Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Palmbome, wit strande en krieketballe

Jy kan sonder om hard te dink, ’n legio bestemmings opnoem wat nie naastenby so idillies soos die Seychelle is om jou voorbereiding vir ’n krieketseisoen te doen nie.

Die bouler Ruan de Swardt is een van die nuwelinge in die Titans se gekontrakteerde groep vir die komende seisoen. Foto: Gallo Images

Die Titans vertrek vandeesweek op ’n week lange toer na hierdie eilandbestemming om te slyp vir die seisoen wat op hulle wag.

Mark Boucher, afrigter, sê tussen al die skoonheid wat hulle daar gaan gade slaan, sal daar baie klem op fiksheid gelê word en dra hulle ook die beeld van die spel uit na die mense van die eiland.

Die Titans was in 2018 daar en ’n opvolgbesoek was vanselfsprekend.

“Die mense daar het ons baie goed ontvang en hulle het ’n behoefte aan krieket en om die spel te leer en uit te brei,” het sê Boucher.

“Ons wil ons deel doen om krieket daar te laat posvat en dit te ontwikkel,” sê hy.

Vir die Titans is dit ook ’n geleentheid om as span saamgesnoer te word en te midde van die natuurskoon hul doelwitte vir die plaaslike seisoen te vestig.

“Heelwat van ons spelers was betrokke by die nasionale spanne, maar ons was wel bedrywig in die afseisoen en het met van die spelers wat hier by ons was, gewerk.

“Ons stel vir ons kleiner doelwitte en voel dat indien ons dit bereik, die trofeë na hulself sal omsien,” sê hy.

Die enigste trofee wat die Titans verlede seisoen gewen het, was om as die eendagkampioen gekroon te word deur met die Dolphins in die eindstryd klaar te speel.

Die idilliese Seychelles gaan gasheer speel vir die Titans se voorseisoense oefenkamp. Foto: Argief

“Dit was nie die beste denkbare seisoen vir ons nie,” het Boucher toegegee, nadat hy in sy eerste twee seisoene by die Titans telkens twee van die reekse in plaaslike krieket gewen het.

“Hier by die Titans werk ons hard daaraan om nasionale spelers te kweek en dus skep ons eintlik ’n tweesnydende swaard.

“Met die nasionale spelers wat ons oplewer, word ons diepte eintlik blootgestel, deurdat ons heelwat spoelers aan hoër diens afstaan.

“Ons het dus hard en diep gedink aan die spelers wat ons het en daar is spelers gekontrakteer wat ons glo op plaaslike vlak sterk kan deurkom en vir ons van groot waarde kan wees,” sê hy.

Van die nuwe gekontrakteerde spelers is Marcello Piedt, Dayyaan Galiem, Matthew Arnold en Neil Brand.

Die groentjies in die groep is Ruan de Swardt en Kabelo Sekhukhune.

Volgens Boucher het hulle nie groot name as nuwelinge gekontrakteer nie, maar dit is spelers wat die pad na roem deur die Titans kan stap.

Titans-groep: Andrea Agathangelou, Matthew Arnold, Farhaan Behardien, Corbin Bosch, Neil Brand, Junior Dala, Henry Davids, Tony de Zorzi, Dayyaan Galiem, Heinrich Klaasen, Tshepo Moreki, Alfred Mothoa, Marcello Piedt, Grant Thomson, Jonathan Vandiar.

Groentjies: Ruan de Swardt, Kabelo Sekhukhune.

Gekontrakteerde spelers by Krieket Suid-Afrika (KSA): Quinton de Kock, Theunis de Bruyn, Faf du Plessis, Dean Elgar, Aiden Markram, Lungi Ngidi, Tabraiz Shamsi, Dale Steyn.

Meer oor:  Seychelles  |  Titans  |  Mark Boucher  |  Plaaslike Krieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.