Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
'Ons het net nie genoeg lopies gehad'

Dit was ’n wedstryd “van drie seksies”, sê Rassie van der Dussen, maar op die ou end het Suid-Afrika nie genoeg lopies gehad om die vierde T20-wedstryd teen Pakistan in Centurion te wen nie.

Pakistan se dramatiese sege met drie paaltjies Vrydagaand beteken dat hy die reeks met 3-1 wen.

Rassie van der Dussen onderweg na sy vyftigtal. Foto: AP

“Die eerste tien boulbeurte in ons kolfbeurt het ons goed gespeel, dit het volgens plan verloop. Van die 12de boulbeurt af het ons weggeval,” sê Van der Dussen, wat 52 lopies van 36 balle geslaan het in Suid-Afrika se beurt van 144.

Die Pakistani’s het die wenteiken met slegs een bal oor bereik. Dít nadat hulle in die tiende boulbeurt sterk op koers was met hul telling op 92/1.

“Pakistan se kolfbeurt het goed begin, Fakhar Zaman (60, 34 b) het ’n paar risiko’s geneem wat vrugte afgewerp het. Toe ons die paaltjies van hom en Babar (Azam, 24 van 23 b) gevat het, het die derde gedeelte van die wedstryd begin en ons het goed teruggeveg.

“Ongelukkig het ons net nie genoeg lopies gehad nie. Die blad was effe droër as in die vorige wedstryd, maar dit was nie ’n 140-blad nie. As ons nader aan 170 gehad het, sou dit ’n heel ander wedstryd gewees het.

“Ons het halftyd geweet ons rug is teen die muur, dit is moeilik om hier te verdedig, selfs groot tellings soos 200, soos ons Woensdagaand gesien het.

“Ons het net vir mekaar gesê dit is ons laaste wedstryd van die seisoen en ons moet hierna huis toe gaan en onsself in die spieël kyk en weet dat jy alles gegee het. Dit is al waarvoor ons kon vra.

“Ons moes veg vir elke bal. Ja, ons het verloor, maar dit gaan ook oor die wyse waarop jy verloor. Ons het nie gewen nie, maar goeie spanne wen wedstryde wat hulle nie moet wen nie.

“Ons het dié wedstryd bitter amper gewen nadat ons ná tien beurte in hul kolfbeurt geen reg gehad het om te wen nie.”

Ongelukkig het ons net nie genoeg lopies gehad nie.
Rassie van der Dussen

Die Proteas het dié wedstryd met slegs vier spesialiskolwers binnegegaan, maar Van der Dussen sê dít het hulle nie onder meer druk geplaas nie.

“Die ouens wat gekies is om in die middelbeurte te kolf, George (Linde), Wiaan (Mulder) en Andile (Phehlukwayo), is miskien veelsydige spelers, maar hulle is goeie kolwers ook.

“Die veelsydige spelers in ons span weet hulle het ’n taak om te verrig met die kolf en die bal, so dit het nie ’n invloed op ons gehad nie.

“Ons weet hoe ons wil kolf en waar ons op spesifieke stadiums in die wedstryd wou wees. Ons het dit met tye reggekry, maar het te veel paaltjies in die middel verloor en daardie ouens kon ongelukkig nie aan die einde daar wees nie.”

Van der Dussen sê die span het sy uitdagings gehad, met Kagiso Rabada, Anrich Nortjé, Lungi Ngidi, Quinton de Kock, David Miller en ’n paar ander spelers almal by die Indiese Premierliga. Die kaptein, Temba Bavuma, was boonop beseer.

“Enige span wat sewe van sy beste spelers verloor, sal sukkel. Die ouens wat in hul plekke gespeel het, was goed met tye, maar ons kon dit slegs in die tweede wedstryd op die Wanderers regkry om ’n afgeronde vertoning te lewer.

“Ons bou wel diepte en ons hoop om ook in ’n span van wêreldgehalte soos Pakistan te ontaard. Hulle is uitstekend.”

Meer oor:  Centurion  |  Pakistan  |  Krieket  |  T20-Reeks  |  Rassie Van Der Dussen  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.