Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Oud-Protea maak indruk by Engelse

Die voormalige Protea-draaier en -draaiboulafrigter Claude Henderson is hoopvol om vorentoe weer deur Engeland se krieketspan ingespan te word.

Claude Henderson hoop om in die toekoms weer by Engeland se nasionale span betrek te word. Foto: Gallo Images

Die 48-jarige Henderson het die Engelse vir hul onlangse eendagreeks teen Ierland bygestaan as die draaiboulers se breier. Engeland moes vir dié reeks, wat slegs enkele dae ná die toetsreeks teen die Wes-Indiese Eilande begin het, ’n paar wysigings aan sy afrigterskorps aanbring. Dít het Henderson die geleentheid gebied om sy kennis met Engeland se draaiers in die eendag-formaat te deel.

“Ek was ’n konsultant met die doel om vorentoe meer betrokke te raak, hopelik wanneer alles weer naby aan normaal is,” sê Henderson.

Dit klink of die Engelse gehou het van wat hulle gesien het.

“Ek het goeie terugvoering gekry. Dit sal lekker wees om meer betrokke te raak.”

Henderson was tot en met die Wêreldbeker-toernooi verlede jaar in Engeland nog in die Proteas se afrigtingspan.

Paul Adams het die Protea-draaiers daarna op ’n boulkamp in Indië bygestaan voor die span se toer soontoe verlede jaar toe Enoch Nkwe waargeneem het as die hoofafrigter.

Die voormalige Protea-draaier Paul Harris, wat vir ’n ruk lank al Keshav Maharaj se “klankbord’’ is, is die afgelope seisoen saam met die Proteas gesien. Graeme Smith, direkteur van krieket, het onlangs verduidelik Harris is op Maharaj se versoek betrek.

Henderson het hom in 2004 as Kolpak-speler by Leicestershire aangesluit en nege seisoene vir die Foxes gespeel voordat hy in 2013 deel geword het van die Proteas se afrigtingspan.

Henderson sê Mo Bobat, die direkteur van Engeland se hoëprestasie-eenheid, het hom genader om Engeland te help. Die Engelse weet ook hy is op hul voorstoep beskikbaar omdat hy al jare lank daar bly.

“Ek woon permanent in Engeland, min mense weet dit – al vanaf 2004.”

Engeland het die kitsreeks teen Ierland met 2-1 gewen nadat die Iere 329/3 in die laaste wedstryd vir ’n oorwinning behaal het.

Henderson sê hy is nie tans by ’n graafskap in Engeland betrokke nie.

Hy het hom in die tydjie saam met Engeland aangesluit by ’n groepie oud-Proteas wat al as afrigters/konsultante by die Proteas én ander toetslande betrokke was. Onder hulle tel Gary Kirsten (Indië, Bangladesj), Allan Donald (Engeland, Nieu-Seeland, Sri Lanka, Australië), Charl Langeveldt (Afghanistan, Bangladesj) en Neil McKenzie (Bangladesj, Sri Lanka).

Meer oor:  Toetskrieket  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.