Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Oud-Bolander sink Proteas in Paarl

Dit was Sondag in die Paarl, in die tweede T20-krieketstryd teen Engeland, weer duidelik dat die Suid-Afrikaanse kolflys heeltemal te veel staatmaak op Quinton de Kock en Faf du Plessis.

En wanneer dié twee staatmakers nie groot beurte speel nie, teken die Proteas eenvoudig nie genoeg lopies aan nie.

Kagiso Rabada en Lungi Ngidi vier die paaltjie van die Engelse aanvangskolwer Jason Roy.Foto: Gallo Images

Engeland (150/6) het die reeks van drie T20-stryde op Bolandpark beklink toe hy met vier paaltjies gewen het. Die wenlopies is van die voorlaaste bal af behaal.

De Kock (30) en Du Plessis (11) het albei goed op dreef gelyk, maar kon nie hul goeie begin in groot kolfbeurte omskep nie en die druk is toe op die minder ervare kolwers in die SA kolflys geplaas om die beurt vleis te gee.

Die Proteas het uiteindelik tot ’n middelmatige 146/7 gesukkel. Teen ’n gedugte Engelse kolflys sou dit nooit genoeg wees nie.

Waar Johnny Bairstow Vrydagaand op Nuweland die held was, was dit dié keer Dawid Malan (55 van 40 balle; 7x4, 1x6) se beurt op Bolandpark.

Die oud-Bolander, wat in die Hoër Jongenskool Paarl op skool was, het geduldig gebou aan die beurt en toe in die pylvak uitstekend versnel.

Dawid Malan moker nog ’n bal grens toe in sy deurslaggewend beurt van 55 lopies teen die Proteas.Foto: Gallo Images

Malan het weer gewys dat Engeland oor meer as ’n handvol wedstrydwenners in sy kolflys beskik.

As Jos Buttler, Jason Roy of Malan misluk, is daar steeds spelers van Ben Stokes en Eoin Morgan se kaliber om die wa deur die drif te trek.

Malan het ná die wedstryd gesê dat hulle met soveel kolfkrag in hul span altyd glo dat hulle ’n wedstryd kan wen.

“Die kern van die span speel die afgelope vyf jaar saam. Hulle het die Wêreldbeker-toernooi gewen, hulle speel in die IPL en in ander groot toernooie. Hulle weet hoe om wedstryde op die groot verhoog te wen en dit is ’n fantastiese eienskap om te hê,” het Malan gesê.

Een van die min positiewe aspekte van die dag se spel vanuit ’n SA oogpunt, was die boulwerk van Anrich Nortjé en Tabraiz Shamsi.

Nortjé is gekies in die plek van Beuran Hendricks en het al die Engelse kolwers gepla met sy vaart.

Hy het in sy tweede boulbeurt ’n opslagbal van 151 km per uur afgestuur en Malan teen die skouer getref. Hy het dit opgevolg met nog ’n giftige aflewering (150 km/h), wat Malan dié keer tussen die bene getref het.

Tabraiz Shamsi sit die bal agterna in Sondag se tweede T20-stryd teen Engeland in die Paarl. Foto: Getty Images

Die geluk was egter nie aan sy kant nie en hy kon nie dié druk in paaltjies omskep nie.

Shamsi (3/19) was ook uitstekend. Hy het die toestande baie goed benut en die paaltjies van Buttler, Bairstow en Stokes gekry.

• Vroeër het die Suid-Afrikaanse kolfbeurt nooit regtig aan die gang gekom nie.

Quinton de Kock en Temba Bavuma het 17 lopies van die derde boulbeurt – geboul deur Sam Curran – gemoker, maar Bavuma is geboul deur Jofra Archer en die beurt het toe sy momentum verloor en dit is nooit herwin nie.

George Linde (27 van 19 balle; 2x4, 1x6) het teen die einde ’n paar grenshoue geslaan, maar dit was helaas nie genoeg om ’n gedugte teiken daar te stel nie.

TELKAART

Meer oor:  T20  |  Proteas  |  Engeland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.