Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Ngidi gee keurders stof tot nadenke

Lungi Ngidi weet daar is groot mededinging onder die snelboulers vir plekke in die groep vir die T20-Wêreldbeker (T20-WB), maar hy is nie van plan om sy plek in die Protea-span prys te gee nie.

Komkommerkoel het Ngidi Woensdagaand in Oos-Londen sewe lopies in die laaste boulbeurt van die eerste T20-wedstryd teen Engeland verdedig. Hy het Suid-Afrika met syfers van 3/30 tot ’n oorwinning met een lopie help voer.

Lungi Ngidi gee uiting aan sy emosie nadat hy sewe lopies beskerm het in die laaste boulbeurt van die eerste T20-wedstryd teen Engeland Woensdagaand in Oos-Londen. Foto: AP

Die 23-jarige Ngidi sê om ’n vertoning soos syne in Oos-Londen te lewer, gaan baie oor jou geestelike ingesteldheid.

“Fisiek probeer ek so hard as wat ek kan om die vaart te herwin waarmee ek vroeër geboul het om die bal te plant in die gebruiklike gebiede.” Ngidi het die laaste twee jaar met beserings gesukkel en werk hard aan sy fiksheid.

“Maar vir eers probeer ek so goed vaar as wat ek kan en my taak in die doodsnikke verrig.”

Ngidi het Sondag ’n nagmerrie-begin in die laaste eendagwedstryd teen Engeland op die Wanderers gehad en ná vyf beurte syfers van 0/52 gehad. Ook toe het hy skitterend teruggeslaan en in sy laaste vier beurte 3/11 geneem.

Hy gee baie krediet aan die Proteas se boulafrigter, Charl Langeveldt, wat in hom bly glo.

“Hy maak ’n reuse-indruk, veral aan die geestelike kant. Ek het gekyk hoe hy geboul het en dit gee vir my as ’n jong speler baie selfvertroue dat hy nou deel van my reis is.

“Hy sal vir my sê hou by dít wat vir jou werk en dit help my om met só ’n vertoning in die doodsnikbeurte vorendag te kom.”

Langeveldt is geseën dat hy, veral in T20-krieket, baie vaardige naatboulers het om mee te werk. Onder die voorslagboulers sal Ngidi met Kagiso Rabada, Dale Steyn, Beuran Hendricks en Anrich Nortjé meeding om plekke in die groep vir die T20-WB in Oktober en November in Australië.

Sisanda Magala is ook nog in die prentjie, maar was Woensdag weer, soos vir die eendagreeks, weens ’n mislukte fiksheidstoets nie beskikbaar nie.

Steyn het Woensdagaand goed in sy eerste internasionale wedstryd sedert Maart verlede jaar gevaar. Hy het ’n paar nuwe stadige aflewerings uitgestal en met 1/33 geëindig.

Hendricks is ’n bouler met die unieke vaardigheid dat hy die bal met sy linkerarm kan swaai. Quinton de Kock het hom op ietwat verrassende wyse Woensdagaand eers in die 15de boulbeurt ingespan, maar dit het goed gewerk.

Hy het die paaltjies van die gevaarlike Jason Roy (70) en Eoin Morgan (52) gevat. Morgan het hom wel in die voorlaaste beurt vir ’n paar grenshoue getimmer en het gelyk of hy sy span toe reeds oor die wenstreep wou vat. Maar die Engelse kaptein het een hou té veel probeer speel. Hendricks het kalm gebly en die paaltjie gevat.

“Beuran verdien krediet daarvoor,” sê Ngidi.

Die keurders kan ook kopkrap oor die aantal veelsydige spelers wat naatballe afstuur, wat hulle wil kies. Dwaine Pretorius het nie Woensdagaand boulkans gekry nie, maar kan doeltreffend wees met sy akkuraatheid. Andile Phehlukwayo (2/32) beskik oor ’n magdom variasies en Chris Morris het die Big Bash-liga in Australië met die tweede meeste paaltjies afgesluit.

Van die veelsydige spelers kan selfs bo voorslagboulers oorweeg word vir die groep van 15 vir die T20-WB, maar Ngidi skram nie weg van daardie mededinging af nie.

“Bouch (Mark Boucher, afrigter) is baie eerlik. Ons weet daar is baie snelboulers wat veg om plekke, so jy moet op jou beste wees. Maar ek beplan nie om enigiemand toe te laat om my plek te vat nie.”

* Die tweede T20-stryd in die reeks van drie teen Engeland word Vrydagaand (begintyd 18:00) in Durban beslis. Die laaste wedstryd is Sondag (14:30) in Centurion.

Meer oor:  Oos-Londen  |  Lungi Ngidi  |  T20  |  Proteas  |  Engeland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.