Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Nortjé slagoffer van kwota-teikens

Krieket Suid-Afrika (KSA) se aggressiewe transformasieteikens maak dit vir die nasionale span bykans onmoontlik om meer as ses wit spelers in sy beginspan te kies.

Daarom kon Anrich Nortjé nie Vrydagaand in die eerste T20-wedstryd teen Engeland speel nie.

Die snelbouler Anrich Nortjé het Engeland se topkolwers groot probleme besorg toe hy Sondag in die Paarl speelkans gegee is. Foto: Gallo Images

Toe Nortjé wél in Sondag se tweede wedstryd vir Beuran Hendricks vervang het, moes Pite van Biljon – ’n doodsnik-kolwer, wat gewoonlik op nr. 6 instap – plek maak vir Reeza Hendricks.

Hendricks is eintlik ’n aanvangskolwer, maar moes Sondag op nr. 3 instap, wat die balans van die span omver gegooi het. Faf du Plessis, wat gebruiklik op nr. 3 kolf vir die Proteas, moes ook ’n plek aanskuif in die kolflys.

Netwerk24 het ’n dokument gesien uit ’n voorlegging wat KSA aan Nathi Mthethwa, minister van sport, gedoen het, waarin die Proteas se vooruitgeskatte transformasie-teikens vir 2020 tot 2023 vervat is.

Volgens dié voorlegging, moet daar ’n gemiddeld van 58% swart spelers (swart, bruin, Indiër) wees waarvan 25% etnies swart is en oor ’n seisoen gehandhaaf word.

Dit kom neer op 6,38 swart spelers per elftal, waarvan 2,7 etnies swart moet wees. Om dié teikens te haal, sal die Proteas in die meeste wedstryde minstens ses swart spelers moet inspan en in sommige wedstryde sewe.

Hulle sal bykans in elke wedstryd minstens twee etnies swart spelers moet gebruik en gereeld drie etnies swart spelers moet inspan om die vereiste teiken oor die loop van ’n seisoen te bereik.

Dié teikens gaan volgens die voorlegging aan die begin van die 2021-’22-seisoen na 60% (27% etnies swart) verhoog word en dan later in dieselfde seisoen tot 63% (30% etnies swart) styg.

Laasgenoemde syfers sal beteken die Proteas moet bykans in elke wedstryd sewe swart spelers kies, waarvan drie etnies swart.

Die oorspronklike vooruitskatting (50%) was redelike skattings, maar ons moes daaroor herbesin.

Vir die 2022-’23-seisoen – die seisoen waarin die volgende Wêreldbeker-toernooi oor 50 boulbeurte gespeel word – sal die Protea-span 63% swart spelers moet insluit, met 33% wat etnies swart moet wees.

Die voorlegging aan Mthethwa is deur dr. Eugenia Kula-Ameyaw, die gewese voorsitter van die transformasiekomitee en voormalige onafhanklike raadslid, behartig. Dié voorlegging is gedoen in die tyd toe die Black Lives Matter (BLM)-beweging in krieket begin stoom optel het. Verskeie swart oudspelers het Mthethwa gespreek en hul ervaringe van rassisme met hom gedeel.

Max Jordaan, KSA se transformasiebestuurder, het aan Netwerk24 bevestig dat hul oorspronklike plan was om die aanvangspunt vir die vooruitgeskatte transformasieteikens vir die tydperk van 2020 tot 2030, 50% te maak.

“Maar dit is nou 58%. Die laaste voorlegging aan die minister was in ’n tydperk van brose omstandighede in Suid-Afrikaanse krieket,” sê Jordaan.

“Die oorspronklike vooruitskatting (50%) was redelike skattings, maar ons moes daaroor herbesin.”

Jordaan sê hy wil transformasieteikens nou met die nuwe tussentydse raad bespreek.

Netwerk24 verneem die Protea-spanbestuur wil hê KSA moet sy transformasieteikens amptelik aankondig, sodat daar deursigtigheid kan wees.

“Ons het al met (Mark) Boucher en sy span daaroor gepraat en hulle weet wat die voorlegging aan die minister was. Ek sal dit nog bespreek met die tussentydse raad en ons sal dan ’n standpunt inneem,” sê Jordaan.

Oor die laaste paar jaar, sedert kwota-vereistes in 2016 op nasionale vlak ingestel is, is dit algemeen aanvaar dat daar oor ’n gemiddeld van ’n seisoen ses swart spelers ingespan moet word, waarvan twee etnies swart.

Daar is selde aan die spesifieke persentasies voldoen en daarom wou KSA sy teikens verlaag, voordat BLM hom genoop het om dit te verskerp.

Die probleem waarmee Boucher-hulle sit, is dat daar ’n tekort aan goeie swart, bruin en Indiër kolwers is ná die uittrede van staatmakers soos Hashim Amla en JP Duminy.

Daarom moet hulle nou spelers uit kolfposisie speel (Reeza Hendricks) of spelers wat goed op dreef is (Nortjé) uit die span weglaat, sodat die transformasie-somme kan klop. Desondanks het die Proteas nog nie in een van die twee T20-wedstryde teen Engeland aan die vereistes voldoen nie. In albei dié wedstryde is vyf swart (swart, bruin en Indiër) spelers en ses wit spelers gebruik.

Meer oor:  Ksa  |  T20  |  Anrich Nortjé  |  Krieket Suid-Afrika  |  Proteas  |  Engeland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.