Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Nóg ’n beurt-nederlaag SA se voorland

’n Tweede agtereenvolgende beurt-nederlaag staar die skandelike swak Protea-krieketspan in die gesig. Maar die lyding is darem amper verby.

Faf du Plessis se wegpen is vier balle ná die aanvang van spel raakgeboul. Foto: Gallo Images

Die briljante Indiese span van Virat Kohli het Maandag in Ranchi 16 Suid-Afrikaanse paaltjies platgetrek. Eers het die Indiërs hul hopelose teenstanders vir 162 uitgeboul nadat Suid-Afrika die oggend op 9/2 hervat het in antwoord op die tuisspan se 497/9. 

Kohli het die opvolgbeurt afgedwing en Suid-Afrika teen uitskeityd op 132/8 laat steier – steeds 203 lopies agter Indië se eerstebeurttelling. 

Anrich Nortjé (5*) en Theunis de Bruyn (30*) sal die beurt Dinsdag hervat. 

De Bruyn het ’n stukkie Suid-Afrikaanse krieketgeskiedenis gemaak toe hy die land se eerste plaasvervanger vir ’n kopbesering in toetskrieket geword het. Dean Elgar (16) is teen die kop raakgeboul en sal nie verder in die toets kolf nie. Volgens die Internasionale Krieketraad se nuwe regulasies, mag ’n speler wat vir harsingskudding van die veld gehaal is, deur ’n soortgelyke speler vervang word.

Verder as hierdie interessante brokkie wat dalk nuttig te pas kan kom in ’n vasvrakompetisie, was dit nóg ’n dag wat Protea-ondersteuners vinnig sal wil vergeet.

In die eerste beurt het Zubayr Hamza (62) onderweg na sy eerste toetsvyftigtal darem gewys hy hoort op hierdie vlak. Sy tegniek en temperament is goed, selfs al is hy later vir ’n nulletjie in sy tweede beurt uitgekry. 

Van die kap- en dryfhoue wat Hamza teen die Indiese boulers uitgestal het, was sierlik.

Zubayr Hamza op pad na sy vyftigtal op dag drie van die derde toets teen Indië in Ranchi. Foto: AP

Die debutant George Linde was hardnekkig met beurte van 37 en 27 in sy twee beurte. Maar verder was die Proteas maar bra pateties. 

Dit was ook nie net Indië se draaiboulers wat die skade aangerig het nie – die naatboulers, waarmee die Suid-Afrikaanse kolwers veronderstel is om meer gemaklik te wees, was die groot verwoesters. 

In die eerste beurt was dit Umesh Yadav (3/40) wat die meeste paaltjies platgetrek het. Tot dusver in die tweede beurt was dit Mohammed Shami (3/10). 

Suid-Afrika lyk eenvoudig uit sy diepte. Die kolwers lyk argeloos en daar was selfs twee Proteas wat uitgehardloop is. 

Voor hierdie reeks het Suid-Afrika in sy geskiedenis nog net vier reekse met drie of meer toetse skoonskip verloor. 

Die statistieke skets ’n prentjie van komplete onbeholpenheid met die kolf en die bal. Die boulers kon slegs 25 paaltjies in die ganse reeks plattrek. In teenstelling daarmee, het Indië se boulers – draaiers én snellers – reeds 58 Protea-slagoffers geëis. 

Quinton de Kock kon nie die meeste van sy tweede kolfkans maak nie. Foto: Gallo Images

Volgens die statistikus Andrew Samson het Suid-Afrika in hierdie reeks die vierde laagste gemiddelde aanvangsvennootskap nóg in toetsreekse met ’n minimum van ses beurte. Die eerste Protea-paaltjie was gemiddeld slegs 4.83 lopies werd. Dit is vernederend vrot. 

Hierdie reeks kon beswaarlik swakker verloop. Die enkele ligpunte was Dean Elgar en Quinton de Kock se honderdtalle in die eerste toets. 

Sedertdien het dit met elke sessie duideliker geraak dat die kloof tussen die Proteas en die wêreld se bestes drasties aan die vergroot is. Die span praat van ’n herboufase en dit is duidelik dat hierdie fase pynlik gaan wees. 

Die Proteas sal nie voortaan met die bestes in die wêreld kan meeding nie. Reekse teen Sri Lanka en die Windies sal mededingend wees. Dalk sal dit alle krieketliefhebbers baie hartseer spaar om dit nou al te besef. 

Want op die oomblik lyk dit nie of Suid-Afrika gou weer een van die wêreld se grotes gaan wees nie.

Meer oor:  Ranchi  |  Dean Elgar  |  Kriekettoets  |  Proteas  |  Indië  |  Toetskrieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.