Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Ná WB-misoes wil Proteas weer inspireer

Quinton de Kock dwing met sy kolfwerk baie respek by sy spanmaats af.

Daarom, sê Rassie van der Dussen, het die Proteas volle vertroue in hul kaptein vir die T20-reeks teen Indië wat Sondag in Dharamsala begin.

Rassie van der Dussen is die Proteas se onderkaptein vir die T20-reeks teen Indië. Foto: Gallo Images

“Quinton is een van daardie ouens wat deur voorbeeld lei. Hy sê nie altyd baie nie, maar wanneer hy praat, sê hy dinge van waarde,” sê Van der Dussen, die onderkaptein van dié span.

“Jy kry ouens wat baie praat en ouens wat nie baie praat nie. Quinny verkies om van voor te lei met sy aksies. Almal respekteer hom daarvoor.

“Almal weet hoe ’n goeie speler hy is en hoeveel wedstryde hy al vir Suid-Afrika gewen het.

“Ek dink die kapteinskap gaan die beste in hom na vore bring. Hy wil goed vaar in Indië, ons as ’n span wil hier weggaan met ’n reekssege.”

Die kennis wat sekere senior spelers soos De Kock van Indiese toestande het, sal die span baie baat.

“Quinton en iemand soos David Miller het al baie krieket hier gespeel. Die res van ons wat nuut is hier, sal baie met hulle praat om hul kennis te tap.”

Quinny verkies om van voor te lei met sy aksies. Almal respekteer hom daarvoor.

Van der Dussen sê die veld in Dharamsala gaan die kolwers bevoordeel, maar die lewe moeilik maak vir die boulers.

“Die grenstoue is omtrent oral net 65 meter ver van die kolfblad, wat nie baie ver is nie en dit moeilik gaan maak vir die boulers.”

Indië het juis ’n klomp kolwers wat die grenstou met reëlmaat kan oorsteek.

“Ons speel teen Indië, so ons weet ons moet op ons beste wees,” sê Van der Dussen, wat glo dis ’n voordeel dat die Proteas die tuisspan se onlangse reeks teen die Wes-Indiese Eilande kon ontleed.

“Indië is uiteraard een van die sterkste spanne in die wêreld, veral in hul tuistoestande. Hulle het ook onlangs krieket teen die Windies gespeel.

“Dit gee vir ons ’n voordeel, want ons kon sien hoe hulle speel. Ons was vir ’n rukkie af, so ons kon uitrus.”

As jy met die Protea-embleem op jou bors speel, speel jy vir ’n groter saak.

Van der Dussen gee die versekering dat die span die teleurstellende Wêreldbeker-veldtog nou agter hom geplaas het.

“Nou het ons ’n vars begin, met ’n nuwe afrigtingspan. Ons het baie gepraat oor die laaste paar dae oor waarheen ons wil gaan.

“Daar is ook ’n paar nuwelinge, wat energie bring. Ons is almal boonop ook vriende, ons geniet mekaar se geselskap.”

Nou wil die Proteas die land inspireer.

“As jy met die Protea-embleem op jou bors speel, speel jy vir ’n groter saak. Ons weet ons speel vir die mense in Suid-Afrika,” sê hy.

“Ons kan vir mense ’n positiewe uitkyk gee en dit is ’n uitdaging wat ons omarm.”

Meer oor:  Quinton De Kock  |  Indië  |  T20  |  Rassie Van Der Dussen  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.