
Pieter Malan Foto: Gallo Images
Die Protea-aanvangskolwer Pieter Malan het weens die Covid-19-maatreëls van toepassing op Suid-Afrikaners en omdat hy nog nie ’n visum het nie, die begin van die Engelse krieketseisoen misgeloop.
Hy is gekontrakteer by Warwickshire, wat sy veldtog in die graafskapkampioenskap Donderdag teen Derbyshire in Birmingham begin het.
Paul Farbrace, direkteur van krieket by die Bears, sê hulle kan nog nie presies sê wanneer hy daar verwag word nie.
Malan (31) moet eers tien dae in kwarantyn bly in ’n land wat nie op die rooi lys van Brittanje is nie.
Warwickshire kon volgens BBC Sport boonop nie sy visum-proses bespoedig nie.
Farbrace sê Malan se reisreëlings is ietwat van ’n tameletjie.
“Hoewel ons roetes en bestemmings vir hom identifiseer het vir sy kwarantyn om Brittanje veilig binne te gaan, het Pieter ongelukkig nog nie ’n visum gekry om die land binne te gaan nie.”
Warwickshire het intussen die Indiese kolwer Hanuma Vihari gekontrakteer totdat Malan hom by die graafskap sal aansluit.
Vihari sou Donderdag in Engeland aangekom het en kan dalk volgende week ná kwarantyn van ses dae teen Nottinghamshire ingespan word. – Sportredaksie