Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Nkwe glo nou hy’s regte man vir Protea-pos
Enoch Nkwe, die waarnemende Protea-spandirekteur. Foto: Gallo Images

Hy is nou, ná die rampspoedige toetsreeks in Indië, nóg meer gereed as ooit om die Proteas voltyds af te rig, sê Enoch Nkwe.

“Ek glo veral nou nadat ek hierdie ervaring gehad en gesien het watter gebiede aandag moet geniet, dat ek die regte man is,” het Nkwe, die waarnemende spandirekteur, Vrydagoggend by die OR Tambo-lughawe gesê.

“Dit is egter nie my besluit nie en as ek nie as die regte man gesien word nie, sal ek terugkeer na die plaaslike stelsel en daar ’n verskil probeer maak.

Dit is egter nie my besluit nie en as ek nie as die regte man gesien word nie, sal ek terugkeer na die plaaslike stelsel en daar ’n verskil probeer maak.
Enoch Nkwe

“Die laaste twee maande in Indië het my gehelp om te groei tot ’n nuwe vlak as ’n afrigter. Ek glo ek is nou gereed.

“Ek wil ’n rol speel in hierdie oorgangsfase om die span te help om ’n beter plek te bereik.”

Hy wil wel sien dat daar binnekort vaste aanstellings in sy pos en in dié van direkteur van krieket gedoen word.

“Daar gaan uiteraard verskeie mense betrokke wees by hierdie proses en hopelik word daar binnekort besluite geneem sodat daar meer klarigheid kan wees.”

Faf du Plessis, die Protea-kaptein. Foto: Gallo Images

Faf du Plessis, die Protea-kaptein, het ook Vrydag ’n beroep gedoen op Krieket Suid-Afrika (KSA) dat daar binnekort vaste aanstellings gedoen moet word. Dit is moeilik om te beplan as almal tydelike poste het, het Du Plessis gesê.

Corrie van Zyl, wat waarneem in die pos van direkteur van krieket, sê die aansoeke om dié pos sluit komende Donderdag.

“Die idee is om so gou as moontlik ’n aanstelling te maak en daarna om ’n sameroeper van die keurkomitee aan te stel. Van daar af sal die ander aanstellings volg,” sê Van Zyl.

Dít sluit die pos van spandirekteur (oftewel afrigter) in. Die eerste toets teen Engeland begin op 26 Desember – twee maande van nou af. ’n Aanstelling moet dus gou gedoen word, want as Nkwe nie die pos voltyds gaan vul nie, sal ’n nuwe afrigter vinnig met planne vir dié reeks moet begin.

Van Zyl gee toe dat Nkwe en sy afrigtingspan, wat ook tydelik aangestel is, se hande tot ’n mate vasgebind is omdat hulle nie langtermynplanne kan maak nie.

“Dit is moeilik vir Enoch om as ’n waarnemende aanstelling sy idees deur te voer, maar hy sal daardie idees implementeer vir solank as wat hy daardie pos vul,” sê Van Zyl.

“Ons moet nou al begin beplan vir die Engeland-toer; ons moet optree asof ons voltyds in daardie poste is. As dit verander, dan verander dit, ons het geen invloed daarop nie.

Maar tot daardie tyd, moet ons die lesse wat ons in Indië geleer het, toepas en goed beplan.
Corrie van Zyl

“Maar tot daardie tyd, moet ons die lesse wat ons in Indië geleer het, toepas en goed beplan.”

Van Zyl glo ook nie KSA kon die oorgangsfase ná die Wêreldbeker-toernooi, toe Ottis Gibson en sy ganse afrigtingspan gepos is, beter hanteer het nie. KSA het toe ’n magdom mense in waarnemende poste aangestel, wat tot grootskaalse onsekerheid gelei het.

“Met die kort tyd wat ons ná die WB-toernooi gehad het, was die waarnemende poste die beste wat ons kon doen. Ons is glad nie spyt daaroor nie.”

Nog ’n kwessie wat aangeraak is, is die tekort aan voormalige Proteas in die huidige stelsel – nie net as afrigters op die hoogste vlak nie, maar ook in bestuursposte.

Corrie van Zyl, die waarnemende direkteur van krieket. Foto: Gallo Images

Van Zyl sê KSA wil graag voormalige spelers betrek en sekere spelers is al genader, maar was nie beskikbaar vir hierdie toer na Indië nie.

Hy is wel bly dat drie oud-Proteas, Mark Boucher, Ashwell Prince en Robin Peterson, nou franchise-afrigters is.

Nkwe sê oudspelers hoef nie net op internasionale vlak betrokke te raak nie.

“In Engeland het iemand soos Ian Bell by die juniors betrokke geraak. Ek weet byvoorbeeld JP Duminy stel ook baie belang om betrokke te raak.

“Soms het hulle egter reeds ander verpligtinge aangegaan.”

Van Zyl wou hom nie juis uitlaat oor die dispuut wat die spelersvereniging, Saca, Donderdag teen KSA verklaar het nie. Dié dispuut handel oor onbetaalde beeldregte vir spelers in verlede jaar se Mzansi-superliga.

Hy, en Nkwe, ontken egter dat raadsaalgevegte ’n invloed op die speelveld gehad het.

“Wat Saca se dispuut met KSA betref – sulke goed is nooit in Indië opgehaal nie. Dit het nie die span beïnvloed nie,” sê Van Zyl.

Hy wil nie die gevegte met Saca in die media bespreek nie, maar glo dit sal vinnig bygelê word.

Meer oor:  Corrie Van Zyl  |  Faf Du Plessis  |  Enoch Nkwe  |  Suid-Afrika  |  Krieket  |  Ksa  |  Reeksnederlaag  |  Spandirekteur  |  Proteas  |  Toer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.