Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Oudspeler kan voortaan op KSA-raad dien

Daar is ’n sterk moontlikheid dat ’n voormalige Protea-speler voortaan op Krieket Suid-Afrika (KSA) se raad kan dien.

John Mogodi, ’n lid van KSA se hoogste besluitnemingsgesag, die lederaad, het Saterdag aan Netwerk24 verduidelik wat hul padkaart vir die weg vorentoe behels. KSA se lederaad – wat bestaan uit die 14 uniepresidente – het verlede naweek ’n bosberaad in Johannesburg gehad, waar hulle ’n opsomming van die veelbesproke forensiese verslag na KSA-bestuurspraktyke bestudeer het.

Uit dié opsomming het die lederaad ’n padkaart opgetrek oor hoe om die 20 bevindinge te hanteer. ’n Derde party, wat ’n regsfirma sal wees, sal die inwerkingstelling van die padkaart monitor.

John Mogodi, ’n KSA-lederaadslid, by ’n Zoom-nuuskonferensie. Foto: Gallo Images

Die padkaart is reeds in werking gestel en dit begin by ’n wysiging aan die beheerliggaam se bestuursdokument, sy akte van inlywing.

“Sekere bevindinge in die forensiese verslag wys daarop dat ons akte van inlywing verouderd is en dit skep probleme in krieket. ’n Nuwe voorlopige akte van inlywing is besig om gefinaliseer te word. Dit is veronderstel om Vrydag aan ons oorhandig te word,” sê Mogodi.

Die akte van inlywing moet eers deur al die provinsies deurgelees en goedgekeur word. Die provinsies kan ook aanbevelings maak.

“Ons doelwit is om die finale akte van inlywing volgende maand te hê, wat dan amptelik aangeneem kan word. Ons sal dan daardie akte van inlywing by die jaarvergadering gebruik.

“Daar is vyf hoofkwessies met die akte van inlywing. Die eerste een handel oor die samestelling van die raad. Die tweede een is geopolitieke belyning – hoe ver elke lid is, want daar is nege provinsies, maar daar is tussen 14 en 16 lede wat krieket speel.

“Die derde kwessie is die magte van die lederaad, die raad en bestuur, en hoe om die uitvoering van gesag meer vaartbelyn te maak, sodat dit duidelik is vir almal.

“Daar is ook die kwessie van belangebotsings – ek is van Limpopo en sit op die raad, wat beteken dit vir die hantering van kwessies rondom Limpopo, wat op raadsvlak bespreek word?

“Vyfdens was die groot kwessie – en dit wat eindelik aanleiding gegee het tot die uitstel van die jaarvergadering – die benoeming van mense om as onafhanklike raadslede te dien.”

Dit is nie ideaal om nie ’n Protea-stem op die raad te hê nie.
John Mogodi

Wat die samestelling van die raad betref, kyk die lederaad moontlik na ’n groter verteenwoordiging van onafhanklike raadslede.

“Ons is ook bewus daarvan dat daar in die media genoem is dat ’n oudspeler op die raad moet sit, dit was ook eenparig deur die lederaad goedgekeur. Dit gaan oor krieketspelers. Dit is nie ideaal om nie ’n Protea-stem op die raad te hê nie. Om ’n Protea of ’n oud-Protea op die raad te hê, sal goud vir ons werd wees.”

Mogodi hou ook vol dat Saskok se beplande taakspan verwelkom sal word, maar dat die lederaad gelas het dat KSA se raad en uitvoerende beamptes nié opsy moet staan terwyl die taakspan sy maand lange ondersoek doen, soos wat Saskok eis nie.

“Ons moet met hulle saamwerk. Die taakspan word verwelkom, maar die lederaad het eenparig besluit dat ons dit nie kan bekostig vir die raad en die uitvoerende personeellede om opsy te skuif nie, want wie gaan krieket bestuur vir daardie maand lange ondersoek van hulle? Dit is onprakties. Saskok moet ook vir die taakspan betaal.”

Saskok hou vol dat hy die volledige forensiese verslag wil sien, sonder om ’n vertroulikheidsooreenkoms te onderteken. KSA skop hierteen vas.

Die twee beheerliggame kon dus nog nie tot ’n vergelyk kom nie, maar kan moontlik dié week verdere samesprekings voer.

Meer oor:  Ksa  |  Krieket Suid-Afrika  |  John Mogodi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.