Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Protea-plan: Genadeloos, dog slim

Die Proteas weet hoe hulle die twee kitsreekse teen Engeland gaan benader: Aanvallend, maar nie roekeloos nie.

Mark Boucher. Foto: Gallo

Suid-Afrikaanse kolwers én boulers gaan teenstanders in die vervolg meer regstreeks aanvat.

Mark Boucher, die Protea-breier, sal hoop veral sy kolwers vind baat by dié nuwe ingesteldheid. Terwyl ’n paar groentjies, soos Janneman Malan, Heinrich Klaasen en Kyle Verreynne, goed gevaar het in die span se eendag­reeks teen die Aussies vroeër vanjaar, tel nie een Suid-Afrikaner onder die voorste tien kolwers in T20-krieket nie.

Quinton de Kock, Suid-Afrika se beste kitskolwer, is net buite die toptien op nommer 13, terwyl Reeza Hendricks (16) en David Miller (20) die ander Proteas in die top-20 is.

Engeland, daarenteen, het twee kolwers in die toptien. Dawid Malan word as die voorste T20-kolwer in die wêreld gereken en die kaptein, Eion Morgan, is tiende. Jonny Bairstow (19) is ook in die top-20.

Engeland beklee tans die tweede plek op die wêreldranglys, met Suid-Afrika vyfde.

In eendagkrieket lyk dinge ook nie te waffers nie. Net Faf du Plessis (5) en De Kock (9) tel onder die top-20-kolwers. Engeland, die wêreldkampioen, het vier spelers in die top-20.

Mark Boucher, Protea-afrigter, het die afgelope week gesê sy spelers moet hul nuwe kultuur van slim, maar aanvallende krieket omarm in die reekse teen Engeland. Dis die enigste manier hoe hulle die aggressiewe Engelse benadering sal kan teenwerk.

“Ons moet byhou met die tendens van internasionale krieket, en aanvallende krieket is die rigting waarin dit beweeg,” sê Boucher.

Die span wil wen, maar ons wil leer terwyl ons wen.
Mark Boucher

“Maar jy moet slim wees en nie net wil inklim nie. Ons het vasgestel hoe ons wil speel en ook die spelers geïdentifiseer wat ons dink op daardie manier kan speel.

“Daar sal aan sekere spelers, wie se manier van speel nie noodwendig daarby inpas nie, die geleentheid gegee word om te groei. Om ’n paar nuwe houe tot hul arsenaal te voeg as hulle kolwers is, of verskillende aflewerings as ’n bouler.

“Ons moet spelers begin uitdaag om in die regte rigting te beweeg. Dit is egter ’n nuwe struktuur wat ons tyd sal moet gee om te ontwikkel. Die span wil wen, maar ons wil leer terwyl ons wen.”

Terwyl Boucher-hulle reeds ’n idee het van wie hul gevestigde spelers is, is daar ’n handvol kolwers wat ’n kleim kan afsteek om vir volgende jaar se T20-Wêreldbekertoernooi oorweeg te word.

Die Protea-breier het juis bevestig dat hy straks sy span gaan afwissel vir die volgende drie T20-wedstryde.

“Ons weet nog nie werklik wie ons topvyf-kolwers is nie. Ons sal spelers kies vir verskillende toestande. Die geleentheid is daar om na verskeie spelers te kyk. Dalk moet ons die werkslas van spelers bestuur wat in die IPL gespeel het en so ’n geleentheid aan ’n nuwe gesig gee.”

Bepalings

Eerste T20: Vrydag 27 November (18:00, Nuweland)

Tweede T20: Sondag 29 November (14:30, Bolandpark, Paarl)

Derde T20: Dinsdag 1 Desember (18:00, Nuweland)

Eerste eendagwedstryd: Vrydag 4 Desember (13:00, Nuweland)

Tweede eendagwedstryd: Sondag 6 Desember (10:00, Bolandpark, Paarl)

Derde eendagwedstryd: Woensdag 9 Desember (13:00, Nuweland)


Meer oor:  Krieket  |  T20  |  Eendagreeks  |  Proteas  |  Engeland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.