Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Mthethwa in sy skik met KSA-raad

Die sportminister, Nathi Mthethwa, is in sy noppies met die werk wat die tussentydse raad, wat hy in Oktober 2020 saamgestel het, besig is om by Krieket Suid-Afrika (KSA) te verrig.

Die minister van sport, Nathi Mthethwa. Foto: Gallo Images

“Toe ek die raad aangestel het, het ek gesê ek soek ’n raad wat teen ’n blitsige spoed sou kon begin. Ek moet sê, dít is presies wat hulle gedoen het. Daarom het ons besluit om hul termyn met twee maande te verleng,” het Mthethwa Vrydag op ’n aanlyn nuuskonferensie gesê.

Hy is ook vol vertroue dat die tussentydse raad die skorsing van die KSA-sekretaris, Welsh Gwaza, en die gewese waarnemende uitvoerende hoof Kugandrie Govender asook die verwydering van Omphile Ramela as raadslid “volgens voorskrifte” hanteer het. Dít ondanks hofstukke wat Ramela teen die tussentydse raad ingedien het, omdat hy beweer die raad het nie die regte prosedure met sy skorsings of verwyderings gevolg nie.

Die tussentydse raad werk intussen onverpoos om KSA se akte van inlywing, oftewel sy grondwet, te hersien sodat die kommersiële en bestuursineenstorting van die laaste 18 maande nooit weer herhaal sal word nie.

Rapport verneem van die wigte en teenwigte in die voorgestelde nuwe akte van inlywing, sluit in ’n meer vaartbelyne raad van nie meer as 11 lede nie, met ’n meerderheid van onafhanklike raadslede. ’n Verteenwoordiger van elk van die SA Spelersvereniging (Saca) en die SA Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) sal ook in die raad dien.

Saca se uitvoerende hoof, Andrew Breetzke, sê egter hulle is nog nie seker of hulle ’n lid in die raad wil hê nie, want dit kan op ’n belangebotsing neerkom.

Die kenners wat die nuwe voorgestelde akte van inlywing opgetrek het, wat die grondwetprokureur Michael Katz insluit, het glo ook ’n rotasiebeleid voorgestel, wat sal verseker dat minstens ’n derde van die raad elke twee jaar verander.

Stavros Nicolaou, die tussentydse raad se voorsitter, het vandeesweek gesê die akte van inlywing word tans deur sy raad én die lederaad – die hoogste gesag in krieket, bestaande uit die uniepresidente – hersien.

Volgens die dokument sal die lederaad se rol verklein word tot dié van aandeelhouers. Die president van die lederaad sal wel ’n plek in die nuwe voltydse raad hê.

“Ons voorsien dat as gestel ’n boekhouer as ’n onafhanklike lid in die raad wil dien, hy of sy nie van binne KSA benoem sal word nie, wat in die verlede ’n probleem was,” sê ’n bron. “Hulle sal eerder deur hul professionele liggaam van boekhouers benoem word.”

Om die nuwe akte van inlywing in werking te kan stel, sal dit in Maart op ’n spesiale algemene vergadering in ’n stemming aanvaar moet word. Daarna sal die jaarvergadering middel April kan plaasvind.

Rapport verneem slegs lederaadslede sal op die spesiale vergadering kan stem, wat daarop neerkom dat dié lede moet stem vir ’n vermindering van hul magte.

Mthethwa het wel Vrydag daarop gesinspeel dat hy nie verwag dat die lederaad die proses gaan teenstaan nie.

“Die lederaad deel die doelwit van die tussentydse raad, en dit is om te help dat krieket normaliseer,” sê hy.

Meer oor:  Nathi Mthethwa  |  Ksa  |  Tussentydse Raad  |  Krieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.