Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Nkwe smeer sy kaptein heuning om mond

Ja, Faf du Plessis is nie daar nie. Maar in Quinton de Kock het die Proteas se T20-span ook ’n skitterende leier, sê die Suid-Afrikaanse krieketspan se waarnemende spandirekteur Enoch Nkwe.

De Kock (26) voer ’n jong Protea-span in die reeks van drie T20-wedstryde teen Indië aan. Die eerste wedstryd van dié reeks word Sondag in Dharamsala beslis.

Quinton de Kock voer die Proteas aan in hul T20-reeks teen Indië. Foto: Gallo Images

“Quinton is ’n goeie leier, ons glo in hom,” sê Nkwe.

Die 35-jarige Du Plessis het reeds gesê hy wil graag volgende jaar in die T20-Wêreldbeker-toernooi in Australië speel, maar hierdie T20-reeks is nietemin ’n geleentheid om nuwe leiers, soos De Kock en die onderkaptein, Rassie van der Dussen, te ontwikkel.

“Ons weet waar Faf staan as ’n speler en kaptein en hy het reeds ongelooflike dinge vir Suid-Afrikaanse krieket gedoen, maar ons moet ook na die toekoms kyk. Dit is ’n kans om vir die toekoms te bou,” sê Nkwe.

Hy glo ook daar is genoeg ervaring in die span met spelers soos De Kock, Van der Dussen, David Miller en Kagiso Rabada daar.

“Ons het spelers met baie ervaring. Die kaptein het baie ervaring van krieket in Indië.”

Die mengsel tussen die ervare manne en groentjies soos Bjorn Fortuin en George Linde maak Nkwe opgewonde.

“Daar is ook vars bloed. Ons sal mededingend wees en ons wil wen. Ons weet hoe sterk die teenstanders is, maar ons gaan alles gee.

“Dit is die begin van ’n nuwe hoofstuk vir ons. Ons wil ’n goeie grondslag lê met die oog op die T20-WB in Australië volgende jaar.

“Ons moet mense vermaak en ons hoop om opwindende krieket te speel. Ons is nog besig om ons speelstyl te verfyn, maar ons wil uitstap en opwindende krieket opdis.”

De Kock, wat die span verlede jaar in twee eendagwedstryde in Sri Lanka aangevoer het, sê hy wil hê dit moet ’n kenmerk van dié span wees dat hy nooit ophou veg nie.

“Wen of verloor, ek wil seker maak die ouens hou aan om te veg,” sê De Kock.

“Daar is baie jong spelers in die groep. Met die jong span sal daar baie energie wees en ek sien uit daarna.”

Suid-Afrika se T20-groep: Quinton de Kock (k), Rassie van der Dussen (o-k), Temba Bavuma, Junior Dala, Bjorn Fortuin, Beuran Hendricks, Reeza Hendricks, David Miller, Anrich Nortjé, Andile Phehlukwayo, Dwaine Pretorius, Kagiso Rabada, Tabraiz Shamsi, George Linde.

Meer oor:  Quinton De Kock  |  Indië  |  T20  |  Proteas  |  Enoch Nkwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.