Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
MSL: Gayle, Morgan swaai wilgerlat in SA

Nie een van die ses internasionale sterre wat in Krieket Suid-Afrika (KSA) se nuwe T20-glanstoernooi, die Mzansi Superliga (MSL), gaan speel, sal vir die duur van die reeks beskikbaar wees nie.

KSA het Maandag aangekondig dat Eoin Morgan, Jason Roy, Dawid Malan (almal Engeland), Chris Gayle, Dwayne Bravo (albei Wes-Indiese Eilande) en Rashid Khan (Afganistan) die ses internasionale ikoonspelers in dié toernooi gaan wees.

Al ses dié spelers speel egter in die Dubaise T10-toernooi, wat van 23 November tot 2 Desember plaasvind. Die MSL vind van 16 November tot 16 Desember plaas.

Slegs Bravo sal voor en ná die Dubaise T10-toernooi in die MSL speel. Die ander vyf sal slegs ná dié toernooi in die woestynstad in Suid-Afrika in aksie wees.

Chris Gayle vir die Windies in aksie. Foto: Getty Images

KSA het ook aangekondig wie die ses Suid-Afrikaanse ikoonspelers gaan wees. Elk van dié ses spelers is reeds tot ’n span verbind. Die ses spanne se name is ook bekend gemaak.

Faf du Plessis (Paarl Rocks), AB de Villiers (Tshwane Spartans), Hashim Amla (Durban Heat), Kagiso Rabada (Jozi Stars), Imran Tahir (Nelson Mandela Bay Giants) en JP Duminy (Cape Town Blitz) is die ses Protea-ikoonspelers.

Die ses spanne sal Woensdag by die spelersloting by Montecasino in Johannesburg die kans kry om te besluit watter internasionale ikoonspeler hulle wil hê.

Die Durban Heat sal eerste kan kies in die eerste ronde van die trekking, waar die internasionale ikoonspelers ’n tuiste sal vind, nadat dié span Maandag eerste getrek is in ’n loting om Woensdag se kies-volgorde te bepaal.

Daarna sal die Jozi Stars kies, gevolg deur Paarl Rocks, Cape Town Blitz, Tshwane Spartans en Nelson Mandela Bay Giants.

Eion Morgan is een van die ses internasionale ikoonspelers in Suid-Afrika se Mzansi Superliga. Foto: Getty Images

Die Giants sal in die tweede ronde eerste kies, in die derde ronde tweede en in elke daaropvolgende ronde sal hul kiesbeurt met een aanskuif totdat al 15 rondes voltooi is. Ná die eerste ronde kan die spanne enige speler in die trekking kies. Elke span sal uit 16 spelers bestaan, waarvan ’n maksimum van vier en ’n minimum van drie internasionale spelers mag wees.

Die spanne sal uit 341 spelers kan kies by die spelerstrekking. Van dié spelers is ses die internasionale ikoonspelers, ses die Suid-Afrikaanse ikoonspelers, 58 internasionale spelers, 11 Suid-Afrikaners met Kolpak-kontrakte, 12 gekontrakteerde Proteas, 87 spelers met franchise-kontrakte en 161 met semi-professionele kontrakte.

Suid-Afrikaners met Kolpak-kontrakte tel ook as internasionale spelers.

Die huidige Proteas sal die begin van die toernooi misloop, aangesien hul toer na Australië eers op 17 November klaarmaak.

Corrie van Zyl, KSA se bestuurder, het ook die transformasievereistes van dié toernooi onthul.

“Die teikens sal môre (Dinsdag) by die trekkingregulasie-vergadering (met verteenwoordigers van die ses spanne) bespreek word, maar vir dié liga sal daar ’n minimum van twee etniese swart spelers te alle tye op die veld wees,” sê Van Zyl.

Die Giants sal deur die gewese Protea-breier Eric Simons afgerig word, terwyl Ashwell Prince die Kaapse span sal brei. Die ander spanne moet nog onthul wie hul breiers gaan wees.

Meer oor:  Chris Gayle  |  T20  |  Eoin Morgan  |  Dwayne Bravo  |  Msl  |  Mzansi Superliga
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.