Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Mthethwa kan by Krieket SA ingryp

Krieket Suid-Afrika (KSA) se lot blyk nou in Nathi Mthethwa se hande te wees.

Mthethwa, minister van sport, het die veelbesproke forensiese verslag oor bestuurspraktyke by KSA gesien. En as hy versoek word om in te tree, sal hy dit doen, het sy woordvoerder aan Netwerk24 bevestig.

Nathi Mthethwa, minister van sport.

“Die verslag is deur KSA aan die minister oorhandig. Die minister het die verslag gelees, maar die bevindinge is vertroulik,” sê die woordvoerder.

“KSA moet optree met betrekking tot die bevindinge in die verslag en die minister sal slegs ingryp as hy versoek word om dit te doen.”

Uit ’n brief wat Saskok, die sambreelorganisasie waaronder KSA val, Vrydag aan Mthethwa geskryf het, blyk dit daar was nou ’n amptelike versoek vir die minister om by KSA in te tree.

Saskok vra Mthethwa om óf self by KSA in te gryp, óf aan Saskok die hulpbronne beskikbaar te stel om “alle nodige stappe” te doen om KSA te help regruk.

Mthethwa se woordvoerder het nie gereageer op ’n navraag oor of die minister dié brief as ’n versoek sien om in te gryp nie en of só ’n versoek slegs van KSA af kan kom. Netwerk24 verneem Mthethwa het nog nie op Saskok se brief gereageer nie.

Die minister het die verslag gelees, maar die bevindinge is vertroulik.

In sy brief aan Mthethwa, sê Saskok dat KSA se weiering om die volledige forensiese verslag onbeperk beskikbaar te stel, hom verhoed om by die krieketbeheerliggaam in te gryp, “soos wat die minister versoek het”.

Saskok wil ’n onafhanklike taakspan aanstel om KSA se probleme te ondersoek en eis dat KSA se raad en uitvoerende hoofde vir die duur van die maand lange ondersoek afstand van hul pligte doen. Saskok wil egter eers die forensiese verslag bestudeer.

KSA weier en sal die volledige verslag slegs aan Saskok beskikbaar maak as sy raad ’n vertroulikheidsooreenkoms onderteken. Andersins moet Saskok met ’n opsomming tevrede wees.

Saskok wil hê ook KSA moet vir die taakspan betaal, maar KSA sê Saskok moet die koste dra.

Saskok wens die minister sterkte toe met sy hantering van die “baie ernstige kwessies” by KSA, sou Mthethwa Saskok nie van hulpbronne kan voorsien nie.

Beresford Williams, waarnemende president van Krieket Suid-Afrika. Foto: Gallo Images

Saskok glo hy sal hulpbronne nodig hê as KSA aanhou weier om saam te werk, want dan sal dit “onvermydelik wees dat ’n dispuut verklaar moet word”. Dít sal tot “duur litigasie” lei en Saskok het nie die hulpbronne vir regsaksie teen KSA nie.

Saskok glo KSA kan nie “selfkorrigeer” nie, omdat die raad en senior uitvoerende hoofde moontlik “in die verslag geïmpliseer word”.

KSA het vroeër gesê dit is sy raad se plig om ’n padkaart in werking te stel waarop die lederaad – die hoogste krieketgesag in die land – besluit het nadat hulle ’n opsomming van die verslag gesien het. ’n Derde party, wat ’n regsfirma sal wees, sal dié proses fasiliteer.

As Mthethwa wel besluit om betrokke te raak, kan KSA in die moeilikheid beland by die Internasionale Krieketraad (IKR). Regeringsinmenging is strydig met die IKR se grondwet en ’n lidland kan hiervoor geskors word.

Meer oor:  Nathi Mthethwa  |  Ksa  |  Ikr  |  Krieket Suid-Afrika  |  Proteas  |  Saskok
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.