Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Onder 4 oë
Victor Mpitsang: Die week van hemel en hel

Net twee dae nadat Victor Mpitsang toevertrou is met een van die heel belangrikste rolle in Suid-Afrikaanse krieket, het sy persoonlike lewe in duie gestort.

Krieket Suid-Afrika se pas aangestelde sameroeper van keurders het skaars tyd gehad om aan sy nuwe titel gewoond te raak toe ’n oproep van sy ouerhuis kom: Sy kleinsus is dood. Pulane, ’n ma van drie en net 37 jaar oud, is in die fleur van haar lewe geneem deur kanker.

Die nuwe nasionale keurderbaas, Victor Mpitsang, sê die fokus moet nou wees op hoe om weer nr. 1 te word. Foto: Gallo Images

“Dit gaan oukei, maar ek dink nie dit gaan so goed met haar kinders nie,” sê Mpitsang verlede week. “Haar kinders bly by my ma, en sy is ’n baie sterk vrou wat goed vir hulle kan sorg. Maar ’n mens bly maar bekommerd. Dit is nooit maklik vir enige kind om ’n ma te verloor nie.”

In die maand wat sedertdien verloop het, moes Mpitsang (40) sy kommer oor sy familie in balans hou met die eise van sy nuwe werk. Dat hy homself dadelik pens en pootjies in die rol van keurderbaas gewerp het, raak onmiddellik duidelik wanneer hy begin praat oor die eerste Pro­teas-span sedert die Covid-19-inperking begin het.

Krieket, hoor jy gou, is dié man se hartklop. Altyd sy silwer rand wanneer donker wolke bo hom saampak.

Die pragtige ding van die sport is dat jy nie van die spel hoef weg te stap wanneer jou speeldae eindig nie.

Mpitsang, sou baie mense al vergeet het, het in Februarie 1999 die jongste Proteas-speler in die geskiedenis geword toe hy as 18-jarige melkbaard sy eerste proesel internasionale krieket gekry het.

Dit was ’n droom wat waar geword het vir ’n knaap wat in daardie stadium ’n pad in goud plavei geloop het. Hy het as 17-jarige reeds vir die nasionale o.19-span gespeel en op 18 die o.19-Wêreldbeker beleef.

In sy Protea-debuut, op die destydse Springbokpark, het hy twee Windies-kolwers met agtereenvolgende aflewerings terug kleedkamer toe gestuur. Maar min het hy geweet daar lê min dae vir hom op die internasionale verhoog voor.

Victor Mpitsang
Victor Mpitsang is steeds die jongste Protea ooit. Foto: Gallo

Mpitsang sou daarna net een keer weer die Groen-en-goud dra, voordat ’n knaende enkelbesering – en later twee operasies – dié droom beëindig het. In ’n loopbaan wat daarna nog 13 jaar sou duur, het die nasionale keurders nooit weer kom klop nie. En tog, sê Mpitsang vandag, was hy nog nooit langlip daaroor nie.

“Ek loop nie rond met ’n ‘wat as?’ in my kop nie,” sê Mpitsang, wat steeds in die rekordboeke staan as Suid-Afrika se jongste debutant. “Sekere goed gebeur eenvoudig om ’n rede. Ek kan nie die wysers terugdraai nie, en ek kan nie my hele lewe lank wonder hoe anders dinge kon gewees het nie. Ek is eerder dankbaar vir wat wel gebeur het.

“Ek was baie bevoorreg om my kans te kry, en ek was eenvoudig nooit weer dieselfde ná my twee enkeloperasies nie. Maar ek het teen 25 ophou droom van die Proteas en my heeltemal ingewerp in wat ek in Bloemfontein vir die Knights kon beteken. Ek het my tyd gehad by die Proteas, en ek kan vandag terugkyk en glimlag oor ’n werklik wonderlike provinsiale loopbaan. Ek is oor letterlik niks spyt nie – toe ek (in 2012) uiteindelik uitgetree het, was dit op my voorwaardes, nadat ek myself in 2010 nog twee jaar gegee het. My lyf wou eenvoudig nie meer nie, maar sjoe, dit is nie elke ou wat 15, 16 jaar kan krieket speel nie. En die pragtige ding van die sport is dat jy nie van die spel hoef weg te stap wanneer jou speeldae eindig nie. Ek was gelukkig genoeg om dadelik op ander maniere te kon begin inploeg.”

Die kwessie is nie talent nie, die kwessie is hoe ons omsien na ons spelers en seker maak hulle word die heel beste wat hulle kan wees.

In die eerste dae ná sy uittrede het Mpitsang twee hoede gedra: dié van kommentator en van talentsoeker op junior vlak.

