Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Krieket SA: Operasie Regruk begin

Die tyd vir krieketliefhebbers om paniekerig te wees, is nou eers verby.

Graeme Smith

Dit was Saterdag die boodskap waarmee Dave Richardson, voormalige Protea-paaltjiewagter en IKR-grootbaas, probeer het om gemoedere te kalmeer nadat Krieket Suid-Afrika (KSA) aangekondig het hy sal die Titans-ringkop Jacques Faul oor die volgende ses maande help met SA krieket se Operasie Regruk.

Die KSA-president, Chris Nenzani, het op ’n nuuskonferensie in Johannesburg gesê Faul sal in ’n waarnemende hoedanigheid optree as uitvoerende hoof, in die plek van die geskorste Thabang Moroe.

Richardson sal hom in ’n konsulterende hoedanigheid bystaan nadat hy aangedui het hy is nie op ’n punt in sy lewe waar hy ’n heeltydse posisie soek nie. Hy is nou vir net meer as ’n maand terug in Suid-Afrika nadat hy sewe jaar lank die uitvoerende hoof van die Internasionale Krieketraad was.

Terwyl Suid-Afrikaners dié aanstellings as ’n stap in die regte rigting sal beskou ná ’n week waarin liters vitrioel na Moroe gespoeg is, sal die grootste opgewondenheid straks wees oor die aanstelling van Graeme Smith. Hy sal volgens Nenzani teen Woensdag as direkteur van krieket bevestig word.

Dit is die direkteur van krieket, eerder as die uitvoerende hoof, wat volgens Faul en Richardson die aanstellings moet maak wat Suid-Afrikaanse krieket terug op die wenpad kan kry.

Minder as drie weke voor die Proteas se eerste toets teen Engeland op Tweede Kersdag begin, is daar steeds nie duidelikheid oor wie die span gaan afrig of wie die keurders gaan wees nie.

Richardson is gevra of hy dink Suid-Afrikaners kan maar paniekerig daaroor wees.

“Ek dink hulle sou paniekerig daaroor kon wees as daar steeds geen pogings was om dit te verander nie,” het hy gesê.

“Maar die goeie ding is dat die uitdagings geïdentifiseer is en dat die nodige stappe nou gedoen word om die probleme te takel. Ek wil nie druk op Jacques sit nie, maar ek dink dit is moontlik om die skip baie vinnig om te draai. Ons het in die land al die bestanddele wat nodig is vir krieketsukses.”

Sowel Faul as Richardson is baie opgewonde oor die besluit om Smith te betrek.

“Graeme is presies wat ons nou nodig het,” het Faul gesê. “Vir diegene wat bekommerd is dat hy geen administrasie-ervaring het nie: Dit gebeur bitter selde dat jy iemand kry wat internasionale krieket gespeel het én ’n MBA en dinge soos daardie het, maar in Graeme het ons iemand wat al lank betrokke is in krieket, wat die kennis het om te beïnvloed hoe ons speel, hoe ons voorberei en wie ons aanstel. Wat hy nie weet nie, kan ons hom leer.

“Dit is belangrik dat hy betrokke raak, want dis wat die publiek wil sien. Ek dink ook daar is baie te lees daarin dat hy aanvanklik onseker was daaroor om die pos op te neem. Die feit dat hy van besluit verander het, dui op vooruitgang.”

Faul het gesê die mandaat om mense aan te stel wat sake op die speelveld sal regruk, is Smith s’n, eerder as syne.

“Ek was ’n baie goeie snelbouler vir Klerksdorp se eerste span, maar ek sal besluite oor die Proteas maar eerder aan Graeme oorlaat,” het hy geskerts.

Wat Faul se eie verantwoordelikhede betref, het hy gesê die herbouing van die verhoudings met die Spelersvereniging (Saca) en KSA se borge is heel bo aan sy prioriteitslys.

“Dis beslis iets om oor bekommerd te wees dat die verhouding met die spelersvereniging so sleg is, want die spelers is ’n baie belangrike aandeelhouer. Net so moet ons onmiddellik gesprekke hê met borge. Korporatiewe Suid-Afrika is maar ’n klein wêreldjie en die mense daar praat met mekaar.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.