Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Noordwes en Boland blaf saam

Die goeie infrastruktuur en geriewe is beslis van die aspekte wat hulle bykomende regmerkies met hulle bod moes gegee het. Hulle het boonop gewys dat hulle binne ’n kort tydjie groot toernooie kan aanbied, soos hulle met die onlangse plaaslike eendagreeks gedoen het.

David Richardson sê Noordwes se infrastruktuur van talent het swaar in sy guns getel toe op die topagt-spanne besluit is wat van volgende seisoen af mekaar in Suid-Afrika se top-plaaslike kompetisies die stryd sal aansê. Foto: Getty Images

So sê HP Prinsloo, uitvoerende hoof van Noordwes Krieket, wat die volgende twee jaar een van die agt topspanne gaan wees in die nuwe struktuur van 15 provinsies wat Krieket Suid-Afrika (KSA) Maandag onthul het.

Die Boland is ook daar, saam met die spanne van die ses toetssentra, terwyl Grens se rits probleme hom gepootjie het. Sy bod was nie suksesvol nie.

Die spanne in Afdeling 1 (top-agt) is Noordwes, Boland, Gauteng, Vrystaat, Westelike Provinsie, Noordelikes, Oostelike Provinsie en KwaZulu-Natal (Kusstreek) en die spanne in Afdeling 2 is Noord-Kaap, Grens, Mpumalanga, Limpopo, Suidwestelike Distrikte, KZN (Binneland) en Oostelikes.

Die struktuur sal vir die volgende twee seisoene geld, waarna promosie en relegasie sal plaasvind.

“Ons is baie opgewonde en dankbaar,” sê Prinsloo.

“Ons het die infrastruktuur om spelers te ontwikkel vir eersterangse krieket.”

Noordwes is sedert 5 Desember 2018 onder administrasie en sy insluiting was daarom vir sommige ’n verrassing.

Prinsloo is destyds kort voor dit aangestel om die kwessies uitgestryk te kry.

Dit sou straks al opgelos gewees het as KSA nie die laaste jaar of wat ’n kaboedel eie krisisse gehad het wat hy moes hanteer nie.

Pholetsi Moseki, waarnemende uitvoerende hoof van KSA, sê hulle vergader Woensdag met Noordwes, waarna ’n verklaring uitgereik sal word.

David Richardson, onafhanklike konsultant en voorsitter van die onafhanklike evalueringskomitee, het verduidelik hoe te werk gegaan is om op die voorste agt provinsies te besluit.

Hy sê Noordwes word goed bestuur en sy infrastruktuur het geweldig baie ontwikkel. Hy noem ook dat hulle met die Noordwes-Universiteit daar ’n hengse geleentheid het om spelers te lok en daar te hou.

Richardson sê Mpumalanga was die enigste provinsie wat nie ’n bod ingedien het om een van die voorste agt spanne te wees nie.

Hy sê die evalueringskomitee het geen twyfel oor die potensiaal wat die Grens-streek bied ten opsigte van KSA se transformasie-doelwitte nie.

“Die hele streek het geweldig baie talent. Ek het vir die meeste van my lewe in daardie deel van die land gebly.”

Hy ken die krieketkultuur daar en die mense se liefde vir die spel.

Richardson sê die belangrikheid van Grens vir die hele SA struktuur word nie misgekyk nie.

Hy glo ook ’n suksesvolle Grens-unie is noodsaaklik as krieket in Suid-Afrika op lang termyn volhoubaar wil bly.

“Ongelukkig oor die laaste jare, veral die laaste paar, het hulle kwessies met hul bestuur en administrasie gehad. Hul finansies is ook nie sterk nie en hul vertonings was ook nie goed nie.”

Hy sê Grens is wat dit betref ’n bietjie agter die res.

Richardson sê dit gaan in die topafdeling krag-teen-krag wees. Spanne sal ook nie meer oorgerus wees nie omdat daar aan die einde van die tweede seisoen van die nuwe struktuur promosie en relegasie sal wees.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.