Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Oudregter Ngoepe boul Tsolekile skoon
Thami Tsolekile verloor sy middelpen in ’n wedstryd teen die Warriors in 2015. Foto: Gallo Images

Die geskorste voormalige Protea-paaltjiewagter Thami Tsolekile het verder pak slae gekry oor oënskynlike onwaarhede wat hy Dinsdagaand op Robert Marawa se radioprogram oor plaaslike krieket se knoeiskandaal van 2015 kwytgeraak het.

Oudregter Bernard Ngoepe, wat die ondersoek na die knoeiskandaal gelei het, het in ’n verklaring van Krieket Suid-Afrika (KSA) hard na Tsolekile gekap en verskeie van sy beweringe as onsin afgemaak.

Tsolekile het in sy onderhoud onder meer gesê die ondersoek was onregverdig en dat spelers soos Vaughn van Jaarsveld en Robbie Frylinck ook by knoeiery betrokke was, maar dat die “ondersoekers hulle beskerm het omdat hulle wit” is. Hy meen slegs swart spelers was in die visier.

Wit én swart spelers is ondersoek en aangekla.
Bernard Ngoepe

Van Jaarsveld, wat inderwaarheid ’n fluitjieblaser was, het Donderdag aan Netwerk24 gesê hy oorweeg regsaksie teen Tsolekile.

Oudregter Ngoepe het Vrydag in die verklaring gesê die aantyging dat swart spelers geteiken is, moet verwerp word.

“Wit én swart spelers is ondersoek en aangekla,” sê Ngoepe.

Tsolekile, Gulam Bodi, Jean Symes, Pumi Matshikwe, Ethy Mbhalati, Lonwabo Tsotsobe en Alviro Petersen is almal destyds geskors. Bodi is ook strafregtelik vervolg en in 2019 vyf jaar tronkstraf opgelê.

Oud-regterpresident Bernard Ngoepe het die knoeiskandaal in Suid-Afrikaanse krieket gelei.

Ngoepe het Van Jaarsveld se weergawe bevestig dat hy inderdaad ’n fluitjieblaser was, en nie, soos Tsolekile beweer het, genader is, maar stilgebly het daaroor nie. ’n Speler moet binne 48 uur vir KSA of die Spelersvereniging (Saca) in kennis stel as hulle deur knoeiers genader is. Anders kan hulle, soos wat met Tsolekile gebeur het, aangekla word.

KSA het Vrydag bevestig dat Van Jaarsveld en sy spanmaat Craig Alexander deur Bodi genader is, maar dit aangemeld het. Hulle is ook ondersoek, maar die ondersoekspan en die Valke het hulle kwytgeskeld.

“Vaughn en Craig moet daarvoor geloof word dat hulle die regte ding gedoen het.”

Tsolekile het KSA nou genoop om hul identiteit bekend te maak. Die beheerliggaam het onderneem om hul identiteit te beskerm om sodoende die belange van die spelers en hul gesinne te beskerm, aangesien die teenkorrupsie-eenheid op die welwillendheid van spelers staatmaak om na vore te tree as knoeiers hulle nader.

Ngoepe het ook Tsolekile se bewering verwerp dat hy nooit van enige bewyse voorsien is nie en dat hy nie die klagte teen hom ontvang het nie.

Ngoepe het ook Tsolekile se bewering verwerp dat hy nooit van enige bewyse voorsien is nie en dat hy nie die klagte teen hom ontvang het nie.

Sedert die Black Lives Matter (BLM)-beweging in Suid-Afrikaanse krieket begin groei het, het verskeie spelers wat vir die knoeiskandaal geskors is, daarop begin sinspeel dat daar meer spelers is wat skuldig was, maar dat dié spelers nie ondersoek is nie, of dat hulle beskerm word.

Mbhalati het Vrydag weer daarna verwys op Twitter.

KSA se verklaring werp meer lig op dié onderwerp. Bodi het aan die ondersoekers gesê hy het die name van baie prominente spelers, “swart en wit”, gebruik as ’n taktiek om die spelers wat hy vir knoeiery genader het, gerus te stel.

“Die moontlike betrokkenheid van al die spelers is deeglik ondersoek. Dit is nie in die praktyk regverdig teenoor die spelers om hul name te publiseer nie,” sê Ngoepe.

Robbie Frylinck

Frylinck is ’n voorbeeld van só ’n speler.

Tsolekile het aan Marawa beweer Frylinck was tydens die Kampioeneliga-toernooi in 2014 in Indië by knoeiery betrokke.

Louis Cole, KSA se teenkorrupsie-hoof, sê Alexander en Van Jaarsveld het albei bevestig dat Bodi Frylinck se naam genoem het as deel van sy plan om hulle te oortuig om betrokke te raak.

“Dit is deeglik ondersoek, wat onderhoude met ’n beroepswedder in Indië ingesluit het, en geen bewyse is gevind om die moontlikheid te ondersteun dat Frylinck genader is nie,” sê Cole.

Nog ’n bewering van Tsolekile, naamlik dat Saca die ondersoek uitgevoer het, word in die verklaring verwerp. Die ondersoek van 18 maande is deur KSA se teenkorrupsie-eenheid uitgevoer, onder leiding van oudregter Ngoepe, in samewerking met eksterne spesialis-prokureurs, die Internasionale Krieketraad, die Indiese Krieketbeheerraad, die Valke en ’n eksterne digitale forensiese span.

Elke speler is deur sy eie prokureur verteenwoordig, wat by elke vergadering teenwoordig kon wees. Tsolekile het Dinsdagaand gesê hulle is gedwing om die klagte teen hulle te aanvaar. Ook dít word in die verklaring deur KSA verwerp.

Tsolekile het Dinsdagaand gesê hulle is gedwing om die klagte teen hulle te aanvaar. Ook dít word in die verklaring deur KSA verwerp.

Die skuldiges het selfs insae gehad in die mediaverklaring waarin KSA die nuus van hul strawwe rugbaar gemaak het. Klank- en video-opnames is van alle onderhoude gemaak en vorm tans deel van ’n voortslepende strafregtelike ondersoek deur die Valke.

Frylinck wou nie kommentaar lewer nie, maar daar word verneem dat hy ook regsaksie teen Tsolekile oorweeg.

• Intussen het die president van Noordelikes Krieketunie, Tebogo Siko, Vrydag ’n brief aan KSA se raad geskryf waarin hy die beheerliggaam waarsku dat “een verdere misstap” kan veroorsaak dat KSA beheer verloor.

Meer oor:  Thami Tsolekile  |  Vaughn Van Jaarsveld  |  Bernard Ngoepe  |  Johannesburg  |  Krieket  |  Rassisme  |  Blm
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.