Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Oefeninge ‘uitlaatklep’ vir bioborrel-druk
Alex Carey in aksie vir Australië. Foto: Getty Images

Baie van hulle het weens koronavirus-protokolle maande laas hul families gesien, maar die Australiërs bly gefokus vir hul krieketreeks teen Indië, wat einde vandeesmaand in Sydney begin.

Volgens die Aussie-paaltjiewagter Alex Carey is hy en ’n hele klompie van sy spanmaats halfpad deur die kwarantyn-tydperk van twee weke nadat hulle verlede week van hul verpligtinge in die Indiese Premierliga teruggekeer het huis toe.

Die IPL is vanjaar in ’n bioborrel in die Verenigde Arabiese Emirate beslis.

Lede van die Indiese toerspan is natuurlik in dieselfde bootjie as die Aussies.

Ook hulle is tans Doer Onder in afsondering ná die IPL en sal die tuisspan op 27 November in die eerste eendagwedstryd pak, letterlik ’n dag nadat die kwarantyntydperk verstryk het.

Oefensessies is tans die spelers se enigste “uitkomkans” van afsondering in hul hotelkamers. Carey het Dinsdag gesê dié oefensessies word met oorgawe getakel.

Die oomblik wat jy terugkeer na die hotel, is dit reguit na jou kamer. Geen kontak met enigiemand nie.
Alex Carey

“Die kwarantynvereistes is bitter streng, wat goed is, so die ouens geniet die kans om buite te wees en bietjie die bene te strek,” het die 29-jarige tydens ’n video-onderhoud gesê.

“Die oomblik wat jy terugkeer na die hotel, is dit reguit na jou kamer. Geen kontak met enigiemand nie.

“Jy sien uit na daai volgende oggend nege-uur, wanneer jy weer na die oefenveld vertrek. Die energie is tasbaar en die ouens werk met oorgawe op die veld en in die nette.

“Almal hou egter streng by die protokolle. Ons verstaan dat dit belangrik is, ononderhandelbaar eintlik. So dis wat ons doen.”

Ofskoon Australië die koronavirus-pandemie min of meer onder beheer het, was daar onlangs in Adelaide, Carey se tuisstad, weer ’n opflikkering van positiewe toetse vir die virus.

’n Klompie Aussies, insluitende die toetskaptein, Tim Paine, het in Sheffieldskild-wedstryde in dié stad gespeel en is daarna beveel om in selfkwarantyn te gaan nadat hulle na hul tuisstate teruggekeer het.

Tot dan, sê Carey, wag almal in spanning vir die kwarantyntyd om te verstryk, sodat hulle weer met hul geliefdes herenig kan word.

Sy vrou, Eloise, en hul 2-jarige seuntjie, Louis, het sedertdien na Sydney vertrek en Carey sal hulle kort voor die eerste eendagstryd vir die eerste keer in bykans drie maande in lewende lywe kan sien.

Tot dan is hy en sy spanmaats en -personeel op mekaar aangewese om positief te bly.

“Die verhoudings wat ons in die groep het, trek ons deur die tyd. Dis ’n ondersteuningsnetwerk vir almal. Jy is saam met mense wat in dieselfde situasie as jy is. En sover ek kan vasstel, is die ouens positief,” het Carey gesê.

Engeland se Wêreldbeker-paaltjiewagter, Jos Buttler. Foto: Getty Images

Intussen het Jos Buttler, Engeland se onderkaptein, gesê die sielkundige eise van lewe in ’n bioborrel durf nie onderskat word nie.

Hy het spelers aangemoedig om hieroor te praat indien hulle voel die kloustrofobiese inperking is een te veel.

Engelse spelers was sedert die hervatting van die spel in Junie konstant in bioborrels – eers in vier tuisreekse en toe, vir sommige, inperking tydens die IPL in die VAE.

“Dit was veral taai om basies vir weke aaneen in jou eie agterplaas in ’n hotel vasgekeer te wees,” het Buttler gesê.

“Daar was bykomende druk op ons (as eendag-wêreldkampioen), so om nou ’n bietjie weg te breek, sal welkome verligting bring.

“Ofskoon ons nie soos voorheen ’n toer in Suid-Afrika sal kan geniet nie, is ons ten minste al gewoond aan lewe in die bioborrel.

“Al manier hoe jy die uitdaging van inperking kan oorleef, is deur te praat daaroor.

“Dis ’n emosionele wipwaentjierit. Soms verlang jy na jou mense, soms voel jy vasgevang tussen vier mure, die alleen-wees vir die grootste gedeelte van die dag is uitmergelend, frustrerend.

Dis ’n emosionele wipwaentjierit. Soms verlang jy na jou mense, soms voel jy vasgevang tussen vier mure, die alleen-wees vir die grootste gedeelte van die dag is uitmergelend, frustrerend.
Jos Buttler

“Ons moet seker maak almal sien kans hiervoor. Die Engelse Krieketraad sien gelukkig baie goed om na spelers se geestesgesondheid,” het die paaltjiewagter bygevoeg.

Engeland se eendagkaptein, Eoin Morgan, het verlede maand gesê enige speler kan sonder die vrees van nagevolge aan ’n toer onttrek indien die inperking sy geestestesgesondheid skaad.

Engeland sal nes Suid-Afrika in ’n bioborrel in die Vineyard-hotel in Nuweland tuisgaan.

Die spanne pak mekaar op 27 November op Nuweland in die eerste van drie T20-wedstryde. Twee van die ses toerwedstryde word ook in die Paarl beslis. – Reuters

Meer oor:  Jos Buttler  |  Engeland  |  Suid-Afrika  |  Indie  |  Australie  |  Krieket  |  T20  |  Reeks  |  Toetskrieket  |  Bioborrel  |  Eendagkrieket  |  Toer  |  Kwarantyn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.