Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Philander, De Bruyn speel dalk vir SA naasbestes

Vernon Philander en Theunis de Bruyn kan ter voorbereiding vir die komende toetsreeks teen Indië losgelaat word in Suid-Afrika A se tweede en laaste vierdagwedstryd teen Indië se naasbestes.

Vernon Philander vier die paaltjie van Ravindra Jadeja in sy enigste toets in Indië, in 2015 in Mohali. Foto: Getty Images

Daar is egter kommer oor die kolwer Zubayr Hamza se fiksheid vir dié wedstryd, wat Dinsdag in Mysore begin.

Hamza, wat 44 lopies in die tweede beurt van die eerste vierdagwedstryd in Thiruvananthapuram aangeteken het, het las van ’n kniebesering.

Hamza is, net soos Philander en De Bruyn, ook in die Protea-groep vir die reeks van drie toetse teen Indië in Oktober.

Nie Hamza (24) of De Bruyn (26) het al ’n toets in Indië gespeel nie. Die ervare Philander (34) het nog net een toets in sy loopbaan in Indië gespeel. In daardie toets in 2015 in Mohali het hy drie paaltjies laat kantel.

Philander en De Bruyn sal Suid-Afrika A se laaste toerwedstryd dus wil gebruik vir waardevolle slypkans om aan die toestande in Indië gewoond te raak.

Malibongwe Maketa, SA A se waarnemende hoofafrigter, sal egter hoop die teenwoordigheid van dié twee Proteas kan sy span help om ’n bietjie trots te herwin. Die naasbestes kon slegs een van hul vyf eendagwedstryde, wat elkeen deur reën beïnvloed is, wen.

Indië het die eerste vierdagwedstryd, wat ook deur reën beïnvloed is, gemaklik met sewe paaltjies gewen.

Maketa sal ook duimvashou dat Hamza se kniebesering hom nie uit die wedstryd sal hou nie, aangesien dié kolwer een van die min Suid-Afrikaners was wat in die eerste vierdagwedstryd iets teen die Indiese draaiers uitgerig kon kry.

Hamza word boonop gesien as ’n kolwer wat eendag Hashim Amla se plek op nr. 3 in die Protea-kolflys kan volstaan. Hoewel hy waarskynlik nog nie in dié reeks op nr. 3 sal kolf nie, sal hy steeds hoog in die kolforde instap.

In sy toetsbuiging – in Januarie teen Pakistan in Johannesburg – het Hamza ’n beurt van 41 lopies op nr. 5 gespeel.

Hy en De Bruyn kan saam met Temba Bavuma en Quinton de Kock die ruggraat van die Proteas se toetsmiddelorde in die komende paar jare vorm.

De Bruyn het in 2018 oplaas ná verskeie verspeelde kanse in die toetsspan sy staal met ’n honderdtal in Sri Lanka getoon. Hy sal hoop om in Indië op daardie spelpeil voort te bou.

Vir Philander sal hierdie waarskynlik sy laaste toer na Indië wees en hy sal ’n groot rol moet vertolk. Die vorige keer toe die Proteas in Indië was, was daar ervare spelers soos AB de Villiers, Dale Steyn en Amla in die span, wat sedertdien uitgetree het.

Philander is nou een van die leiers in die span en sal graag ’n bydrae met die bal en selfs die kolf wil lewer as hy die kans kry.

Terwyl van die ander Proteas soos Bavuma, De Kock en Kagiso Rabada in die T20-reeks teen Indië slypkans kry, kan Philander en De Bruyn nou saam met ander toetsspelers soos Aiden Markram en Lungi Ngidi saam met die A-span vir die toetsreeks voorberei.

Meer oor:  Vernon Philander  |  Indië  |  Toetskrieket  |  Theunis De Bruyn  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.