Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Naasbestes speel met Gibbs se doepa

Die Suid-Afrikaanse A-span sal hoop die raad van die voormalige Protea-kolwer Herschelle Gibbs doen die ding wanneer hy Indië se naasbestes Dinsdag in die eindstryd van die driehoekige reeks pak.

Herschelle Gibbs, wat SA A in die driehoekige eendagreeks touwys gemaak het. Foto: Gallo Images

Die twee spanne was in twee naelbytstryde vooraf gewikkel waarin elk ’n slag aan die wenkant was.

Die afrigter Shukri Conrad sê hy is tevrede met hul boulwerk in die reeks gewees. Hy hoop dat die kolwers Dinsdag by Tuks ten einde laaste met ’n afgeronde vertoning vorendag sal kom.

Hy sê hulle probeer die kolwers kry om ’n aggressiewe benadering te volg.

“Ons het daarom vir Herschelle, een van die beste eendagspelers in sy speeldae, betrek. Hy moet die spelers daarmee bystaan en hy moet hulle veral ook help om die telling in die middelste boulbeurte aan die rol hou.

“Ons het wat die boulwerk betref nog in elke wedstryd ’n goeie begin gehad. Ons het elke keer twee of drie paaltjies in die kragspel gekry.”

Dit het die draaiers volgens Conrad baie gehelp.

Die boulwerk van die twee hotklou-draaiboulers, Aaron Phangiso en Tabraiz Shamsi, kan Dinsdag deurslaggewend wees.

Phangiso se tien paaltjies is die meeste tot dusver.

Indië A sal ook lugtig vir die tuisspan se veelsydige Dwaine Pretorius wees wat self ’n wedstrydwenner is.

As die gasheer vroeg van die Indiese kaptein, Manish Pandey, ontslae kan raak, sal die stryd halfpad gewonne wees.

Pandey het nog net een keer in vier beurte – in die eerste wedstryd teen SA A – sy paaltjie verloor. Sy 275 lopies is die meeste in die reeks.

* Drie spelers in die Proteas se toetsgroep – Aiden Markram, Duanne Olivier en Andile Phehlukwayo – is ingesluit in die SA A-span vir die spanne se twee vierdagwedstryde.

Die Titans se bybreekbouler Shaun von Berg is ná ’n goeie seisoen vir die eerste keer by die A-span betrek.

Die eerste vierdagstryd begin Saterdag in Benoni, terwyl die tweede in Potchefstroom gespeel word.

SA A vir komende vierdagwedstryde: Aiden Markram (k), Stephen Cook, Junior Dala, Beuran Hendricks, Heinrich Klaasen, David Miller, Duanne Olivier, Dane Paterson, Andile Phehlukwayo, Dane Piedt, Omphile Ramela, Rudi Second, Jason Smith, Shaun von Berg, Khaya Zondo.

Meer oor:  Herschelle Gibbs  |  Proteas  |  Sa A-Krieketspan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.