus na die Windies sou reis, sou hy slegs wedstrydgeld ontvang, wat ongeveer R12 500 per T20-wedstryd beloop. Netwerk24 verneem dat KSA en Du Plessis toe wel tot ’n vergelyk gekom het en hy sou ’n spesiale vergoedingspakket kry – waarskynlik ’n aangepaste KSA-kontrak omdat die beheerliggaam nog net 16 van sy 17 beskikbare kontrakte toegeken het.

Voordat Du Plessis egter by die span in die Karibiese Eilande kon aansluit, het hy harsingskudding opgedoen in die Pakistanse Superliga – ’n besering waarvan hy steeds herstel. Du Plessis wou ook tyd saam met sy gesin deurbring.

Hy was glo bereid om in die reeks teen Sri Lanka te gaan speel, maar daar word verneem dat die kans daarvoor nou skraal is.

Mpitsang is gevra of daar planne is om Du Plessis terug in die span te kry, waarop hy bloot geantwoord het: “Ja.”


Mpitsang is gevra of daar planne is om Du Plessis terug in die span te kry, waarop hy bloot geantwoord het: 'Ja.'

Toe hy gevra is of Du Plessis moontlik in die groep vir die reeks in Sri Lanka kan wees, het hy gesê: “Die groep is nog nie gekies nie.” Daarna het hy nie verder op boodskappe gereageer nie.

Du Plessis is tans in Engeland, waar hy hoop om betyds van sy harsingskudding te herstel om die Northern Superchargers Saterdag in hul eerste wedstryd van die Hundred-toernooi teen die Welsh Fire aan te voer.

Ná The Hundred gaan Du Plessis die St. Lucia Zouks in die Karibiese Premierliga aanvoer, wat van 26 Augustus tot 15 September duur. Dit oorvleuel met die Proteas se toer in Sri Lanka.

Daarna reis Du Plessis na die VAE vir die voltooiing van die IPL.

Sy skedule is dus vol, maar daar word verneem dat hy steeds graag in die T20-WB wil speel. Dit lyk tans onwaarskynlik.

Wat wel seker is, is dat Morris nié vanjaar vir die Proteas in aksie sal wees nie.

Meer oor:  Victor Mpitsang  |  Chris Morris  |  Faf Du Plesiss  |  Suid-Afrika  |  Krieket  |  Ksa  |  Proteas  |  T20-Wb
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.