Chris Nenzani, president van Krieket Suid-Afrika (KSA), het gister die organisasie se toegewydheid tot transformasie in die sport herbevestig en dit as ’n “kritieke beleid” bestempel.
Dit volg ná ’n oproer op sosiale media nadat die Protea-kolwer Temba Bavuma Donderdag terug na franchise-krieket gestuur is, al was hy fiks genoeg om sy internasionale terugkeer ná ’n besering te maak.

Chris Nenzani. Foto: Gallo Images
Volgens Faf du Plessis, die Proteas se kaptein, is besluit om met Rassie van der Dussen te volhard sodat hy sy voete op toetsvlak kan vind, en verstaan Bavuma dat hy terug na sy franchise, die Lions, gestuur is om sy kolfpeil te herwin.
Nietemin is Bavuma se weglating met ’n koor van ontevredenheid op sosiale media begroet. Sy afwesigheid in die toetse teen Engeland in Centurion en op Nuweland, tesame met die bouler Lungi Ngidi se besering, het beteken dat daar in albei toetse slegs een etnies swart speler in die Protea-span was.
Dit is strydig met dit waarna KSA streef met sy transformasie-teiken dat daaroor ’n kalenderjaar gemiddeld ses spelers van kleur, waarvan twee etnies swart is, in die Protea-span moet wees.
Nenzani het in reaksie op die kritiek gesê KSA is “100% bewus daarvan dat transformasie noodsaaklik is om gelykheid in ons land te bewerkstellig”.
“Ons toewyding (tot transformasie) word bewys deur die beleid wat ons sedert Februarie 2013 volg. KSA se transformasie-agenda is baie duidelik en word ten volle verstaan in al ons strukture, veral deur diegene wat transformasie op voetsoolvlak moet dryf.”
Nenzani het ook gesê die onlangse aanstellings van wit mans in sleutelposisies in KSA – Jacques Faul as waarnemende uitvoerende hoof, Graeme Smith as waarnemende direkteur van krieket en Mark Boucher as Proteas-breier – “is nie ’n bedreiging vir transformasie of die proses van Afrikanisering (Africanisation) in krieket in ons land nie.”
“Ons moet almal erken dat transformasie nie ’n daad van uitsluiting is nie, maar een van insluiting, aangevul deur die begeerte om die ideale van gelykheid, regverdigheid en ’n nierassige samelewing te behaal. KSA bly toegewyd tot dié visie.”