Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Oud-Boishaaier oortref Engelse rekord

Die oud-Paarl Boishaaier in Engeland se krieketspan, Dawid Malan, het Vrydag sy land se T20-rekordboeke herskryf met ’n blitsige honderdtal, wat Nieu-Seeland in die spanne se vierde T20-kragmeting gesink het.

Dawid Malan vier sy honderdtal Vrydag teen Nieu-Seeland in Napier. Foto: Getty Images

Malan (103*, 51 balle; 6x4, 6x6) en sy kaptein, Eion Morgan (91, 41 b; 7x4, 7x6), het Engeland gehelp om ’n enorme totaal van 241/3 in Napier op te stapel. Die tuisspan is in antwoord hierop vir 165 uitgeboul en Engeland het die wedstryd met 78 lopies gewen.

Malan het sy honderdtal van slegs 48 balle af aangeteken – die vinnigste T20-honderdtal nog deur ’n Engelsman.

“Dit was baie spesiaal. Dit gebeur nie gereeld dat jy dae soos vandag het waar alles wat jy slaan, of veilig land of vir ses vlieg nie,” het Malan aan Sky Sports gesê.

“Ek kan nie beskryf hoeveel pret dit was nie. In die eerste wedstryd het ek verroes gevoel, ek het nie gevoel of ek enige ritme het nie. Daarna het ek meer vloeiend gevoel hoe meer ek gekolf het.

“Ek het vanoggend nadat ek ’n paar balle geslaan het, vir Colly (Paul Collingwood, hulpafrigter) gesê dit voel of ek nou van die roes ontslae geraak het.

“Dit beteken nie jy is gewaarborg om lopies te slaan nie, maar ek het gevoel dat ek die ritme het waarna ek op soek was in die eerste twee of drie wedstryde.”

Hy het dit ook geniet om saam met Morgan te kolf. Dié Middlesex-duo het ’n vennootskap van 182 om die derde paaltjie gedeel.

“Dit was wonderlik om Malan vandag ’n honderdtal te sien slaan. Dit is presies wat jy wil sien, dat ’n ou wat min geleenthede kry, sy kanse benut,” het Morgan ná die oorwinning gesê.

Malan het nou in ses van sy internasionale T20-wedstryde verby vyftig gevorder. Geen ander kolwer in wêreldkrieket kon dit meer as vier keer in sy eerste tien beurte doen nie.

Die reeks is nou met 2-elk gelykop. Die laaste wedstryd word Sondag gespeel.

* Malan (32) is in Engeland gebore, maar was in Hoër Jongenskool Paarl op skool. Hy het in 2005 gematrikuleer. – Sky Sport, Sportredaksie

Meer oor:  Dawid Malan  |  Krieket  |  T20-Krieket  |  Napier  |  Nieu-Seeland  |  Engeland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.