Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Nathi Mthethwa skryf aan die IKR

Nathi Mthethwa, Suid-Afrika se minister van sport, het Dinsdag ’n brief aan die Internasionale Krieketraad (IKR) geskryf om dié beheerliggaam op hoogte van sy betrokkenheid by Krieket Suid-Afrika (KSA) te hou.

Nathi Mthethwa, die minister van sport. Foto: Gallo Images

Mthethwa het Sondag gesê hy gaan ingevolge art. 13(5) van die Nasionale Wet op Sport en Ontspanning by KSA ingryp nadat KSA se lederaad Saterdag ’n U-draai gemaak en besluit het om nié ’n nuwe voorgestelde akte van inlywing (grondwet) goed te keur wat die bestuur van die spel voortaan meer onafhanklik sal maak nie. Dít nadat die lederaad ’n week vantevore gestem het om wél twee netelige kwessies, naamlik ’n oorgrote meerderheid van onafhanklike direkteure en ’n onafhanklike voorsitter, goed te keur.

Ses lederaadslede het Saterdag op die spesiale algemene vergadering vir die goedkeuring van die nuwe grondwet gestem, vyf daarteen en drie het buite stemming gebly – 75% was nodig om die resolusie deur te voer.

Netwerk24 verneem Mthethwa het aan die IKR geskryf om sy posisie te verduidelik. Die IKR het Dinsdag aan Netwerk24 gesê hy moedig sy lede aan om met regerings saam te werk.

“Nie alle regeringsinmenging is problematies nie en vir die IKR om betrokke te raak, moet daar ’n formele klag wees van ons lede dat dit ongevraagde inmenging is. Sou dít gebeur, sal ons die situasie evalueer gegrond op feite wat verskaf word en ’n gepaste plan van aksie formuleer,” sê die IKR.

Die feit van die saak is dat daar individue is wie se ego’s en eie belange vir hulle belangriker is as die nasionale welstand van die spel.

Mthethwa het die lederaad tot Dinsdag om 17:00 kans gegee om redes aan hom te verskaf oor waarom hy nie volgens die Sportwet moet intree en befondsing en erkenning aan KSA terugtrek nie. Die lederaad het wel aan hom geskryf, maar wat hulle aangevoer het, is nog onduidelik.

Rihan Richards, die president van die lederaad, sê Mthethwa het ontvangs bevestig en sal terugkom na die lederaad.

Mthethwa het Dinsdagaand op die radioprogram Marawa Sports Worldwide gepraat en weer verduidelik dat hy nie by krieket wou inmeng nie, maar dat nie KSA óf die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) die rits bestuurskwale kon oplos nie. Hy is toe genoop om in te tree deur ’n tussentydse raad aan te stel, wat van meet af aan teenkanting van die lederaad gekry het.

“Die feit van die saak is dat daar individue is wie se ego’s en eie belange vir hulle belangriker is as die nasionale welstand van die spel,” sê Mthethwa.

“Ons het ’n punt bereik waar ons besef die mense sien nie om na die belange van die spel nie.”

Noordelikes Krieketunie het intussen Woensdag ’n verklaring uitgereik wat daarop dui dat hy een van die drie unies is wat buite stemming gebly het.

Noordelikes sê hy is nie gekant teen ’n meerderheid van onafhanklike raadslede, of selfs ’n onafhanklike voorsitter nie.

Noordelikes het wel kwessies gehad met verskeie ander klousules in die voorgestelde nuwe akte van inlywing en sê hy het nie tyd gehad om dit deur te werk voor die spesiale algemene jaarvergadering nie.

Ons wil dit duidelik stel dat klein meningsverskille oor die akte van inlywing die partye nie daarvan moet weerhou om tot die nuwe akte van inlywing in te stem nie.

“Dat ons nie met alle klousules saamgestem het nie, moet nie gesien word as ’n gebrek aan ondersteuning vir ’n onafhanklike raad met ’n onafhanklike voorsitter nie.”

Noordelikes sê daar is onsekerheid oor die klousule oor ’n benoemingskomitee en dat die tussentydse raad te veel mag in dié proses het.

“Ons wil dit duidelik stel dat klein meningsverskille oor die akte van inlywing die partye nie daarvan moet weerhou om tot die nuwe akte van inlywing in te stem nie.”

Noordelikes sê ook hy is bekommerd oor die “Saskok-saak”, omdat Saskok in 2013 die party was wat ’n stokkie daarvoor gesteek het dat die aanbevelings in die Nicholson-verslag oor ’n onafhanklike raad, toegepas word. Saskok kan KSA skors as hy nie tevrede is nie.

Mpumalanga Krieketunie het hom by Sentraal-Gauteng en Noordwes aangesluit deur sy steun aan die tussentydse raad en die gewysigde grondwet uit te spreek. Daar kan dus aanvaar word Mpumalanga het ook ten gunste van die nuwe grondwet gestem.

Donovan May, die president van OP, wat baie gepraat het tydens die spesiale jaarvergadering en die grootste voorstander van ’n geheime stemproses was, het by navraag aan Netwerk24 gesê hy het sy mandaat van sy raad gekry. Hy wou egter nie sê hoe hy gestem het nie.

Meer oor:  Nathi Mthethwa  |  Ksa  |  Ikr  |  Ksa-Raad  |  Bestuurskrisis  |  Lederaad  |  Krieket Sa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.