Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Pakistan ‘gevaarlik’ met Babar terug

Met Babar Azam terug in sy geledere en in sy tuistoestande, gaan die Pakistanse toetsspan ’n reuse-uitdaging aan die Suid-Afrikaners bied, sê Quinton de Kock.

Pakistan het pas ’n groot drag slae by die Kiwi’s in Nieu-Seeland gekry, maar sy besielende kaptein, Azam, het daardie reeks met ’n besering misgeloop.

Babar Azam gedurende Pakistan se toetsreeks in Suid-Afrika in 2019. Foto: Gallo Images

“Dit sal hulle help dat een van hul grootste spelers, Babar Azam, terugkeer. Hy het nie in Nieu-Seeland gespeel nie. Hulle gaan ’n ander span wees met hom in die geledere,” sê De Kock, die Protea-kaptein.

Azam word as een van die beste spelers in die wêreld bestempel – ’n kolwer wat in dieselfde geselskap as Virat Kohli, Steve Smith, Joe Root en Kane Williamson, die sogenaamde Groot Vier, genoem kan word.

“Hy het oor die laaste paar jare gewys hy is ’n topklas-speler. Dit is geen verrassing dat hy as een van die beste spelers in die wêreld gereken word nie. Hy vaar goed in al drie formate en hy word net beter en beter.”

Azam was Pakistan se beste kolwer toe hulle in 2019 in Suid-Afrika getoer het en het twee vyftigtalle aangeteken. In sy tuistoestande is hy verwoestend – hy het nog net in drie toetse in Pakistan gespeel en het in elk van daardie drie toetse ’n honderdtal aangeteken.

Toetskrieket het eers in 2019 na Pakistan teruggekeer en die Suid-Afrikaners weet dus nie presies wat om te verwag nie.

“Dit gaan taai wees om teen Pakistan in hul eie toestande te speel. ’n Groot uitdaging is die onbekendheid. As jy in Australië of Indië toer, weet jy wat om te verwag.”

Quinton de Kock in die onlangse reeks teen Sri Lanka. Aiden Markram (links) en Keshav Maharaj is agter hom. Foto: Gallo Images

Dit help natuurlik dat die Protea-afrigter, Mark Boucher, al op drie toere na Pakistan was.

“Ek is seker Bouch en van die ander afrigters wat al hier gespeel het, sal vir ons inlig oor wat om te verwag. Pakistan sal gemaklik wees om in hul eie toestande te kolf.

“Ons weet dat draaiboulwerk en omgekeerde swaaibeweging ’n groot rol speel in die subkontinent en ons sal daarvoor voorberei.”

Die Pakistani’s het drie draaibalboulers – Nauman Ali, Sajid Khan en Yasir Shah – in hul groep gekies en De Kock sien dit as ’n teken van wat hulle kan verwag.

“Ek is seker Pakistan sal ons met draaiboulwerk teiken. Dit is dalk waarom hulle twee bykomende draaibalboulers gekies het.

“Die feit dat hulle daardie spelers gekies het, wys watter tipe blaaie hulle wil voorberei. Ons sal aanpasbaar moet wees.”

De Kock het ook bevestig dat hy steeds op nr. 5 sal kolf, al het hy baie hooi op sy vurk met sy verantwoordelikhede as kaptein én paaltjiewagter.

Meer oor:  Babar Azam  |  Quinton De Kock  |  Pakistan  |  Toetskrieket  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.