Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Pakistan beklink reeks teen Proteas

3de eendagwedstryd, Centurion

Pakistan 320/7 (50 bbe.)

SA 292 (49.3 bbe.)

• Pakistan wen met 28 lopies en die reeks met 2-1.

Die Protea-kolwer Janneman Malan maak Woensdag in die derde eendagwedstryd teen Pakistan op SuperSport-park skouers oop. Foto: Gallo Images

’n Gesukkel teen goeie draaiboulwerk op ’n stadige kolfblad met ’n uitgedunde span, spogbeurte deur Fakhar Zaman en Babar Azam en drie duur laaste boulbeurte het die Proteas Woensdag tot nóg ’n reeksnederlaag verdoem.

Die Proteas het vroeër vanjaar ook hul toets- én T20-reeks in Pakistan verloor, en sal hoop om ’n einde te maak aan ’n rits T20-reeksnederlae wanneer die T20-reeks teen Pakistan Saterdag op die Wanderers begin.

Suid-Afrika het sy laaste vier T20-reekse verloor.

Die Pakistanse draaier Mohammad Nawaz (regs) vier een van sy paaltjies met sy spanmaat Imam-ul-Haq. Foto: Gallo Images

Die hoop was uiteraard dat die span Woensdag ’n broodnodige reeksoorwinning kon verseker. Met vyf senior spelers in die Indiese Premierliga, asook die nuus die oggend dat Rassie van der Dussen las het van ’n bobeenspierbesering, het die Proteas se kanse uit die staanspoor verskraal.

Tog was daar optimisme, want die afwesigheid van Quinton de Kock en David Miller (albei IPL) het geleenthede vir twee opwindende kolwers, Janneman Malan en Kyle Verreynne, geskep, en hulle het nie teleurgestel nie.

Dit was onder die boulers waar die fout gelê het. Sonder drie wêreldklas-boulers soos Lungi Ngidi, Anrich Nortjé en Kagiso Rabada sou dit altyd ’n stryd wees.

In dié drietal se afwesigheid het Beuran Hendricks (0/38 in sewe boulbeurte), Lutho Sipamla (0/50 in ses bbe.) en Daryn Dupavillon (0/30 in vyf bbe.) gesukkel. Die blad het ook nie soveel vaart en wip getoon soos waaraan ’n mens op SuperSport-park gewoond geraak het nie.

Daarom moet die Protea-kaptein, Temba Bavuma, krediet kry. Hy het die toestande vinnig opgesom en sy draaiers die meeste van die boulwerk laat doen, selfs al is Aiden Markam en JJ Smuts net deeltydse draaiers.

Dit was Keshav Maharaj (3/45 in tien bbe.) wat die gety vir Suid-Afrika gedraai het, eers deur ’n vennootskap van 112 tussen die aanvangskolwers Imam-ul-Haq (57) en Zaman (101) te verbreek, en daarna om nóg ’n goeie vennootskap tussen Zaman en Azam (94) te verbreek deur eersgenoemde uit te kry.

Markram (2/48 in tien bbe.) het ook goed geboul, asook Smuts (1/67 in agt bbe.) voordat hy ’n allemintige 25 lopies in die voorlaaste boulbeurt afgestaan het.

Die laaste drie boulbeurte het 56 lopies vir Pakistan opgelewer en dít het Suid-Afrika op die ou end duur te staan gekom. Die Proteas het nogtans goed teruggeveg nadat dit tydens Zaman en Azam se vennootskap gelyk het of 350, 370 wink.

Die Proteas het ’n kans gehad.

Markram (18) is egter weer uit net toe dit lyk of hy aan die gang begin kom. Malan (70) het homself ingegrawe en daarna versnel, maar is op ’n belangrike tyd uit, net toe hy en Bavuma (20) ’n vennootskap begin bou het.

Hulle is albei deur die draaier Mohammad Nawaz (3/34 in sewe bbe.) uitgekry. Nawaz se draaivennoot, Usman Qadir (1/48 in nege bbe.), het die Suid-Afrikaanse kolwers ook gereeld met sy bybreke oorbluf.

Toe Nawaz kort ná Malan se paaltjie van Heinrich Klaasen ook ontslae raak, was dit neusie verby. Selfs al het Verreynne (62, 53 balle) en Andile Phehlukwayo (54) ’n puik vennootskap van 108 lopies om die sesde paaltjie gedeel, ’n rekord op SuperSport-park.

Dit is nou wel nog ’n reeksnederlaag, maar daar is tog positiewe aspekte waarop Mark Boucher, die afrigter, kan terugkyk. Soos Bavuma se kapteinskap, Van der Dussen en Miller se kolfwerk en Nortjé se boulwerk. Die groentjie-kolwers was Woensdag ook goed, sowel as Phehlukwayo. Die span het ook elke keer met sy rug teen die muur teruggeveg.

Boucher sal homself moet afvra of Maharaj nie dalk sy eerstekeuse-draaier in eendagkrieket, eerder as Tabraiz Shamsi, moet wees nie.

Klaasen, wat vroeër vanjaar erg siek was met Covid-19, moet ook nog weer sy verwoestende peil herwin. Dit was ook weer eens frustrerend om Markram in aksie te sien. Hy lyk altyd só goed – klassiek én brutaal, soos ’n kunstenaar en ’n ambagsman – maar hy kry dit om die een of ander rede nie reg om goeie beginne in groot tellings uit te bou nie. Sy tellings in dié reeks – 19, 39 en 18 – getuig daarvan. Malan en De Kock se goeie beurte sal die druk op Markram laat oplaai.

Maar ten minste het Boucher opsies wat sy toporde betref.

Die T20-reeks gee die span nou nóg ’n kans om ’n belangrike reekssege te verseker. Met die oog op die T20-Wêreldbeker-toernooi later vanjaar in Indië, is dit nóg belangriker as die pas afgelope eendagreeks.

Meer oor:  Pakistan  |  Krieket  |  Proteas  |  Centurion
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.