Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Chris Morris se 50-tal pure verniet
Chris Morris op pad na sy onoorwonne vyftigtal. Foto: AP

Die Proteas se jong, onervare kolflys is Woensdagaand in Centurion liederlik deur die gedissiplineerde boulwerk van Pakistan ontbloot in die derde en laaste T20-wedstryd tussen die twee spanne.

Suid-Afrika is tot slegs 141/9 in sy 20 beurte beperk in antwoord op Pakistan se haalbare telling van 168/9. Die besoekers het die wedstryd met 27 lopies gewen en die reeks eindig sodoende met 2-1 in die tuisspan se guns.

Buiten Chris Morris (55*, 29 balle) en Rassie van der Dussen (41, 35 b) was die Protea-kolwers soos lammers ter slagting teen Pakistan se boulers.

Suid-Afrika se jaagtog het vroeg reeds ’n knou weg gehad toe Reeza Hendricks (5) in die tweede boulbeurt terug kleedkamer toe is. Janneman Malan (2) het kort ná hom gevolg, met Heinrich Klaasen (2) wat ook nie kon hond haaraf maak teen Pakistan se aanvangsboulers, die draaier Imad Wasim (1/19 in vier boulbeurte) en die indrukwekkende jong sneller Shaheen Afridi (1/23 in vier bbe.), nie.

Mohammad Amir (3/27 in vier bbe.) was ook skitterend.

Toe Morris laat in die beurt ’n paar houe begin speel het, was dit reeds te laat.

Beuran Hendricks word deur sy kaptein David Miller omhels nadat hy een van sy vier paaltjies platgetrek het. Foto: AP

Morris sal wel tevrede voel met sy persoonlike vertoning, nadat hy ook goed geboul het en met syfers van 2/27 in vier beurte geëindig het. Sodoende het hy ook vir die keurders ’n boodskap gestuur om nie van hom te vergeet wanneer hulle praat oor die veelsydige spelers vir die Wêreldbeker-groep nie.

Benewens Morris en Van der Dussen se vertonings, het die linkshandige sneller, Beuran Hendricks, ook ’n puik wedstryd beleef.

Hy het met skitterende syfers van 4/14 in sy vier boulbeurte geëindig nadat Suid-Afrika die loot gewen en besluit het om eerste te kolf.

Pakistan se veelsydige draaier Shadab Khan het die wedstryd vir sy span geswaai met ’n blitzkrieg in die laaste boulbeurt.

Khan (22*, 8 balle; 3x6) het drie sesse in dié boulbeurt van Andile Phehlukwayo se boulwerk getimmer.

Khan was ook goed met die bal en het 2/34 in sy vier beurte platgetrek.

Ondanks Khan se warrelwindbeurt, moes ’n teiken van 169 nie ’n té groot uitdaging gewees het nie. Die gemiddelde eerstebeurt-T20-telling op SuperSport-park is immers 181.

Vir die Proteas was daar egter min op die spel in dié wedstryd, met die reeks reeds in die sakkie. Tog was daar baie persoonlike gewin op die spel en wat dít betref, sal Hendricks, Van der Dussen en veral Morris rustig gaan slaap vanaand.

Vir Klaasen, wat deur ’n volle tien aflewerings vir sy beskeie telling van twee moes wroeg, is dit ’n ander kwessie.

Die Wêreldbeker-deur is vinnig besig om vir hom toe te slaan.

Meer oor:  Pakistan  |  Beuran Hendricks  |  Chris Morris  |  Proteas  |  Centurion
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.