Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Peterson: Ek’s hier om terug te ploeg

In ’n ideale wêreld sal die franchise-krieketafrigters kennis van die spel met mekaar uitruil vir die beswil van die nasionale krieketlandskap.

Dís Robin Peterson, tussentydse afrigter van die War­riors, se visie vir Suid-Afrikaanse krieket. Die voormalige Protea glo indien dit gebeur, sal die nasionale span die soet vrugte pluk.

Robin Peterson in sy speeldae vir die Warriors.Foto: Gallo

“Ons is dalk te veel daarop ingestel dat my span jou span moet klop, en sien nie die groter prentjie van kennis deel nie. Daardie balans moet daar wees, want uiteindelik moet Suid-Afrika daarby baat,” het Peterson die afgelope week op Nuweland gesê, waar hy die Warriors in sy eerste stryd as afrigter gebrei het teen sy voormalige span, die Cape Cobras.

Die Cobras word juis deur Peterson se goeie vriend Ashwell Prince afgerig, en volgens Peterson was dit goed dat hy met Prince idees kon uitruil. Dis te danke aan die band wat dié twee Baaise boorlinge sedert hul jong dae het.

“Ek kon opstap na sy spelers en met hulle gesels en my kennis deel, en hy het dieselfde met my spelers gedoen. Ons het ook idees uitgeruil en ná die dag se spel ’n koffie gekry en gesels.

“As ’n jong speler wil jy ook altyd daardie iemand hê om sy ervaring met jou te deel. Dis dalk iets wat gemis word in ons krieket: om voormalige spelers betrokke te hê. Ek het gevoel dis tyd om daardie rol te speel om spelers vinniger te help ontwikkel.

“Een van my doelwitte is om hulle soos internasionale krieketspelers te leer dink. Met die Warriors wat van die land se beste opkomende jong spelers het, het dit sin gemaak om hier te begin.”

Terwyl Peterson as afrigter nog nie veel ervaring op plaaslike vlak het nie, het hy in die buiteland sy afrigterstande geslyp by spanne in die Karibiese T20-liga en ook die Abu Dhabi T10-toernooi. Hy het in die Karibiese Eilande met die Barbados Tridents en St. Kitts & Nevis Patriots gewerk, terwyl hy die Northern Warriors in die T10-kompetisie bygestaan het.

Hy het ook as konsultant vir die Suid-Afrikaanse o.19-krieketspan gewerk.

Volgens hom was die tyd ryp om ’n professionele span af te rig. Al is dit net in ’n tussentydse hoedanigheid, is hy hoopvol dat dit ’n permanente posisie kan word.

“Ek is ’n PE-seun. Dit het dus sin gemaak om my plaaslike afrigtersloopbaan by die Warriors te begin.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.