Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Piedt boul nie só vrot, sê Maharaj

Hy was versigtig om te sê sy twee draaiboulvennote, Dane Piedt en Senuran Muthusamy, het vrot geboul.

Die Suid-Afrikaanse draaier Keshav Maharaj dink liewer dit is ’n geval van Indië wat goed gekolf het.

Keshav Maharaj boul op die tweede dag van die eerste toets teen Indië. Foto: Gallo Images

“Ons het geweet die blad gaan mak wees in die eerste beurt en daarna sal dit verweer. Maar dinge het nie volgens plan verloop nie, ons kon nie die lopietempo in toom hou nie,” het Maharaj (3/189 in 55 boulbeurte) erken nadat Indië ’n yslike eerstebeurt-telling van 502/7 opgestapel het in die eerste kriekettoets in Visakhapatnam.

In antwoord hierop het die Proteas op 39/3 gesteier teen uitskeityd op Donderdag, die tweede dag van die toets.

“Ons moet nou eenvoudig kolf vir so lank as wat ons kan,” sê Maharaj.

Dié linksdraaier, wat kop en skouers bo sy vennote Piedt (1/107 in 19 bbe.) en Muthusamy (1/63 in 15 bbe.) uitgestaan het, sê dit was een van die moeilikste blaaie waarop hy nog geboul het.

“Dit is baie stadig. Jy kry stadige draai, maar dit voel asof die bal nie lekker deurskiet van die blad af nie. Daar was later, toe die bal ouer geword het, meer hulp. Daar is nou meer krake van die hitte.

“Ek sal nie sê die ander twee het swak geboul nie. Mayank (Agarwal, 215) en Rohit (Sharma, 176) het net baie goed gekolf. Dit is moeilik om iemand te veroordeel as ’n kolwer teen die kolfblad af gestap kom en jou oor jou kop slaan.

“Senuran is boonop ’n veelsydige speler wie se kolfwerk sy sterkpunt is, so ek dink sy bydrae in sy eerste toets was goed.”

Muthusamy het op ’n ietwat gelukkige wyse vir Virat Kohli (20) uitgekry.

“Die blad het ons nie soveel gehelp soos wat ons gedink het dit sal nie, dit het nie genoeg verweer nie,” sê Maharaj.

“Dit is moeilik om terug te kom as jou teenstanders ’n aanvangsvennootskap van meer as 300 lopies het.”

Tog bly die Proteas positief.

“Een sessie kan die gang van ’n wedstryd swaai. Dinge het nie volgens plan verloop nie, maar jy kan nie tob oor die negatiewe dinge nie.”

Meer oor:  Keshav Maharaj  |  Dane Piedt  |  Indië  |  Kriekettoets  |  Proteas  |  Draaiers  |  Senuran Muthusamy
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.