Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Ottis se afdanking ‘maak nie sin’

Hy vind dit ironies dat Corrie van Zyl, Krieket Suid-Afrika (KSA) se waarnemende direkteur van krieket, sê Enoch Nkwe, die waarnemende Protea-spandirekteur, sal nie net op een toer beoordeel word nie.

Want, sê Dale Benkenstein, dit is presies wat KSA met die ganse vorige Protea-afrigtingspan gedoen het.

Dale Benkenstein, die Proteas se voormalige kolfafrigter. Foto: Gallo Images

“Op die ou end is ons op grond van een toernooi beoordeel. Ons vertoningslys in die aanloop tot die Wêreldbekertoernooi was goed,” sê Benkenstein, wat die Proteas se kolfafrigter in die vorige bedeling onder Ottis Gibson was.

Van Zyl het verlede week gesê dit sal onregverdig wees as KSA Nkwe slegs beoordeel op die Proteas se prestasies tydens hul opkomende toer in Indië.

Gibson, Malibongwe Maketa (hulpafrigter), Justin Ontong (veldwerkafrigter), Claude Henderson (draaiboul-afrigter) en Benkenstein is almal in die WB-nadraai gepos.

“Ek kon eintlik nie afgedank word nie, want my kontrak het in Julie geëindig en ek het teruggekeer na Hilton College (waar hy die krieketafrigter is),” sê Benkenstein.

“Tog is ek steeds gepos, het ek in die koerante gelees. Die plan was altyd dat ek ná die WB heeltyds na Hilton sou terugkeer.

Ottis is ’n puik afrigter. Suid-Afrika is nie ’n maklike span om af te rig met die kriteria waaraan jy moet voldoen wat die kies van die span betref nie.

“As Ottis aangebly het en iemand het my gevra om aan te bly, sou ek dit oorweeg het, maar die kans sou bitter skraal wees,” sê Benkenstein, wat ’n reëling met KSA getref het dat hy steeds deeltyds by Hilton kon afrig terwyl hy die Protea-kolwers gebrei het.

“In daardie opsig is ek die gelukkigste van al die afrigters wat gepos is, want ek het darem nie my vorige werk verlaat nie.”

Hy sê KSA het al die breiers onregverdig behandel. Veral vir Gibson en Maketa.

“KSA het vir Ottis sekere goed gesê en dan teruggekrabbel,” sê hy. Dit het vroeër aan die lig gekom dat Thabang Moroe, KSA se uitvoerende hoof, in Februarie reeds voorwaardelik vir Gibson gesê het sy kontrak kan tot 2021 verleng word.

Ottis Gibson. Foto: Getty Images

Benkenstein sê Gibson het hom, ondanks uitdagings wat uniek aan Suid-Afrika is, skitterend van sy taak gekwyt.

“Ottis is ’n puik afrigter. Suid-Afrika is nie ’n maklike span om af te rig met die kriteria waaraan jy moet voldoen wat die kies van die span betref nie.

“Ek dink Ottis het dit nietemin uitstekend hanteer. Dit is uitdagings waarmee jy nêrens anders in die wêreld gekonfronteer word nie.”

Hy sê dat die Proteas ondanks ’n vrot WB-veldtog ’n hegte eenheid gebly het, spreek boekdele van die mens wat Gibson is.

“Daar was niks kwessies weg van die veld nie en daarvoor moet Gibbo, Faf (du Plessis, die kaptein) en Dok (Mohammed Moosajee, vorige spanbestuurder) baie krediet kry.”

Wat KSA gedoen het, maak nie sin nie. Hulle het ’n uitstekende afrigter verloor.

Die lesse wat by die WB geleer is, sê Benkenstein, was waardevol en daarom maak dit nie vir hom sin dat Gibson gepos is nie.

“Hy en Mali (Maketa) het soveel ervaring opgedoen. Wat KSA gedoen het, maak nie sin nie. Hulle het ’n uitstekende afrigter verloor.

“Ek kan nie sien hoe dit ’n goeie besluit is wat KSA geneem het nie.

“Maar ek het geen twyfel dat Mali, Justin, Claude en Ottis weer op hul voete sal land nie. Soms leer ’n mens die meeste in sulke moeilike tye.”

Benkenstein sê hy het sy tyd by die Proteas baie geniet en tuis gevoel op die internasionale verhoog. Hoewel al sy aandag nou by Hilton is, sal hy dit gewis weer oorweeg om internasionaal af te rig.

Meer oor:  Ksa  |  Corrie Van Zyl  |  Proteas  |  Dale Benkenstein  |  Ottis Gibson
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.