Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Olivier breek deur ná oggend van chaos

’n Chaotiese eerste uur se spel sou die Protea-afrigter, Ottis Gibson, se bloeddruk behoorlik opgejaag het Saterdag op dag twee van die derde kriekettoets teen Pakistan op die Wanderers.

Duanne Olivier (links) en Vernon Philander (regs) stap saam met ’n teleurgestelde Dale Steyn. Foto: Gallo Images

Gelukkig vir Gibson se gesondheid het Duanne Olivier (2/20 in ses boulbeurte) met twee paaltjies in die eerste boulbeurt ná koeldranke, die skaal vierkant in die Proteas se guns geswaai.

Pakistan kolf ná die middagete met sy telling op 111/5 voort, nadat hy die dag op 17/2 begin het in antwoord op die Proteas se eerstebeurttelling van 262.

Voordat Olivier van die naguiltjie, Mohammad Abbas (11, 51 balle), en Asad Shafiq (0) ontslae geraak het, het die Proteas nie minder nie as ses(!) kanse in die eerste uur verbrou.

Eers het Quinton de Kock ’n moeilike stonkkans van Vernon Philander (3/25 in 10 bbe.) verbrou. Hy kon vroeg reeds van Abbas ontslae geraak het.

Daarna het Temba Bavuma, met Pakistan op 26/2, vir Abbas, met sy telling op ses, in die gangetjie laat val van Philander se boulwerk af.

In die volgende boulbeurt het Theunis de Bruyn van derde glip oorgereik en voor Dean Elgar probeer inspring om Imam-ul-Haq (43, 105 balle) van Dale Steyn se boulwerk te vang. Dié kans is ook verbrou.

Steyn het kort daarna ’n vurige boulbeurt teen Abbas afgestuur. Met Pakistan op 43/2, het De Kock ’n vangkans in dié boulbeurt verbrou.

De Kock het ook vir Imam, met sy telling op 33, van Kagiso Rabada se boulwerk laat val. In dieselfde beweging is ’n uithardloopkans agterweë gelaat toe Rabada die bal te hard terug na Olivier agter die penne aan die ander kant van die blad gegooi het, met Abbas ver buite sy kampie.

Nog slegte nuus vir Suid-Afrika was dat Steyn die veld kortstondig verlaat het, met wat na ’n skouerbesering gelyk het. Hy het egter later teruggekom.

Die blad het ook ’n bietjie oneweredige wip gewys, veral van Olivier se vurige boulwerk. ’n Aflewering of twee het laag gebly, terwyl Babar Azam (41*) in pyn neergesak het nadat ’n goeie-lengte-aflewering skerp opgeskiet en hom teen die maag getref het.

Philander het uiteindelik tien minute voor middagete ’n einde aan Imam se dapper beurt gemaak. Elgar het ’n uitstekende vangkans in die glippe benut om dié aanvangskolwer se beurt te beëindig.

Sarfraz Ahmed (8*) kolf ná middagete saam met Azam voort.

Meer oor:  Dale Steyn  |  Pakistan  |  Krieket  |  Wanderers  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.