Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Nóg ’n borg maak stem dik in SA krieket
Jacques Faul, waarnemende uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika. Foto: Gallo Images

Krieket Suid-Afrika (KSA) het Donderdag op die rooi tapyt voor Nathi Mthethwa, minister van sport, verskyn.

Boonop het ’n vierde lid van die raad van dié beheerliggaam, bedank én nóg ’n borg het ’n ultimatum gerig.

Jacques Faul, die nuwe waarnemende uitvoerende hoof, en Chris Nenzani, die voorsitter, moes aan Mthethwa verduidelik wat hul plan van aksie gaan wees om krieket weer op die regte pad te kry.

Net voor hy met die minister vergader het, het Faul bevestig dat die nuwe SA afrigter Saterdagmiddag aangewys gaan word.

Gaan Mark Boucher Saterdagmiddag as die nuwe afrigter van die Suid-Afrikaanse krieketspan aangewys word?Foto: Gallo Images

Toe hy gevra is of die Titans aanstaande week ’n nuwe afrigter gaan soek sou Mark Boucher die nuwe afrigter word, wou hy nie reageer nie.

Wat Momentum se ultimatum betref, sê Faul die goeie nuus is dat dit darem nie werklik as ’n pistool teen die kop gesien word nie.

Faul se goeie werkverhouding met Momentum, wat ook die borg van die Titans is, sal gewis punte tel en dié borg gerusstel dat KSA uit die moeras gelig kan word.

Dié borg is betrokke by eendagkrieket, asook die Proteas se internasionale eendagwedstryde en die plaaslike eendagreeks.

Hy is ook betrokke by die nasionale klubkampioenskapsreeks en die skoleweke vir o.13’s, o.15’s en o.17’s.

Die hoofborg van die nasionale span, Standard Bank, het verlede Vrydag aangedui hy sal nie sy kontrak hernieu wanneer dit in April verstryk nie.

Momentum sê Donderdag in ’n nuusverklaring hy is bekommerd oor die “negatiewe invloed van KSA se aksies”.

Die ultimatum wat hy stel, is dat die hele raad bedank, óf die voorsitter (Nenzani) en sy adjudant (Beresford Williams), om die leierskapkrisis dringend te hanteer.

Carel Bosman, Momentum se hoof van borgskappe, het volgens Sport24 bevestig hulle het samesprekings met Faul gehad en dat hulle as borg spesifieke vereistes stel waaraan KSA moet voldoen om vertroue te herstel in die administrasie van SA krieket.

Ons sal die KSA-raad verantwoordbaar hou om hul sake in orde te kry. Gebeur dit nie, sal Momentum sy borgskap teen die einde van die huidige seisoen heroorweeg.
Carel Bosman

“Ons sal die KSA-raad verantwoordbaar hou om hul sake in orde te kry. Gebeur dit nie, sal Momentum sy borgskap teen die einde van die huidige seisoen heroorweeg,” sê Bosman.

Deur te versoek dat die raad die trekpas kry, het dié borg sy stem gevoeg by die SA Spelersvereniging (Saca) en die Lions se raad, waarvan Jack Madiseng die voorsitter is.

Madiseng het Donderdag bedank.

Daar is diegene wat glo dat Madiseng ’n bondgenoot van Thabang Moroe, die geskorste uitvoerende hoof, is en dat hy met sy bedanking hom nou glo wil distansieer van die gemors wat hy help skep het.

Ander raadslede wat sedert verlede week bedank het, is prof. Shirley Zinn, Mohamed Iqbal Khan en Dawn Mokhabo.

Meer oor:  Nathi Mtethwa  |  Mark Boucher  |  Jacques Faul  |  Johanesburg  |  Momentum  |  Borg  |  Uitvoerende Hoof  |  Krieket  |  Ksa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.