Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Oplaas 'n spog-oorwinning vir Proteas
Quinton de Kock vier sy honderdtal met ’n gebaar vir ’n vriend in Suid-Afrika. Foto: Cricket West indies

Dit was naby aan ’n perfekte vertoning. Die Proteas het die toets van begin tot einde oorheers.

Daar was miskien een oomblik – toe die nuwe kaptein, Dean Elgar, in Suid-Afrika se eerste boulbeurt vir ’n nulletjie uit is – wat die span so effens onder druk was. Maar selfs toe nie regtig nie. Hulle het immers die Windies in hul eerste kolfbeurt op dag een vir 97 uitgeknikker.

Van meet af was die Proteas dodelik klinies – eers met die bal in die Windies se eerste beurt toe ’n skrikbewind deur Anrich Nortjé (4/35) en Lungi Ngidi (5/19) die tuisspan geknak het. Daar was die toets eintlik reeds gewonne. Maar geharde Protea-ondersteuners sal jou vertel al waarvan ’n mens die laaste paar jaar seker kon wees, is ’n Protea-kolfineenstorting of drie.

Daarom dat Elgar se paaltjie sekere mense dalk sou laat voel het: Ja, hier gaan ons al weer . . . Maar toe darem nie.

Aiden Markram (60) en Rassie van der Dussen (46) het die grondslag gelê en Quinton de Kock (141*) het die laaste bietjie twyfel oor die uitslag met parmantige kolfwerk laat verdamp.

Die Proteas het ’n eerstebeurtvoorsprong van 225 gehad en die enigste vraag was of hulle weer sou moes kolf.

Die uitslag was reeds aan die begin van dag drie bo verdenking, maar die Proteas het steeds met dissipline geboul.

Kagiso Rabada het aanvanklik net so ’n tikkie te wyd geboul op soek na swaai, maar later sy merkie gevind. En hoe lekker is dit nie om weer te kan sê Suid-Afrika se snelboulprins het ’n vyftal aan paaltjies platgetrek nie.

Rabada (5/34) het sy eerste oes van vyf in 19 toetse platgetrek. Voor dit het hy nege vyftalle in slegs 27 toetse ingeoes. Dít wys hoe droog die seisoen was wat hy onlangs beleef het.

“Jy meet jouself aan honderdtalle, of oeste van vyf paaltjies in ’n beurt of tien in ’n toets. Ongelukkig het dit in die laaste paar jaar nie vir my gebeur nie. Gelukkig het dit vandag,” sê Rabada.

“Al wat jy kan doen, is om bestendig te wees in jou voorbereiding. Ek is baie verlig en tevrede met my vertoning.”

Benewens die drie naatboulers, het die draaier Keshav Maharaj (2/23) ook Saterdag ’n paar paaltjies platgetrek. Dit beteken dat al vier die voorslagboulers ’n skitterende toets beleef het.

Vir Mark Boucher en die Proteas is die goeie nuus juis dat hierdie die volmaakte spanvertoning was. Daar was goeie vennootskappe met die kolf en bal, en dan natuurlik briljante individuele vertonings, soos De Kock se kolfpoging en Rabada, Ngidi en Nortjé se boulwerk.

Dít is presies waarna die span nou al so lank op soek is.

Rabada is dit eens dat dit ’n skitterende spanvertoning was.

“Die boulers het ’n baie goeie vertoning gelewer, maar dit was nie die maklikste blad om op te kolf nie. Ons het daaroor gepraat en dit verwag nadat ons ’n tweedaagse opwarmwedstryd gespeel het,” sê hy.

“Aiden het baie goed gekolf, Rassie het druk geabsorbeer en Quinny was net briljant. Dit is die Quinny wat ons ken.

“Ons het soveel potensiaal in ons span en in dié toets het dit na vore gekom. Ons hoop vir meer daarvan.”

Een swaeltjie maak allermins ’n somer, maar vir ’n beter eerste vertoning van die seisoen kon die span beswaarlik vra.

Die tweede toets begin Vrydag. Nou vir bestendigheid.

  • 1ste toets, St. Lucia, dag 3 Windies (1ste beurt) 97 SA (1ste beurt) 322 Windies (2de beurt) 162
  • SA wen met ’n beurt en 63 lopies.

Meer oor:  Krieket  |  Windies  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.