Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
'Plaaslike krieket moet die skuld kry'

Die skandes wat die Suid-Afrikaanse krieketspan deesdae maak, kan voor die deur van die gebrekkige plaaslike reeks gelê word, glo die eertydse snelbouler Fanie de Villiers.

De Villiers het Maandag gesê hy reken dat plaaslike krieket nou ongeveer 40 persent swakker daaraan toe is as wat dit 15 tot 20 jaar gelede was.

Dane Piedt in die eerste toets teen Indië in aksie. Dié wegbreekbouler kon nie sy sukses op franchise-vlak teen Indië herhaal nie. Foto: Gallo Images

“Kyk maar net hoe boelie ouens soos Aiden Markram en Theunis de Bruyn die boulers hier in ons reeks, maar op internasionale vlak nou daar in Indië is dit ’n heeltemal ander storie. Daar sukkel hulle teen boulers van internasionale gehalte om omtrent enige lopies aan te teken.

“Dieselfde geld ons boulers. Dane Piedt en Sunaran Muthasamy kry sakke vol paaltjies as hulle hier teen die plaaslike kolwers boul, maar wanneer hulle teen top-internasionale kolwers moet boul, het hulle omtrent geen impak nie,” sê hy.

“Waar is die dae wat jy teen ’n Noord-Transvaal gespeel het en met boulers soos Tertius Bosch, Sylvester Clarke en myself te doen gekry het. Nou is jy gelukkig as daar een bouler van naastenby daardie gehalte in ’n span is. Wat my betref is ons kolwers net eenvoudig nie voorbereid vir internasionale krieket nie.

Al die vingers wys daarna dat die slypskool op plaaslike vlak se standaard net so swak is dat jy nie regtig spelers van gehalte kan kweek nie.

“Dit is seker maklik om krities te wees, maar daar moet gedelf word om die redes te soek hoekom ons krieket in die posisie is waarin dit nou is.

“Al die vingers wys daarna dat die slypskool op plaaslike vlak se standaard net so swak is dat jy nie regtig spelers van gehalte kan kweek nie. Daar word ’n vals beeld geskep van hoe goed of dan eerder swak spelers is wat op die toneel verskyn. Dit lyk asof hulle wedstrydwenners is en hulle dink dan hulle kan uittroon op internasionale vlak,” sê De Villiers.

“Jy het ouens soos Stephen Cook en Heino Kuhn gekry wat hier op plaaslike vlak uitgestaan het, maar net nie op internasionale vlak daardie peil kon herhaal nie.”

Die voormalige Suid-Afrikaanse snelbouler Fanie de Villiers. Foto: Argief

De Villiers wonder ook of die nuwe tussentydse Protea-afrigter, Enoch Nkwe, iemand is wat regtig respek by die spelers kan afdwing.

“Ek het al gehoor van vorige afrigters van die nasionale span, wat ook as internasionale spelers hul deel bygedra het, maar deur van die spelers geminag is. Daar is vir hulle gesê die spelers sal hulself eerder afrig.

“Nou as jy sulke gevalle kry, hoeveel te meer sal die spelers nie neerkyk op iemand soos Nkwe, wat as speler nie op internasionale vlak gesien is nie en nie ’n statuur daar gehad het nie.

“Kyk jy nou net hoe die spelers onderling met mekaar baklei op die veld (Kagiso Rabada en Quinton de Kock-voorval), is dit geen wonder dat daar ’n duidelike gebrek aan respek is nie.

“Daar is duidelik in die spanopset baie meer intriges van die veld af ook as om bloot net te wil oordeel wat op die veld gebeur,” sê De Villiers.

Meer oor:  Krieket  |  Plaaslike Krieket  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.