Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Ottis waai as Proteas nie WB wen

As Ottis Gibson se kontrak nie aangepas word nie, sal hy die trekpas as Protea-breier kry as Suid-Afrika nie vanjaar se Wêreldbeker-kriekettoernooi in Engeland wen nie.

Ottis Gibson, die Protea-afrigter, en Faf du Plessis, die kaptein. Foto: Gallo Images

Thabang Moroe, Krieket Suid-Afrika se uitvoerende hoof, het Woensdag in Johannesburg gesê Gibson se huidige kontrak stel Wêreldbeker-glorie as ’n voorvereiste vir moontlike onderhandelings oor ’n kontrak-verlenging.

“Toe KSA se raad Ottis aangestel het, was dit met die uitsluitlike mandaat om die Wêreldbeker-toernooi te wen. As hy dít regkry, sal daar moontlik na ’n verlenging van sy kontrak gekyk word,” sê Moroe.

“Ek het so een of twee oproepe gekry waarin ek gevra is om met die raad te praat en te vra of hulle nie nou van plan verander het en ’n nuwe siening het wat Ottis se kontrak betref nie. Ek sal dit doen.

“Soos sake tans staan, omdat die raad nog nie vergader het nie, sal Ottis se kontrak nie verleng word as die Proteas nie die Wêreldbeker-toernooi wen nie.”

Moroe is wel beïndruk met Gibson se werk tot dusver.

“Ek is baie tevrede met dít wat hy tot dusver vermag het. As ’n voormalige bouler en ’n goeie boulafrigter, kan ’n mens sien watter goeie werk hy met die boulers doen.

“Ons boulers het die meeste van ons laaste wedstryde vir ons gewen. Terselfdertyd het ons kolwers ook onlangs goed gevaar.”

Volgens hom sal dit onregverdig wees om te sê wat sy eie siening oor ’n moontlik verlenging van Gibson se kontrak is.

“Ek bestuur die bedrywighede van KSA, so as ek my mening lug, kan ek die raad óf vir Ottis in ’n sekere rigting stoot. Ek sal graag eers met Ottis wil gesels om te hoor of hy graag sou wou voortgaan en hoe hy die toekoms van krieket in Suid-Afrika sien.

“Dan kan ek daardie sienings na die raad neem. Tog dink ek nie dit is moeilik om uit te pluis hoe ek oor die saak voel nie, gegewe die vleiende wyse waarop ek oor hom praat.

Toe KSA se raad Ottis aangestel het, was dit met die uitsluitlike mandaat om die Wêreldbeker-toernooi te wen.

“Ek glo nie krieketliefhebbers sal krokodiltrane huil as Ottis as afrigter aanbly nie,” sê Moroe.

Dit is ook logies om af te lei dat Faf du Plessis, die Protea-kaptein, een van Suid-Afrika se krieketfigure is wat graag sal wil sien dat Gibson se kontrak verleng word.

Die breier het ná die derde en laaste toets teen Pakistan op die Wanderers gesê hy het ’n bondgenoot in Du Plessis gevind.

“Faf is ’n uitstaande leier. Ek en hy praat soms meer as wat ek en my vrou praat. Ons deel dieselfde filosofie oor hoe ons krieket in die land vorentoe wil neem,” het Gibson gesê.

“Ek het net twee jaar (van 2017 tot die Wêreldbeker) as afrigter – dit mag dalk meer wees, ons weet nog nie – so jy dink gedurig hoe jy in daardie twee jaar ’n verskil kan maak.

“Om dít te doen het jy ’n bondgenoot nodig. Ek het ’n uitstekende bondgenoot in Faf gevind. Ons deel dieselfde doelwit om weer die voorste span op die toetsranglys te word en die Wêreldbeker-toernooi te wen.”

Sedert Gibson in September 2017 die leisels gevat het, het die Proteas 11 van hul 15 toetse, 12 van hul 20 eendagwedstryde en ses van hul nege T20-wedstyde gewen.

* Intussen is Aiden Markram en Duanne Olivier by die Proteas se eendaggroep vir die reeks van vyf wedstryde teen Pakistan gevoeg.

Hulle vervang vir Quinton de Kock en Dale Steyn, wat albei ’n blaaskans gegun word.

Die eerste eendagwedstryd word Saterdag in Port Elizabeth beslis.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.