Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Wie gaan deurslag gee, AB of Dunk?
Nee, o maggies, só wil die Giants se ondersteuners nie die Spartans se AB de Villiers Vrydagaand in Port Elizabeth sien kolf nie!Foto: Gallo Images

As dit ’n boksgeveg was, kon AB de Villiers en Ben Dunk mekaar vooraf in die oë gegluur het.

En Morné Morkel en Imran Tahir ook. Tahir sou miskien net op ’n paar bakstene moes staan om naby die hemelbesem Morkel se ken uit te kom.

Waarom dié vier? Want hulle is hul onderskeie spanne se grootste uitblinkers en kan almal groot rolle speel in Vrydagaand se Mzansi-superliga-uitspeelwedstryd tussen die Nelson Mandela Bay Giants en Tshwane Spartans op St. Georgepark in Port Elizabeth.

Die span wat hierdie T20-kragmeting wen, kom Maandag in die Paarl in die eindstryd teen die Paarl Rocks, wat regstreeks deurgedring het, te staan.

De Villiers is die Spartans se kolfkoning en Morkel hul boul-bielie. Dunk is weer die Giants se uitstaande kolwer en Tahir verreweg hul beste bouler.

Die Ausssie Ben Dunk is nie net een van die Giants se kolfhelde nie, maar hy blink ook uit as paaltjiewagter. Foto: Gallo Images

Dunk het sover 380 lopies in die reeks aangeteken en kan met ’n hoogste telling van 99 nie uit nie spog.

Daardie 99* het hy juis vroeg hierdie maand in Port Elizabeth teen die einste Spartans gemoker.

Dit was dieselfde wedstryd waarin De Villiers 63 lopies gekry het. De Villiers, wat sover 247 lopies versamel het, se hoogste telling hierdie seisoen is ’n onoorwonne 69.

Morkel pryk op sy beurt bo Tahir op die boulerslys, maar dit is net omdat hy effens minder lopies as die draaibaltowenaar afgestaan het.

Morkel het 10 paaltjies teen ’n gemiddelde van 11.80 lopies per paaltjie geneem tenoor Tahir se 16 paaltjies teen 13.50.

Die wedstryd word op St. Georgepark gespeel waar draaiboulers gewoonlik floreer wat die skaal in Tahir se guns kan swaai.

In ’n T20-wedstryd weet ’n mens mos ook nou al dat enigiets kan gebeur en die spanne kan nie net op hul onderskeie twee sterre staatmaak nie.

Die wedstryd word op St. Georgepark gespeel waar draaiboulers gewoonlik floreer wat die skaal in Tahir se guns kan swaai.

Die Giants sal lugtig wees vir die veelsydige David Wiese, wat hom hierdie week in die Engelsman Tom Curran se plek by die Spartans aangesluit het.

Soos die tuisspan se veelsydige Chris Morris beskik hy oor die vermoë om ’n wedstryd met die kolf of die bal te swaai.

Die spanne is:
  • Nelson Mandela Bay Giants: Imran Tahir, Chris Morris, Jon-Jon Smuts, Junior Dala, Beuran Hendricks, Matthew Breetzke, Onke Nyaku, Ben Dunk, Heino Kuhn, Marco Marais, Grant Thomson, Akhona Mnyaka, Nandre Burger, Mthiwekhaya Nabe, Ryan ten Doeschate.
  • Tshwane Spartans: AB de Villiers, David Wiese, Morne Morkel, Lungi Ngidi, Heinrich Klaasen, Theunis de Bruyn, Roelof van der Merwe, Lutho Sipamla, Pite van Biljon, Tony de Zorzi, Waqar Salamkheil, Dean Elgar, Imraan Manack, Vaughn van Jaarsveld, Corbin Bosch.
  • Begintyd: 17:30.
  • TV: SABC 3.

Meer oor:  Morne Morkel  |  Imran Tahir  |  Ab De Villiers  |  Ben Dunk  |  Port Elizabeth  |  T20  |  Giants  |  Krieket  |  Mzansi-Superliga
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.