Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
‘Min ondersteun MSL ondanks puik krieket’

Spelers van die gehalte van Dale Steyn en Imran Tahir verdien ’n toestroming van toeskouers na krieketstadions.

Ashwell Prince, die voormalige Protea-kolwer en deesdae die afrigter van die Cape Town Blitz, is baie opgewonde oor die gehalte van die spel en die spelers in die Mzansi-Superliga.

Ashwell Prince, afrigter van die Cape Town Blitz in die Mzansi-Superliga. Foto: Gallo Images

Die breier glo egter nie dat die huidige onstuimigheid in Krieket Suid-Afrika se geledere die spelers beïnvloed nie.

“Die produk op die veld is baie goed en dit is jammer dat die fokus nie op dié vertonings is nie.

“As ’n mens kyk na die gehalte van die krieket op die veld, is dit ook duidelik dat dit (die KSA-warboel) nie ’n invloed het nie. En dit is nie net in ons wedstryde nie, maar ook by die ander spanne.”

Hy het gesê dit is jammer dat baie mense nie op die goeie krieket in die Mzansi-superliga fokus nie.

“Ofskoon spelers soos Dale Steyn en Imran Tahir se loopbane einde se kant toe staan, lewer hulle steeds vertonings uit die boonste rakke. Hulle verdien om voor volgepakte paviljoene te speel. Dan is daar ook top- oorsese spelers soos Ben Dunk en Alex Hales wat wonderlike MSL-vertonings lewer.

Prince het ook gesê hy sien kenners in Engeland sê dit is nou die ideale tyd om die chaos in Suid-Afrikaanse krieket uit te buit.

Die Engelse land eersdaags hier aan vir ’n reeks van vier toetse, drie eendagwedstryde en twee T20-kragmetings.

“Dalk is dit maar net hulle wat probeer om die aandag van hul eie vrot vertonings in Nieu-Seeland af te lei,” sê Prince.

“Ek is steeds seker dat ons ouens hier in ons toestande hulle goed van hul taak sal kwyt.

“Wanneer jy op die veld stap, gaan dit oor wat tussen jou en jou teenstander in die 22 treë daar in die middel gebeur. Dit maak dit nie saak wat buite die speelveld gebeur nie,” het ’n veglustige Prince bygevoeg.

Die voormalige Engelse kaptein Nasser Hussein het vandeesweek gesê dat Engeland die swak bestuur in SA krieket moet uitbuit. Hy het ook kwansuis gesê ’n mens kan nou ’n span van die Suid-Afrikaanse Kolpak-spelers kies wat sterker as die Proteas is.

Prince het ook gemaan dat veldwerk die een deel van die spel is waar die gevaarligte wel flikker.

“Die veldwerk in dié MSL-reeks is nie goed nie en dis nogal moeilik om te verklaar waarom,” het hy gesê.

Vangwerk in T20-krieket wêreldwyd is nie altyd van die beste nie, maar dit is tot dusver regtig problematies in die plaaslike reeks.”

Dunk, die Aussie-kolwer wat Dinsdagaand met ’n onoorwonne 99 die wedstryd vir die Nelson Mandela Bay Giants teen die Tshwane Spartans gewen het, is vier lewens gegun.

Hales, wat die Durban Heat ’n aand later danksy sy 97* gehelp het om ’n reuse-teiken teen die Paarl Rocks te jaag, is ook ’n paar bykomende lewens gegun.

Prince het gesê dis moeilik om te verklaar.

“Ek kan net vir die Blitz praat, maar ons werk hard aan ons veldwerk. ’n Mens kan nie die ligte blameer nie. St. Georgepark se nuwe ligte is van die beste in die land. Die Paarl het ook nuwe ligte wat goed is.

“Dis net jammer om te sien. Veldwerk was nog altyd ’n sterk punt in SA krieket,” het die breier bygevoeg.

Die Blitz speel Vrydagaand teen die Giants op Nuweland voordat hy Sondag sy groepwedstryde teen die Spartans in Centurion afsluit. Hy moet waarskynlik albei die wedstryde wen om die uitspeelronde te haal.


* Geen spel was Donderdag moontlik weens reën in die MSL-wedstryd tussen die Tshwane Spartans en die Jozi Stars in Centurion nie.

Dit is die derde van die Spartans se vier tuiswedstryde wat uitgereën het. In die geheel het vier van hul kragmetings nou geen uitslag opgelewer nie weens reën.

Die Spartans skuif op na 21 ligapunte. Hulle is derde op die punteleer agter die Paarl Rocks en die Nelson Mandela Bay Giants, wat albei 23 punte het. Die Durban Heat is vierde met 18 punte.

Die twee punte wat hulle Donderdag gekry het vir die geen uitslag, is die eerste punte wat die Jozi Stars hierdie seisoen kry.

Meer oor:  Mslt20  |  Ashwell Prince  |  Jozi Stars  |  Msl  |  Cape Town Blitz  |  Tshwane Spartans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.