Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Tinus van Staden gesels met Andrew Breetzke
KSA: ‘Pasiënt’ effe beter, maar . . .

Die afgelope 12 tot 24 maande was krieket in Suid-Afrika ernstig siek.

’n Diagnose – en gevolglik grootskaalse veranderinge by Krieket Suid-Afrika (KSA) – is in Desember gemaak, maar die sport is steeds in die waakeenheid. Nou, sê Andrew Breetzke, moet die behandeling begin.

Andrew Breetzke, Saca se nuwe uitvoerende hoof, by Nuweland.Foto: Ashley vlotman | Gallo Images

As die Suid-Afrikaanse Krieketspelersvereniging (Saca) se nuwe uitvoerende hoof, staan Breetzke (50) reg langs die hospitaalbed met ’n medisynetas gereed om te help. Sodat krieket weer sonder ’n suurstofmasjien in Suid-Afrika kan asemhaal.

“Vandag is amptelik my eerste werksdag,” sê Breetzke Vrydag van Nuweland af, waar Suid-Afrika en Engeland sake in die tweede toets uitspook.

Saca het Breetzke op 6 Desember bevorder en aangestel om Tony Irish, wat ná 17 jaar by Saca na Engeland verhuis het om hul spelersvereniging te lei, van Januarie af te vervang.

Minder as ’n maand later en die krieketlandskap het handomkeer verander: KSA se vorige uitvoerende hoof, Thabang Moroe, is geskors en deur Jacques Faul vervang, verskeie raadslede het bedank, Graeme Smith is as direkteur van krieket aangestel en Mark Boucher as Protea-afrigter.

Die nuwe hoofstuk in Breetzke se lewe loop hand aan hand met ’n ganse nuwe krieketbegin.

“Daar het soveel in krieket gebeur sedert Desember, toe Tony die leisels stelselmatig aan my begin oorgee het,” sê Breetzke uit sy geboortestad.

Faul se teenwoordigheid maak die lewe vir Breetzke uit die staanspoor makliker ná ’n chroniese tandetrekkery met Moroe aan die stuur by KSA.

“Ons het al met Jacques vergader. Hy verdien krediet; hy het my op sy heel eerste dag in die pos gebel om te sê hy kom Kaapstad toe vir dié toets en sal graag met my wil gesels om die ys te breek. Dit was ons eerste konstruktiewe skakeling in twee jaar met KSA.”

Dit was twee jaar van aanhoudende rusie met ’n KSA-bestuur, onder leiding van Moroe, wat glad nie geneë was om met Saca saam te werk nie.

“Gegewe alles wat in die afgelope 10 tot 12 maande gebeur het: Ons dispuut met KSA, die feit dat hulle ons van komitees verwyder het . . . Ons was bly toe die kollig op daardie kwessies begin skyn het nadat vyf krieketskrywers se akkreditasie teruggetrek is.”

Dit is asof jy met ’n siekte gediagnoseer word: ‘Dankie tog, ek weet nou wat fout is met my.’

Die verhouding tussen Saca en KSA was septies. Breetzke wil dit nou help herstel.

“Nou sien ons uit na ’n konstruktiewe verhouding met KSA en om talle belangrike kwessies saam te takel. Vanweë alles wat in Desember gebeur het, staan ons nou voor ’n nuwe tydperk van samewerking.”

Dit beteken egter nie alles is nou klopdisselboom nie.

“Daar is baie mense wat gesê het dit is wonderlik dat al hierdie goed gebeur het, nou kan krieket weer krieket wees. Die realiteit is dat ons steeds met baie kwessies in Suid-Afrikaanse krieket sit.

“Dit is asof jy met ’n siekte gediagnoseer word: ‘Dankie tog, ek weet nou wat fout is met my.’ Maar die behandeling moet nou begin.” Breetzke wil ’n sleutelrol in die proses speel.

Die eerste groot saak wat sy aandag verg, is die hofgeding tussen Saca en KSA.

Saca het in Mei ’n aansoek om ’n hofbevel ingedien om te verhoed dat KSA plaaslike krieket van ses franchise-spanne tot 12 eersterangse spanne herstruktureer. Saca eis dat KSA die regte prosedures volg, soos uiteengesit in die partye se memorandum van verstandhouding. KSA het glad nie met Saca beraadslag oor sy besluit om te herstruktureer nie.

“KSA moet die besluit om na 12 spanne uit te brei, tersyde stel voordat ons kan praat oor hoe ’n nuwe struktuur moet lyk,” sê hy.

“Voordat jy daaroor kan praat, moet jy weet wat die werklike finansiële vooruitsig is vir die volgende vierjaarsiklus. Dit was ’n groot probleem vir ons, want toe ons begin vrae vra het oor die voorspelde verlies van R654 miljoen, is ons van komitees verwyder en geen inligting gegee nie. Die ondersoek moet steeds gebeur, sodat ons kan weet wat die ware vooruitskatting is.”

