Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
MSL: Keurders kan breed glimlag

Die eerste weergawe van die Mzansi-superliga het die halfpadmerk verbygesteek en daar is al klaar ’n hele paar spelers wat regmerkies by die nasionale keurders verdien het.

Die Cape Town Blitz gee steeds die pas aan in die Mzansi-superliga, met ’n honderdtal Saterdag vir sy aanvangskolwer Quinton de Kock net een van vele hoogtepunte tot dusver. Foto: Gallo Images

Die Proteas pak Pakistan en Sri Lanka in tuisreekse dié seisoen, maar dit is die Wêreldbekertoernooi wat op 31 Mei in Engeland begin waar die fokus eintlik is.

En dit is hier waar ’n reeks soos die Mzansi-liga betrekking het. Spelers soos Reeza Hendricks en Tabraiz Shamsi is beslis nog nie seker van hul plekke in die 15 man-groep vir dié toernooi nie, maar hul vertonings in die laaste twee weke vir onderskeidelik die Jozi Stars en die Paarl Rocks het hul kanse beslis nie skade berokken nie.

Hendricks is ná twee agtereenvolgende honderdtalle vir die Stars die grootste lopievraat ná net vier wedstryde, terwyl Shamsi se terugkeer van nasionale diens ’n groot verskil in die Rocks se sukkelende boulaanval gemaak het.

Wat die reeks self betref is die Cape Town Blitz op koers na ’n tuiseindstryd, terwyl die Nelson Mandela Bay Giants, die Stars en die Rocks dit tans uitspook vir die twee oorblywende plekke in die uitspeelronde.

Die reeks gaan boonop nou regtig vlam vat, met van die topspelers in die wêreld wat van die T10-reeks in Dubai af in Suid-Afrika by hul onderskeie spanne gaan aansluit.

Chris Gayle, die mees gevreesde T20-kolwer tot nog toe, sal Dinsdagaand sy terugkeer tot die kompetisie maak wanneer hy in sy tweede wedstryd vir die Jozi Stars teen die Cape Town Blitz op Nuweland in Kaapstad speel. Die Kapenaars kry ook hul internasionale ster, die Engelse kolwer Dawid Malan, terug.

Die Blitz het nog net een wedstryd verloor en maak staat op uitstekende vertonings deur sy aanvangskolwers, Quinton de Kock en Janneman Malan en sy blitsaanval. Daardie blitsaanval kan egter nou ’n kopseer word.

Die jong blitsbouler Anrich Nortjé was die vroeë fonds van die toernooi. Die Oos-Kapenaar het agt paaltjies in sy eerste drie wedstryde laat kantel, terwyl hy met ’n enkelbesering gesukkel het. Hy het van die beste kolwers in die kompetisie met sy vaart geklop en sy boulvennootskap saam met Dale Steyn het die Blitz ’n groot wapen gegee.

Nortjé is egter nou tot die einde van die maand langs die grenstou en sal nie in die res van die reeks speel nie. Daar was ook sprake dat die keurders hom in die toetsreeks teen Pakistan wou laat speel in die plek van die beseerde Lungi Ngidi. Hy is steeds in die gesprek, maar sal waarskynlik nie beskikbaar wees nie vir die eerste toets wat op Welwillendheidsdag op Centurion begin.

Terwyl die nasionale keurders in hul noppies behoort te wees met die uitstekende peil van hul jong spelers, sal Hashim Amla se spel ’n groot bron van kommer vir hulle wees. Die Durban Heat het Sondag hul kaptein gepos vir die stryd in die Paarl ná tellings van 4, 0, 12, 24 en 15 tot dusver in die reeks. Hy het die eendagreeks in Australië weens ’n besering misgeloop, maar daar moet al hoe meer vrae gevra word oor sy langtermyntoekoms in die Groen-en-goud.

Meer oor:  Mslt20  |  Mzansi-Superliga  |  Msl  |  Cape Town Blitz
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.