Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Cook op verkenningstog na Pakistan

Krieket Suid-Afrika gaan ’n afvaardiging na Pakistan stuur om die veiligheidsituasie daar te ondersoek voordat die Proteas volgende jaar potensieel na dié land sal toer.

Stephen Cook in sy speeldae. Hy gaan die veiligheidsituasie in Pakistan vanuit spelers se perspektief onder loep neem. Foto: Getty Images

Pakistan sukkel sedert 2009 om internasionale tuiswedstryde aan te bied nadat terroriste die Sri Lankaanse krieketspan se spanbus daardie jaar in Lahore aangeval het.

Dié aanval was die eerste keer dat ’n internasionale krieketspan spesifiek deur terroriste geteiken is.

Voor dit het die Pakistanse regering altyd aangevoer dat krieket nie ’n teiken is nie en dat hulle internasionale spelers kan beskerm.

Die situasie in Pakistan het egter nou skynbaar genoegsaam verbeter dat spanne dit weer oorweeg om soontoe te toer. Pakistan het die afgelope dekade die meeste van sy “tuiswedstryde” in die Verenigde Arabiese Emirate gespeel.

Andrew Breetzke, die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Spelersvereniging (Saca), het bevestig dat die voormalige Protea-kolwer Stephen Cook Saca se verteenwoordiger op die afvaardiging sal wees.

“Die afvaardiging sal ook internasionale veiligheidsdeskundiges insluit.

“In die stadium is ons taamlik positief oor die toer, maar dit is natuurlik afhangend van wat die uitslag van die verkenningstog gaan wees,” het Breetzke gesê.

“Die veiligheid en gesondheid van die spelers is ons vernaamste prioriteit en ons sal ons daardeur laat lei,” het Breetzke gesê.

Die veiligheidsituasie in Pakistan sal nie net ondersoek word nie, maar ook die land se vermoë om spelers se gesondheid tydens die Covid-19-pandemie te verseker.

KSA se afvaardiging sal Pakistan in Desember besoek, wanneer Zimbabwe daar op toer gaan wees.

“Die afvaardiging sal van die wedstryde bywoon,” het Breetzke gesê.

In die stadium is ons taamlik positief oor die toer, maar dit is natuurlik afhangend van wat die uitslag van die verkenningstog gaan wees.
Andrew Breetzke

Indien die beplande toer voortgaan, sal dit die Proteas se eerste besoek aan Pakistan sedert 2007 wees, toe Suid-Afrika die toetsreeks met 1-0 gewen het.

Daardie toer het ook te midde van veiligheidsvrese plaasgevind, met die voormalige Pakistanse eerste minister Benazir Bhutto wat tydens ’n optog in Karatsji vermoor is. Die Proteas het Karatsji twee dae voor dié voorval verlaat.

Internasionale krieket het die laaste jaar of wat geleidelik ’n terugkeer in Pakistan gemaak.

Benewens oorsese spelers wat in Pakistan se T20-liga gaan speel het, het ’n sterbelaaide span van die Marylebone Cricket Club (MCC), onder leiding van sy president, Kumar Sangakkara, vertoonwedstryde daar gespeel.

Sangakkara was kaptein van die Sri Lankaanse span in 2009.

Sri Lanka het verlede jaar, ’n dekade ná die aanval, vir ’n toer na Pakistan teruggekeer en Bangladesj was ook sedertdien daar in aksie.

Meer oor:  Pakistan  |  Krieket  |  Andrew Breetzke  |  Proteas  |  Stephen Cook
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.