“Dit was ’n merkwaardige rol, want jy gaan na semiprofessionele wedstryde landwyd, en jy sien hoe outjies voor jou oë groei en beter raak. Daardie tye wanneer dit nie goed gaan met die Proteas nie, is mense baie lief om te sê daar is nie genoeg talent in Suid-Afrika nie.

“Dis nonsens, ons sien elke jaar wonderlike jong spelers deurkom, en die voerband gaan staan nie stil nie.

“Die kwessie is nie talent nie, die kwessie is hoe ons omsien na ons spelers en seker maak hulle word die heel beste wat hulle kan wees.

“Daar is ouens wat nooit vir Suid-Afrika sal speel nie, omdat daar iemand voor hulle in die ry is wat te goed is om uit die kussings gelig te word. Maar daardie ouens kan steeds fantastiese loopbane op provinsiale vlak hê, en daar dinge doen wat in die groter prentjie die Proteas sterker maak,” sê Mpitsang.

Die dae toe Suid-Afrika die toetsarena oorheers het omdat hy wedstryd ná wedstryd dieselfde ystermanne kon inspan, is nou al ’n paar jaar verby. Juis daarom moet Mpitsang-hulle hul taak verrig met een oog op die toekoms. Geen jong speler met potensiaal mag langs die pad verlore gaan nie.

“Ons is in ’n oorgangsfase, ons moet eerlik wees daaroor,” sê hy. “Ons fokus moet wees op hoe ons weer nr. 1 gaan word, en daarvoor moet ons ’n tydlyn stel.

“Maar ons is steeds in ’n goeie posisie, ons weet wie die spelers is op wie ons kan staatmaak. In die drie verskillende formate het ons nou verskillende doelwitte – in T20 kyk ons na volgende jaar se Wêreldbeker, in die eendagformaat is die fokus 2023 se Wêreldbeker en in die toetsarena kyk ons na hoe ons weer die beste kan word.

“Maar as jy gaan kyk na ons toetsspan voor Covid en die eendag- en T20-groep wat ons nou gekies het, is daar baie spelers wat in al die formate speel. Die kern van daardie drie spanne kan netsowel dieselfde wees in die afsienbare toekoms.”

Mpitsang staan nie net aan die hoof van die keurproses van die nasionale mansspan nie, maar is ook gemoeid met die nasionale vroue en die mans- en vrouespanne op o.19-vlak.

Die oogmerk is met almal dieselfde, sê hy: Om geleenthede te gee vir dié wat dit verdien, en seker te maak niemand word

Uiteindelik is al die spelers net krieketspelers, ongeag hul velkleur, en as hulle goed genoeg is, mag níks in hul pad staan nie.

te na gekom nie.

Omdat laasgenoemde wel in die verlede gebeur het, het Mpitsang vroeër vanjaar sy naam gevoeg by dié van ander voormalige Proteas wat hul steun aan die Black Lives Matter-beweging toegesê het. Net om een rede, sê hy: omdat hy glo almal verdien gelyke kanse.

“Ek stel nie belang daarin om net boksies te tiek en seker te maak die getalle is reg nie.

“Uiteindelik is al die spelers net krieketspelers, ongeag hul velkleur, en as hulle goed genoeg is, mag níks in hul pad staan nie,” sê hy.

“Die kruks van die saak is dat alle spelers, waar hulle ook al vandaan kom, toegerus moet word met wat hulle nodig het om die beste speler moontlik te word. Alle spelers is nie dieselfde nie, so as Speler X iets nodiger het as Speler Y, help hom om dit te kry.

“Dis die belangrikste ding wat ons franchise-afrigters kan doen, want geeneen van hulle wil ’n ou op die veld stuur as hy hom nie 100% vertrou nie. So máák van hom iemand wat jy vertrou.

“Gee hom ’n rol waarin hy kan groei. Kyk na iemand soos Graeme Smith: Hy was as 19-jarige ’n aanvangskolwer, en toe hy uittree, was hy steeds ’n aanvangskolwer. Hy het geweet wat van hom verwag word, en dit het hom beter gemaak.”

Soos almal hou Mpitsang sy asem op oor wat die eerste groep wat hy moes kies oor die volgende weke in T20- en eendagreekse teen Engeland sal kan uitrig. Maar hy is optimisties.

“Ons het baie goeie krieket in die vierdagreeks gesien, en ons ouens in die Indiese Premierliga was uitstekend. Hopelik word dit oorgedra na die internasionale arena.”

Meer oor:  Keurkomitee  |  Ksa  |  Victor Mpitsang  |  Krieket Suid-Afrika  |  Keurderbaas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.