Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Mpitsang se vinger op pols van SA krieket

Victor Mpitsang het straks danksy sy jare lange betrokkenheid by jeugkrieket ’n bykomende regmerkie gekry toe die besluit geneem is om hom as die Proteas se nuwe keurderbaas aan te wys.

Die gewese snelbouler Victor Mpitsang is Krieket Suid-Afrika se nuwe keurderbaas. Foto: Gallo Images

Dié voormalige Suid-Afrikaanse snelbouler van die Vrystaat was sedert sy uittrede in 2012 betrokke by die Suid-Afrikaanse o.19’s – as ’n afrigter, keurder en later hoofkeurder. Hy weet watter talent deurgekom het op die voerband en watter talent nog daar lê.

“Ek het goeie ’n idee van toekomstige sterre in die land,” het Mpitsang gesê nadat Krieket Suid-Afrika hom Woensdag as die nuwe hoofkeurder onthul het.

“Van hulle het al vir die Proteas gespeel, ander gaan nog, terwyl nog ander ook ’n rol in plaaslike krieket gaan speel,” sê Mpitsang, wat sedert 2016 die o.19’s se hoofkeurder is.

Hy het van die jong spelers wat reeds Proteas geword het, soos Lutho Sipamla, Wiaan Mulder en Kyle Verreynne, sien ontwikkel. En hy weet ook waartoe belowende spelers soos Gerald Coetzee, Raynard van Tonder, Akhona Mnyaka, Matthew Breetzke, Wandile Makwetu en Thando Ntini in staat is.

Die 40-jarige Mpitsang is ook ’n krieket-kommentator, wat hom verder in voeling met die beskikbare talent in die land gehou het.

Dié oudleerling van Grey-kollege in Bloemfontein het twee eendagwedstryde vir die Proteas gespeel.

Hy is Suid-Afrika se tiende hoofkeurder sedert die land se hertoelating tot internasionale krieket in 1991.

Mpitsang neem die leisels oor by Linda Zondi.

Mpitsang is laat verlede jaar gevra om die pos van Protea-keurderbaas tydelik oor te neem toe Graeme Smith as direkteur van krieket aan boord gekom het. Hy het dit toe van die hand gewys en gesê die aanbod was net ’n bietjie te vinnig op hom.

Zondi het die afgelope seisoen waargeneem as keurderbaas nadat hy van 2015 tot verlede jaar die laaste heeltydse hoofkeurder was.

Patrick Moroney, ’n ervare administrateur van Gauteng, en die voormalige keurder Hussein Manack was ander kandidate op die kortlys.

Mpitsang se kontrak strek tot en met die volgende Wêreldbeker-toernooi in 2023.

Smith sê Mpitsang was ná sy speeldae by verskeie van KSA se programme betrokke en is daarom baie vertroud met sake.

Mpitsang sê hy ongelooflik dankbaar vir al die geleenthede wat hy gehad het, want dit het hom gestaal vir wat voorlê.

“Ek het geleer hoe dinge werk – van administrasie tot om te speel en afrigting. Ek sien nou regtig uit na die volgende hoofstuk en alles wat daarmee gepaard gaan. Ek jeuk om te begin.”

Meer oor:  Krieket  |  Ksa  |  Victor Mpitsang  |  Krieket Suid-Afrika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.