Breetzke verwag die saak sal in Februarie voorkom. Hy hoop vir ’n spoedige oplossing, want spelers se toekoms hang daarvan af.

“Daar moet duidelikheid verkry word oor die kontraktering van plaaslike spelers. Die huidige kontrakte eindig op 30 April en as daar geen duidelikheid is oor die struktuur van plaaslike krieket nie, kan daar nie duidelikheid wees oor kontrakte nie.

“Dit is nie goed vir krieket nie en dit is onregverdig teenoor die spelers.”

Dan is daar internasionale kwessies wat Breetzke hoop KSA as ’n lidland van die Internasionale Krieketraad (IKR) sal aanpak. Dié brandpunte sluit in die voorstel vir ’n nuwe jaarlikse “eendag-superreeks” tussen Indië, Engeland en Australië (die sogenaamde Groot Drie), iets wat Breetzke glo verreikende gevolge vir die ander krieketlande kan hê.

Hy is ook skepties oor die voorstel dat toetskrieket oor vier dae gespeel moet word.

“Die vraag is hoekom. Is dit sodat die ‘superreeks’ gespeel kan word?”

Hy is bly dat Irish steeds as die uitvoerende hoof van die internasionale spelersvereniging, Fica, dien en dus ’n regstreekse invloed op dié wêreldwye kwessies kan hê. Soos Breetzke praat, kom dit klokhelder deur dat hy enorme agting het vir Irish, wat Saca in 2002 saam met Jonty Rhodes gestig het.

“Tony is ’n reuseverlies, nie net vir Saca nie, maar vir Suid-Afrikaanse krieket. Hy het ’n magdom institusionele kennis, nie net oor die spelersvereniging nie, maar oor krieket in die algemeen. Dit is hartseer dat hy uit Suid-Afrikaanse krieket is.”

Irish het Breetzke, wat die afgelope sewe jaar Saca se regshoof was, onder sy vlerk geneem en voorberei vir dié pos. Daarom weet Breetzke hy is gereed vir die uitdaging.

Net soos Irish is Breetzke ook ’n gekwalifiseerde prokureur. Hy het sy regsgraad aan die Universiteit Stellenbosch verwerf en aanvanklik in arbeidsreg gespesialiseer, voordat hy hom op sportreg toegespits het, met ’n groot klem op opkikkergebruik. In dié hoedanigheid het sy pad met Irish s’n gekruis.

“Tony se nalatenskap is dat Saca baie sterk is. Ons het ’n sterk span en fantastiese programme. Ons het ’n sterk raad en dit help my. Ons het boonop onlangs vir dr. Mohammed Moosajee (voormalige Protea-spanbestuurder) gekry om op ons raad te dien.

“Ons uitvoerende spelerskomitee speel net so ’n belangrike rol, met Farhaan Behardien, Khaya Zondo en Mignon du Preez onder die leierskap van Omphile Ramela, wat die president is.

“Dit is dus nie net ek nie. Dit is ’n groot taak, veral met krieket wat ’n moeilike tyd beleef. Maar ek het goeie ondersteuning en sien uit na die uitdaging.”

Tuis het hy ook ’n sterk ondersteuningsbasis. Hy is getroud met Monica en hulle het twee seuns, Matthew, ’n tweedejaarregstudent aan Maties (nie die Warriors-kolwer met dieselfde naam nie, hoewel hy ook familie is) en Christopher, ’n matriekleerling aan Sacs.

In sy nuwe pos is Breetzke se doelwit om krieket uit die hospitaal te help kry.

“Ek mik na ’n tydperk van konsolidering in Suid-Afrikaanse krieket. Saca se missie was nog altyd om die belange van Suid-Afrika se beroepspelers te beskerm en te bevorder. Asook die van die spel. Dit voel asof ons die afgelope 12 maande die enigste organisasie was wat die belange van die spel wou beskerm.”

Hy wil na die spelers uitreik en by hulle tuisbring dat Saca om hul onthalwe daar is.

“My doelwit vir skakelings met spelers is om vir hulle te verduidelik watter belangrike rol Saca in hul lewe speel.

“Wat Saca so sterk maak, is dat die spelers agter die organisasie staan. Ons moet teruggaan na die spelers toe en sorg dat dit só bly. Die volgende jaar sal ons dus ’n spelersgefokusde aanslag volg.

“Saca het verander, want Tony, wat ’n bekende figuur is, is nie meer daar nie. So dit ís anders.”

Anders, maar steeds dieselfde. Steeds ’n kerngesonde instelling in ’n krank krieketlandskap. ’n Landskap wat Breetzke hoop om saam met die Faul’s en Smith’s en Ramelas van die wêreld te help gesond maak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.