Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Nathi sal Dinsdag vir KSA roskam

Krieket Suid-Afrika (KSA) se lederaad staan by sy besluit om nie die tussentydse raad se voorgestelde veranderinge aan die beheerliggaam se grondwet aan te bring nie, maar Rapport verneem die twee partye is nie meer so ver van mekaar verwyder soos vroeër nie.

Die gewese grootbaas van KSA, dr. Ali Bacher, meen die lederaad kan nie vooruitgang na beter bestuur en aanspreeklikheid keer nie.

Verlede week het KSA se tussentydse raad, onder voorsitterskap van Stavros Nicolaou, gesê dit is ononderhandelbaar dat daar in ooreenstemming met die Nicholson-aanbevelings van 2013 ’n meerderheid van onafhanklike raadslede in KSA se volgende raad moet dien. Die tussentydse raad, wie se termyn in April verstryk en nie vir plekke op ’n nuwe, heeltydse raad gaan staan nie, het bygevoeg dat die voorsitter ook ’n onafhanklike raadslid moet wees.

Dit lyk nou of die partye mekaar dalk kan vind.

“Ons is bereid om ’n meerderheid onafhanklike direkteure te aanvaar, maar ons meen nie die voorsitter hoef noodwendig ’n onafhanklike raadslid te wees nie,” sê Craig Nel, president van Mpumalanga.

Mpumalanga se siening word wyd gedeel. Dit is straks ’n aanduiding dat daar ’n oplossing gevind kan word.

’n Vergadering tussen die sportminister, Nathi Mthethwa, en KSA se lederaad en die tussentydse raad word vir Dinsdag beplan.

Die tussentydse raad het Donderdagaand met lede van Noordelikes se raad vergader. Daarna het Noordelikes gestem dat sy president, Tebogo Siko, aan die lederaad moet sê hulle is bereid om ’n raad met, byvoorbeeld, ses onafhanklike raadslede en ses nie-onafhanklike raadslede te aanvaar, maar sou wou hê dat een nie-onafhanklike raadslid ’n gewese internasionale speler moet wees.

Intussen sê dr. Ali Bacher, gewese grootbaas van KSA, die lederaad het “geen kans” om te oorleef as hulle voortgaan om die proses te vertraag om die akte van inlywing te wysig nie.

“Hulle kan nie vooruitgang na beter bestuur en aanspreeklikheid keer nie. As hulle bly vasskop teen sleutelaspekte van die Nicholson-verslag, sal hulle omseil word. Borge sal nie aan die spel raak nie en die geld sal baie gou verdwyn,” sê Bacher.

“Die aanstelling van onafhanklike raadslede waarborg nie sukses nie, maar dit beteken ook nie hulle is nie ‘krieketmense’ nie. Die belangrikste aspek is die aanstellingsproses.”

Bacher sê hy hoop nie die minister besluit om krieket nie meer as ’n nasionale sport te erken nie.

Meer oor:  Nathi Mthethwa  |  Ksa  |  Lederaad  |  Ali Bacher
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.